Die Nissan-handelaars 400, die tweede ronde van die Absa-Veldrenkampioenskap wat op 22 en 23 April in die Darling-omgewing in die Wes-Kaap plaasvind, het hoë gehalte inskrywings gelok wat die plaaslike motorsport-entoesiaste met opwindende renaksie sal vermaak.
Die Trots Suid-Afrikaanse Nissan Hardbody-bakkies wat die byeenkoms in 2003 en 2004 oorheers het, sal vir die laaste keer in die Wes-Kaap in aksie wees ná ’n besluit van MSA se Veldrenvoertuigkommissie en die deelnemende vervaardigers om ’n nuwe Super-Produksieklas vanaf die Toyota 1000-Woestynren in Junie in werking te stel.
Die Nissan-aanslag sal deur die huidige Produksievoertuig-jaerskampioen, Hannes Grobler en Francois Jordaan, wat vir Giniel de Villiers genavigeer het toe hulle laas jaar die Nissan-handelaars 400 gewen het, gelei word saam met die huidige Klas D-kampioene, Alfie Cox en Ralph Pitchford.
Cox en Pitchford het almal in KwaZulu-Natal verbaas deur die voorren te wen en die ren vir die eerste 90 minute te lei voordat hulle deur ’n foutiewe battery gekniehalter is en die handdoek moes ingooi nadat die dryfas gebreek en die ratkas se olieverkoeler beskadig het. Die voormalige motorfiets-uithoukampioene behoort in hul element op die vinnige, sanderige paadjies in die Wes-Kaap te wees en kan heel moontlik met ’n verrassingsoorwinning vorendag kom.
Nissan-Sugarbelt 400-wenners, Neil Woolridge en Kenny Skjöldhammer van die Span Ford Racing Ranger, sal nie vir die ren aantree nie. Die bestuur het besluit om alle aandag daaraan te skenk om die nuwe Klas SP-voertuie vir Woolridge en Skjöldhammer en die Klas D-wenners in KwaZulu-Natal, Manfred Schröder en Alec Harris, te ontwikkel en voltooi.
André Botha en die veteraan, Richard ‘Ouboet’ Carolin sal die derde Klas F-inskrywing wees en dié span sal beurte agter die stuur van die Kopanong Hotel Superteam-Chevrolet Silverado maak.
In Klas D kan ’n taai stryd ontwikkel en die voorlopers in dié kampioenskap, Manfred Schröder en Alec Harris, in die Span Ford Racing Ranger is die span om te klop. Span Castrol-Toyota sal drie Hilux 2,7i-modelle in die veld hê en wel vir die Klas D-wenner van laas jaar se Nissan-handelaars 400, Paolo Piazza-Musso en Ockie Fourie, vir Mark Cronje en Chris Birkin en vir Gavin Cronje en Robin Houghton. Dit sal Gavin Cronje se eerste veldrenbesoek aan die Wes-Kaap wees en net soos die res van die span, sien hy daarna uit om ’n goeie resultaat met dié hoëspoed-byeenkoms te behaal. Pa en seun, Cliff en Louis Weichelt in die Bosal / N1 4x-Toyota Hilux V6 sal waardevolle ondersteuning aan die Toyota-aanslag verleen.
Nissan se Klas D-aanslag sal van ’n horde privaatspanne kom met die BB Auto-spanne van Pietersburg wat ’n dubbelkajuitbakkie vir Arnold du Plessis en Johan Knox en ’n enkelkajuitbakkie vir die broers, Jurie en André du Plessis, ingeskryf het. Deon Schoeman en Jan Sime sal graag daarvoor wil opmaak dat hulle nie met hul Topcar-Nissan Hardbody-dubbelkajuitbakkie die Nissan-Sugarbelt 400 in KwaZulu-Natal kon voltooi nie en só ook Coetzee Labuschagne en Johan Gerber in die Raysonics-Nissan Hardbody-enkelkajuitbakkie.
Die wenners van die 2004-Mylpaaltoekenning, Henri Zermatten en Bodo Schwegler, sal weer eens in die Mastercraft / Ryobi-Mitsubishi Pajero in aksie wees en daar kan van hulle verwag word om ’n goeie resultaat te lewer en die tien punte wat hulle in die Algehele Produksievoertuigkampioenskap ingesamel het, te vermeerder. Die broers, Mark en Stuart Moffat, sal in die Bosal / N1 4×4-Land Rover in aksie wees.
Toyota domineer in Klas E waar die huidige kampioene, Hugo en Jaap de Bruyn, reeds hul eerste klasoorwinning van die seisoen aangeteken het. Hugo en sy pa, Jaap, het vierde algeheel tydens laas jaar se Nissan-handelaars 400 klaargemaak en Klas E in hul Castrol-Toyota Hilux 2,7i gewen en hulle kan weer met ’n reuse-vertoning na vore tree. Zane Pearce en Peter Chadwick het tweede in KwaZulu-Natal geëindig en dié Castrol-Toyota-span se vertoue het ’n goeie hupstoot gekry en dit behoort tot hul voordeel in die Wes-Kaap te tel.
Die Ford Racing-ontwikkelingspan, Baphumwe Rubuluza en Khulile Vakalisa, het hul vuurdoop laas jaar oorleef toe hulle hulself minstens drie keer uit die dik sand moes grawe. Hulle het egter steeds 11de algeheel en derde in Klas E tydens hul veldrendebuut geëindig. Die besigheidsmanne van Pietermaritzburg mik vir ’n podiumposisie tydens die Nissan-handelaars 400.
Pa en seun, Dirk van Reenen en Dirk van Reenen Jr, was derde in Klas E tydens die Nissan-Sugarbelt 400 en hoop vir nóg ’n goeie vertoning in die dieselaangedrewe Savannah-Ford Ranger.
Thomas Rundle en Stavros Yiannakis het hul Toyota vir ’n Nissan verruil en sal dié seisoen met die Barden Tyre Services-Nissan Hardbody deelneem. Die nasionale kampioenskap-nuwelinge het goed tydens die Nissan-Sugarbelt 400 gevaar totdat ’n stukkende alternatorbelt hulle verplig het om die stryd gewonne te gee.
Die grootste hoeveelheid inskrywings is in die Spesiale Voertuigkategorie wat heelparty nuwe en uiters kragtige voertuie soos die BAT Spec 1-modelle insluit met Bevan Bertholdt en Terence Marsh agter die stokke.
Atang Makgekgenene, die 2003 en 2004-wenner, is nou in Londen gebaseer en daar is gerugte dat hy dit oorweeg om aan dié byeenkoms deel te neem. Hy en sy navigator, Buks Carolin, is die huidige Spesiale Voertuigkampioene en hul teenwoordigheid sal die kompetisie beslis ontsenu.
Mark Corbett, wat tweede in verlede jaar se wedren geeindig het in die Century Property Developments-BAT, en Juan Möhr, sal terug in aksie wees nadat hulle die KwaZulu-Natal-byeenkoms gemis het en het heelwat om in die Spesiale Voertuigkampioenskapstryd in te haal.
Die wenners van die Nissan-Sugarbelt 400, Gary Bertholdt en Siegfried Rousseau, is glad nie ontsteld oor Corbett en Makgekgenene se teenwoordigheid nie en glo dat hulle ’n sielkundige voorsprong op hul teenstanders het. Hul Advansoft-BAT is uitgesorteer en kan selfs van die kragtiger voertuie soos sy broer, Bevan Bertholdt en Nick Selamolele se Chev LS-1-aangedrewe Itec-BAT Spec-1 wat ’n topspoed van 220 km/h kan haal, klop.
Die Nissan-Sugarbelt 400-naaswenners, John Moore en Graham Maclachlan, kom uit ’n agtergrond van veldrenmotorfiets-uithourenne en soos Woolridge, Skjöldhammer, Cox en Pitchford, beskik hulle oor die vermoë om die padtoestande beter as die meeste van die ander deelnemers te lees. Dié span sal hul ondervinding en die betroubaarheid en verrigting van die Connix Internet-Chenowth goed kan gebruik.
Ander Klas A-deelnemers sluit Clint Gibson en Marcelle Trethewey in die Gibson Plant Hire-BAT in asook die 2004-Lesotho Sun 400-wenners, John Weir-Smith en Geoff Minnitt in die Kopanong Hotel Superteam-Jimco; Terence Marsh en Michael Whitehouse in die Nashua Mobile-BAT Spec-1; Shameer Variawa en VZ van Zyl in die Porter; pa en seun, Rob en Gareth Wark, in die Superpave-Chenowth en Giel Nel en Peter Newbery in die Subaru-aangedrewe LUK / Ate-Zarco Lite.
Die uiters mededingende Klas B beloof om ’n kookwater-stryd op te lewer met die hoofspelers die Klas B-kampioenskapvoorlopers, Evan Hutchison en Trevor Ormerod in die Motorite-BAT; die huidige Klas B-kampioene, Marcus Taylor en Marc de Chalain, wat tydens die Nissan-Sugarbelt 400 tweede ná die BAT-span klaargemaak het; Adri Roets en Deon de Kok in die Gearbox and Diff Centre-WPP wat die klas laas jaar gewen het en die Wes-Kaapse pa- en seun-span, Bez en Deon Bezuidenhout in die Adenco-Sandmaster.
Die Zarco Lite-brigade van Hendrik en Louis Fourie; John Thomson en Clinton McNamara (Mormond-Zarco Lite) en die broers, Rudi en Pierre van Graan (Technochair-Zarco Lite) sal met die Century Property Developments-BAT van Ernest Corbett en sy skoonseun, Warwick Goosen, David White in die eks-Giel Nel-Truggy en Gerhard en Zelda Niemandt in die nuwe Promotorsport ORCO swaarde kruis.
Klas S vir spesiale voertuie wat met ’n balk-as- en sleeparmveringstelsel voor toegerus is, sluit Nardus Alberts en Collin Hunter in die Wrapsa-Raceco in sowel as Nic Goslar en Jacob Robbetze in die Kopanong Hotel Superteam-Raceco.
Die CPMCC het ’n aanskoulike 115 km-roete uitgelê wat die deelnemers Saterdag drie keer moet voltooi en motorsport-entoesiaste sal die Produksie- en Spesiale Voertuie verskeie kere by spesifieke toeskouerpunte kan sien.
Die Nissan-handelaars 400 begin Vrydag, 22 April, om 13h00 met ’n 42 km-voorren wat die wegspringposisies bepaal en die hoofren begin Saterdag, 23 April, om 08h00 by die Darling-klub.