Bo-aan die produksievoertuigkategorie-inskrywingslys vir die vyfde ronde van die kampioenskap, is die kampioenskapvoorlopers, Hannes Grobler en Francois Jordaan, in hul Trots Suid-Afrikaanse Nissan Hardbody. Hulle sal vir Grobler se teleurstelling laas jaar in Lesotho wil opmaak toe hy en sy navigator, Richard Leeke, verplig was om as gevolg van kragstuurprobleme die handdoek in te gooi nadat hulle tweede gelê het – net agter hul spanmaats, Duncan Vos en Hennie ter Stege wat die uiteindelike wenners was.
Hul grootste teenstand sal van hul Trots Suid-Afrikaanse Nissan Hardbody-spanmaats, Alfie Cox en Ralph Pitchford kom wat die laaste twee byeenkomste gewen het en tans tweede in die algehele kampioenskap is, 16 punte agter die voorlopers.
Derde algeheel en net ses punte agter, is Gavin Cronje en Robin Houghton in die Castrol-Toyota Hilux wat tweede in Klas D is. Cronje beleef tans sy beste veldrenjaar nóg en met die hulp van die ervare Houghton, ’n veelvuldige voormalige kampioen in die algehele navigatorkategorie, sal hulle nóg ‘n goeie resultaat najaag.
Kort op hul hake is die uiters bestendige Henri Zermatten en Bodo Schwegler (Mastercraft Ryobi-Mitsubishi Pajero) wat vir ‘n ongekende 18de ononderbroke resultaat sal mik.
Met net twee voertuie wat in die top produksievoertuigklas meeding (dit sal tydens die nuwe Polokwane-byeenkoms in September verander wanneer Ford, Nissan en Toyota na verwagting hul nuwe vierliterbakkies in die nuwe Superproduksieklas bekend sal stel), het Klas D-spanne tydens die onlangse byeenkomste telkens op die podium geëindig.
Net 17 punte skei die top vier deelnemers in dié klas en Manfred Schröder/Alec Harris (Span Ford Racing Ranger) asook Mark Cronje/Chris Birkin (Castrol-Toyota Hilux) deel die derde plek in die algehele kampioenskap terwyl hulle net sewe punte agter Zermatten en Schwegler is. ‘n Renlange stryd om die Klas D-louere asook ’n moontlik podiumposisie, kan Saterdag tussen dié vier spanne verwag word.
Ander Klas D-deelnemers wat ook ’n goeie kans op sukses het, is die Coca Cola-gesteunde BB Auto-spanne van Polokwane wat uit die broers, Arnold en Jurie du Plessis, in hul rooi Nissan Hardbody-bakkies bestaan. Beide jaers geniet die beste seisoene in ’n lang tyd en Jurie, saam met die derde broer, André as navigator, sal hul voorsprong van twee punte bo Arnold en sy navigator, Johan Knox, met hand en tand verdedig. Paolo Piazza-Musso en Ockie Fourie (Castrol-Toyota Hilux) asook Coetzee Labuschagne en Johan Gerber (Raysonics-Nissan Hardbody) sal ook vir goeie resultate in Lesotho hoop.
Goeie klaarmaakposisies tydens die eerste vier byeenkomste het gesorg dat Zane Pearce en Hennie Vosloo (Castrol-Toyota Hilux) met die halfpadmerk van die seisoen voor is in die Klas E-jaerskampioenskap. Hulle kan stewige teenstand van die huidige Klas E-kampioene, Hugo en Jaap de Bruyn verwag. Dié span het vanjaar effens gesukkel en sal hoop om die Lesotho Sun 400 klaar te maak nadat hulle nie punte tydens die laaste twee byeenkomste kon aanteken nie.
Ander Klas E-deelnemers om voor op die uitkyk te wees, is Chris Visser en Japie Badenhorst (Tyco Trucks-Toyota Hilux) wat dié klas tydens laas maand se Sun City-ren gewen het; die pa en seun-kombinasie, Dirk Sr en Dirk Jr van Reenen (Savannah-Ford Ranger); die Ford Racing-span van Baphumze Rubuluza en Khulile Vakalisa (Ford Ranger) asook Thomas Rundle/Stavros Yiannakis (Barden Tyre Services-Nissan Hardbody).
Daar was reeds vier verskillende algehele wenners in die Spesialevoertuigkategorie tydens die vier byeenkomste vanjaar en ’n wenner kan moeilik voorspel word. Terence Marsh en Michael Whitehouse (Nashua Mobile Racing-BAT Spec-1), wat die Nissan-handelaars 400 in April in die Wes-Kaap gewen het, was die bestendigste en is die voorlopers in Klas A waar hulle ses punte voor Botswana se Atang Makgekgenene en Buks Carolin is wat die Toyota 1000-Woestynren in Junie met hul Total-gesteunde Jimco gewen het.
Laasgenoemde span sal nie aan die Lesotho-byeenkoms deelneem nie en so ook nie die Sun City 400-wenners, Gerhard du Plessis/Ferdie Seegers (Jimco) nie. Dit los die pad oop vir die derdegeplaasde Giel Nel/Peter Newbery (Bosal LUK Ate-Zarco) en die vierdegeplaasde Will Battershill/Reg Sutton (Jimco) om hul kanse op die kampioenskap te verbeter.
Pa en seun, Nick en Ryan Harper (BAT-Audi); die wenners van die Nissan-Sugarbelt 400 wat die openingsronde van die seisoen in Maart was, Gary Bertholdt/Siegfried Rosseau (Advansoft iBurst-BAT) asook Bevan Bertholdt/Nick Selamolela (Advansoft iBurst-BAT Spec-1) sal ook graag hul slag wil wys.
Die veld vol sterk mededingers in die top klas sluit Shameer Variawa/VZ van Zyl (Total-Porter) in asook pa en seun, Rob en Gareth Wark (Superpave-Chenowth) en Clint Gibson en Marcelle Trethewey (Gibson Plant Hire-BAT).
Die ervare paar, Richard Schilling en Chris Davies (Plastotech-Aceco) is met 16 punte die Klas S-voorlopers en sal as die gunstelinge vir hul derde agtereenvolgende klasoorwinning wegspring, maar hulle kan sterk teenstand van Archie Rutherford en Vincent Horn (Sandmaster), wie se tweede posisie tydens die Sun City 400 hul beste resultaat tot dusver was, verwag.
‘n Reuse-stryd is besig om in Klas B te ontwikkel. Die huidige kampioene, Marcus Taylor en Marc de Chalain (JRE) geniet tans ’n voorsprong van ’n enkele punt bo die kampioenskapnuwelinge, Evan Hutchison/Trevor Ormerod (Motorite Racing-BAT-Nissan). Beide spanne het ’n oorwinning in die sak en beide spanne kon drie van die laaste vier byeenkomste voltooi.
Die broers, Rudi en Pierre van Graan (Technochair-Zarco) staan ook ’n kans en so ook John Thomson en Clinton McNamara (Mormond-Zarco Lite) asook David White in die eks-Giel Nel-enkelsitplek-Truggy wat al kampioenskappe gewen het.
Die Lesotho Sun 400 sal Vrydag, 5 Augustus om 13h00 in die Bergkoninkryk begin. Die 8 km-kortbaanroete sal dadelik met ’n 32 km-voorren opgevolg word. Die hoofren sal Saterdag, 6 Augustus om 08h00 by Matsieng naby Maseru begin wat ook as sentrale dienspunt (DSP) en die einde sal dien.