Ek en my vriende het ’n argument om die braaivleisvuur gehad oor die plasing van ’n remknyper op die remskyf. Party vervaardigers plaas die remknyper aan die voor-kant van die skyf (voor die as van die wiel), terwyl ander vervaardigers weer die remknyper agter die as plaas. Die braai-vleisvuur-werktuigkundige is oortuig dat ’n remknyper wat voor die as op die voorwiel geplaas word, verseker dat die voertuig se neus vas in die pad gedruk wanneer gerem word, terwyl ’n knyper agter die as op ’n voorwiel weer die neus sal lig. Sal daar ’n merkbare verskil in die remafstand wees, en waarom die verskil in posisie?
Piet Badenhorst, per epos
Antwoord: Dit maak geen verskil of die remknyper “voor” of “agter” die as van die wiel is nie. Die rede is dat die wrywing van die remblokkies teen die skyf ’n wringkrag-moment (torque moment) om die middellyn van die wiel (as) tot gevolg het en nie ’n krag wat vertikaal werk nie. Daar is natuurlik altyd ’n teenwringmoment teenwoordig (dink aan ’n helikopter wat agter ’n rotor het om die teenmoment van die hoof-rotor uit te kanselleer) wat ’n klein invloed op die bakwerk-posisie tot gevolg kan hê. Dit is egter minimaal in vergelyking met die gewigsverplasing na die vooras tydens die remproses. Die rigting van die remwringkrag-moment is dieselfde, maak nie saak of die remknyper voor of agter die as is nie. Dit maak sin, want as daar ’n groot voordeel was, sou alle vervaardigers se remknypers in dieselfde posisie gewees het. Die verskil het eerder te doen met verpakkingsvereistes.