Die grootpratery tussen die veldrenveterane, Richard Schilling en Buks Carolin was uiteindelik niks meer as ‘n effense mompeling tydens die Nissan-Handelaars 400, die eerste ronde van die Absa-Veldrenkampioenskap wat onlangs by Darling in die Wes-Kaap gehou is, nie.
Die veterane, wat tussen hulle al sewe nasionale kampioenskappe gewen het, het ‘n vriendelike weddenskap by elke byeenkoms aan waar die verloorder ‘n tjek van R1 000 aan hul genomineerde liefdadigheidsorganisasie, Sunfield Homes in Muldersdrift, moet oorhandig.
Schilling en Ashely Thorn (Plastotech-Raceco) het vroeg reeds ‘n goeie hou ingekry toe hulle in vergelyking met hul teenstanders, Carolin en Archie Rutherford, ‘n skoon lopie tydens Vrydag se voorren gehad het. Die Nashua Mobile-Raceco het sy dryfbelde verloor en Carolin moes daarmee verlief neem om in die 41ste plek weg te spring – 28 posisies agter Schilling.
Schilling en Thorn het voordeel uit hul uitstekende wegspringposisie getrek en het ‘n gerieflike voorsprong in Klas S vir beperkte Spesiale Voertuig met ‘n sleeparmveringstelsel voor opgebou, maar soos die geluk dit wou hê, het die ratkas 140 km in die ren halt geroep en was hulle verplig om die handdoek in te gooi.
Al wat Carolin vir ‘n oorwinning moes doen, was om die gestrande span verby te gaan en dit het hy dan ook gedoen – net om as die voorloper in Klas S 30 km voor die einde met ‘n geblaasde enjin te gaan staan.
Dit was ‘n duur naweek vir dié twee teenstanders, maar in Schilling se geval, was die rekening R1 000 meer met Sunfield Homes wat die wenner was.
Die stryd sal tydens die Nissan-Sugarbelt 400 wat op 23 en 24 April in die Eston-omgewing naby Pietermaritzburg plaasvind, voortgesit word.