Die Castrol-Toyota-Veldrenspan beplan ’n groot aanslag vir die 25ste Toyota 1000-Woestynren, die derde ronde van die Absa-Veldrenkampioenskap wat van 3 tot 5 Junie in Botswana plaasvind, en gaan poog om die agterstand in die Klas D- en E-kampioenskappe uit te wis.
Die Klas D-deelnemers, Gavin Cronje en Robin Houghton, en hul Klas E-spanmaats, Zane Pearce en Hennie Vosloo, is die enigste Castrol-Toyota-spanne wat beide rondes van die kampioenskap tot op datum kon voltooi.
Cronje en Houghton het onderskeidelik vierde en derde met die Castrol-Toyota Hilux 2,7i in KwaZulu-Natal en die Wes-Kaap geëindig en is 15 punte agter Manfred Schröder en Alec Harris in die Ford Ranger in die Klas D-kampioenskap terwyl hulle vyfde in die algehele Produksievoertuigkampioenskap is.
“Die 2004-Toyota 1000 was die eerste ren wat Gavin in sy groentjiejaar voltooi het en dit is goed om te weet dat hy nou oor die ervaring en die spoed beskik om goed tydens vanjaar se ren te vaar,” het Robin Houghton, viermalige wenner van die Toyota 1000, gesê. “Fiksheid is baie belangrik en beide Gavin en ek het sedert die Nissan-handelaars 400 tyd by ’n sportterapeut en ’n voedingkundige deurgebring en ons kan reeds die verskil in ons vertoning voel en sien en dit behoort in ons guns te tel.”
Pearce het 29 punte in Klas E bymekaar gemaak deur tweede tydens die Nissan-Sugarbelt 400 te eindig en derde in die tweede ronde van die kampioenskap en is net sewe punte agter die Klas E-kampioenskapvoorloper, Hugo de Bruyn, in die privaatingeskrewe Castrol-Toyota Hilux 2,7i.
“Ek het die seisoen op ’n hoë noot afgeskop en glo dat ek die petrolaangedrewe Castrol-Toyota Hilux 2,7i nou ten volle verstaan,” het Pearce gesê. “Ek en Hennie het tydens laas jaar se Toyota 1000 sesde klaargemaak en ek glo dat ons op dié vertoning kan verbeter en ’n plek of twee van ons vorige sesde algehele plek in die Produksievoertuigkampioenskap kan opskuif.”
Die voormalige Klas E-kampioene en met een punt die naaswenners in die 2004-Klas D-kampioenskap, Mark Cronje en Chris Birkin, het die seisoen op ’n teleurstellende noot afgeskop en kon nie die Nissan-Sugarbelt 400 voltooi nie. Die paar het egter in die Wes-Kaap terugbaklei en in ’n welverdiende derde plek algeheel en tweede in Klas D klaargemaak ná ’n renlange stryd met hul aartsmededingers, Schröder en Harris in die kragtiger V6-aangedrewe Ford Ranger.
“Daar is net vyf punte tussen die drie Castrol-Toyota Hilux 2,7i’s van Gavin, Zane en myself en ek is nie té bekommerd daaroor om verlore punte in te haal en hulle in die stryd om die algehele Produksievoertuigkampioenskap verby te gaan nie,” het Mark Cronje gesê. “Ons eintlike mikpunt is Schröder en Harris wat 19 punte voor ons is en ek glo dat ons fiksheid en die betroubaarheid van die Hilux die wenkombinasie in Botswana gaan wees.”
Paolo Piazza-Musso en Ockie Fourie se seisoen het beroerd begin en die feit dat hulle twee renne nie kon voltooi nie, tel geensins in hul guns nie.
“Ons kampioenskap het ongelukkig begin, maar die afgelope maand is daar heelwat tyd spandeer aan die kleiner probleempies wat ons verplig het om te onttrek,” het Piazza-Musso gesê. “Die Toyota 1000 is ’n uiters taai byeenkoms en behalwe vir ’n voertuig wat goed voorberei is, moet die bestuurder en navigator geestelik en fisies vir die taak voorbereid wees en ek en Ockie is.”
Toyota Motorsport se Wammy Haddad is vol vertroue dat die span goed tydens die 25ste Toyota 1000-ren sal vaar.
“Laas jaar het al ons Castrol-Toyota Hilux 2,7i’s die eindstreep gehaal en ons het Klas E gewen,” het Haddad gesê. “Die voertuie is heeltemal oorgebou ter voorbereiding vir die byeenkoms en ek glo dat ons dieselfde sukses vanjaar kan behaal.”
“Wie weet, dalk kan een van ons Klas D-deelnemers nog algeheel wen ook.”