Die jongste jaer in die SA Veldrenkampioenskap wat deur Absa aangebied word, Scott Abraham (22), sal vir oulaas in die Atlas Copco/Chicago Pneumatic-Jeep tydens die Sun City 400-veldren op 26 en 27 September deelneem.
Abraham, wat sy debuut dié jaar as ‘n jaer gemaak het, het ‘n werksaanbod by New Dimension X-Raid in Duitsland wat met die BMW X5’e in die FIA World Cup vir Cross Country Rallies en die Dakar deelneem, aanvaar en vertrek kort na die ren na Duitsland.
Scott, met ‘n B.Komm. Bemarkinggraad agter sy naam, het na die Toyota 1000-Woestynren vyf weke by die span deurgebring waartydens hy by die voorbereiding van die voertuie betrokke was. Dié voertuie word deur tweemalige FIA Wêreld-Groep N-Tydrenkampioen, Gregoire de Mevius, asook die voormalige Wêreldkampioen in Afdraand-ski, Luc Alphand, en Khalifa Al Mutaiwei bestuur. Hy sal hoofsaaklik by die voorbereiding van Alphand se BMW X5 betrokke wees. Dié Fransman het onlangs die Spaanse Baja-titel voor die neuse van sy spanmaats, Al Mutaiwei en De Mevius wat onderskeidelik tweede en vierde geëindig het, met dié voertuig opgeraap.
“Ek is nogal hartseer dat ek nie meer die ‘rooi monster’ sal kan bestuur nie, maar hierdie is ‘n droom wat vir my waar geword het en ek kan nie wag om na die span in Trebur Astheim, ongeveer 30 minute van Frankfurt, terug te keer nie,” het Abraham gesê. “New Dimension X-Raid is ‘n uiters professionele span wat baie goed bestuur word en ek is trots daarop om met ‘n organisasie geassosieer te word wat wedrenne kan wen.”
“Wanneer ek na my nuwe tuiste terugkeer, sal dit harde werk wees om die BMW’s vir die UAE-Uitdaging wat in Oktober in Dubai plaasvind, voor te berei en dan begin die voorbereiding vir die Dakar 2004 in alle erns,” het Abraham bygevoeg. “Daar is ‘n sterk moontlikheid dat ek aan boord van een van die T4-volgvragmotors sal wees en ten spyte van die lang ure in die sitplek en die harde werk wat by elke kampplek wag, sal dit ‘n ongelooflike ondervinding vir my wees.”
Daar sal na die Sun City 400 besluit word wie Richard Carolin se spanmaat in die Atlas Copco/Chicago Pneumatic Jeep tydens die oorblywende twee renne van die SA Veldrenkampioenskap wat deur Absa aangebied word, sal wees.