Die Absa-Veldrenkampioenskap, bestaande uit agt byeenkomste, het die halfpadmerk tydens die Sun City 400 bereik en baie deelnemers het hul voorloperposisies in die Produksie- en Spesiale Voertuigklaskampioenskappe gekonsolideer terwyl ander uiteindelik hul aanslag op die kampioenskap begin het.
Daar was heelwat wipplankbeweging in die Produksievoertuigkampioenskap met die Nissan-Handelaars 400- en Sun City 400-wenners, Giniel de Villiers (wat die Toyota 1000 as gvolg van ‘n elmboogbesering gemis het) en Francois Jordaan in die Trots Suid-Afrikaanse Nissan Hardbody wat twee plekke opbeweeg het tot in die derde posisie.
Die voormalige Produksievoertuigkampioene het 114-punte bymekaargemaak en is nou net 36 punte agter hul spanmaats en kampioenskapvoorlopers, Hannes Grobler en Richard Leeke. Die huidige kampioene het die kragstuur in die voorren seergemaak en moes in die 54ste plek wegspring, maar ná ‘n moedige ren was hulle die derde voertuig oor die streep.
Neil Woolridge en Kenny Skjöldhammer was tweede algeheel in die Ford Racing Ranger om hul tweede posisie in die kampioenskap te behou – 18 punte agter Grobler en Leeke. Die Ford-span is een van slegs vier Produksievoertuigspanne wat al vier renne tot dusver kon voltooi.
Die voorlopers in die Klas E-kampioenskap, Hugo en Jaap de Bruyn (Castrol-Toyota Hilux 2,7i) se reeks van drie agtereenvolgende Klas E-oorwinnings is deur Hein Moolman en Cecil Fincham in die 4×4 Mega World-Toyota Hilux KZ-TE beëindig en hulle moes met ‘n derde Klas E-posisie in die Pilanesberg tevrede wees. Die besigheidspaar van Vryburg het tot in die vierde posisie in die algehele kampioenskap teruggeval, maar het steeds ‘n stewige voorsprong in die Klas E-kampioenskap. Intussen het die Lichtenburg 200-wenners, Moolman en Fincham, 11 plekke in die algehele kampioenskap opgeskuif en hulle is nou vyfde in die Klas E-kampioenskap.
Alfie Cox en Ralph Pitchford het ‘n posisie gewen toe hulle hul derde agtereenvolgende Klas D-oorwinning behaal het en vierde algeheel tydens die Sun City 400 in die Arnold Chatz Cars-Nissan Hardbody geëindig het. Cox en Pitchford het ‘n voorsprong van 19 punte oor Henri Zermatten en Bodo Schwegler (Mastercraft/Playstation-Pajero) wat sesde en tweede in onderskeidelik die algehele en Klas D-kampioenskappe is.
Die huididge Klas E-kampioene, Mark Cronje en Chris Birkin kon nie die Sun City 400 voltooi nie as gevolg van hul Castrol-Toyota Hilux 2,7i se ratkasprobleme en dit het hulle van die vierde na die sewende posisie in die algehele kampioenskap en van eerste na derde in die Klas D-kampioenskap laat terugval.
Die Van der Walt-egpaar (Nissan Hardbody) het ‘n plek gewen ná nóg ‘n bestendige vertoning en is agtste in die algehele kampioenskap en tweede in Klas E terwyl die Trots Suid-Afrikaanse Nissan-span, Duncan Vos en Hennie ter Stege tot die negende plek in die algehele kampioenskap beweeg het.
Ford se ontwikkelingspan, Baphumze Rubuluza en Khulile Vakalisa was baie teleurgesteld nadat hulle nie die ren betyds kon voltooi nie – en dίt nadat hulle vir agt kilometer in trurat gery het. Met ongeveer 100 m oor voor die eindstreep het Rubuluza beheer oor die Ford Ranger verloor en dit het op ‘n boom te lande gekom. En met geen vierwielaandrywing tot hul beskikking nie, was dit die einde van hul ren, maar dit het hulle duur te staan gekom aangesien hulle van die agtste tot die tiende plek in die algehele kampioenskap en van tweede na die derde plek in Klas E geval het.
André Botha en Beans Heydenrych is die voorlopers in die Klas F-kampioenskap nadat hulle hul eerste punte vir die seisoen aangeteken het deur 18de algeheel en eerste in Klas F in die Kopanong Hotel Superteam-Chevy te eindig.
Drie algehele oorwinnings nádat hy vier renne begin het, het gesorg dat Atang Makgekgenene met 135 punte voor is in die Spesiale Voertuigjaerskampioenskap terwyl Buks Carolin, wat die Total-Jimco gedurende die Toyota 1000 en die Sun City 400 met Makgekgenene gedeel het, van die vyfde na die eerste posisie in die Navigatorskampioenskap opgeskuif het.
Bestendige vertonings deur die veteraan, Nick Harper en Andrew Chalupsky (BAT) het aan hulle 88 punte besorg en hulle het van die vierde tot die tweede plek in die algehele kampioenskap beweeg en is ook die voorlopers in die Klas A-kampioenskap vóór Mark Corbett wat nie die Toyota 1000 of die Sun City 400 in die Century Property Developments-BAT kon voltooi nie.
Die KwaZulu-Natal-span, Clint Gibson en Mike Brown, het na die vierde plek in die algehele kampioenskap teruggeval met Gibson vierde en Brown derde in die Klas A-jaers- en navigatorskampioenskappe onderskeidelik. Ten spyte daarvan dat hulle nie die Sun City 400 kon voltooi nie, is Adri Roets en Deon de Kock steeds die Klas B-voorlopers en kon hulle hul vyfde plek in die algehele kampioenskap kon behou – maar ook net-net. Shameer Variawa en Nadeem Dudhia het koppelaarprobleme op hul Oven Fresh Biscuits-Porter oorkom om derde algeheel in die Spesiale Voertuigkategorie te eindig en het opgeskuif tot ‘n enkele punt van Roets en De Kock in die Global DAD-WPP af.
Die broers, Hamish en Alastair Stubbs het vier plekke in die algehele kampioenskap opgeskuif en is net vier punte agter die Klas B-voorlopers na twee bestendige vertonings in die Fence Erect-Viper terwyl die huidige Spesiale Voertuigjaerskampioen, Giel Nel (Luk/Ate-Truggy) wat in die 19de plek was, uiteindelik sy kampioenskapaanslag aan die gang gekry en tot die agtste posisie algeheel en derde in Klas B opgeskuif het.
Die voormalige Klas B-kampioene, Marcus Taylor en Marc de Chalain, kon twee renne in hul JRE nie voltooi nie en dit het hulle tot die negende posisie algeheel en vierde in Klas B laat terugsak met die Nissan-Sugarbelt 400 se Klas B-wenner, Gary Campbell, 10de algeheel en vyfde in Klas B.
Die Klas S-kampioenskap was vóór die Sun City 400 ‘n kampioenskap tussen net twee spanne met een span wat vir die res van die seisoen nie aktief sal wees nie. Nic Goslar en Warren Bowie het teen ‘n hoë spoed met hul Kopanong Hotel Superteam-Raceco teen ‘n rots gebots en Goslar het ruggraatbeserings opgedoen met die gevolg dat hy nie vir die res van die seisoen sal kan deelneem nie. Dit laat die pad oop vir die Klas S-kampioenskapvoorlopers, Mohammed Noble en Richard Hope in die Abe’s Furniture-Raceco om op hul 31 punt-voorsprong bo die res van die Klas S-mededingers voort te bou.
Die volgende ren op die Absa-Veldrenkampioenskapkalender is die Lesotho Sun 400 wat op 20 en 21 Augustus by Maseru begin en eindig.