‘n Nuwe byeenkoms, voorlopig bekend as die Lesotho Mountain Kingdom 400, sal sy verskyning op 20 en 21 Augustus op die Absa-Veldrenkampioenskapskalender maak en die Queen Motor Spares-Tarka 400 vervang.
“Die Settler-Veldrenklub wat die Tarka 400 organiseer, het ons onlangs ingelig dat nie vir hulle moontlik sal wees om dié byeenkoms op die geskeduleerde tyd te organiseer nie,” het die President van MSA se Veldrenvoertuigkommissie, Piet Swanepoel, gesê. “Ons het probeer om die Tarka 400 te herskeduleer, maar dit was ongelukkig onmoontlik en ons het besluit om ‘n voorstel wat ons van die Lesotho-Veldrenassosiasie ontvang het om ‘n byeenkoms in Lesotho aan te bied, te ondersoek.”
“Daar is onlangs ’n paar vergaderings in Lesotho met hooggeplaaste regeringsamptenare, die staatsuitsender, moontlike borge en die Lesotho-Veldrenassosiasie gehou en MSA se Veldrenvoertuigkommissie Exco is tevrede dat die nodige mannekrag, logistiese en finansiële ondersteuning bestaan om te verseker dat die byeenkoms ‘n sukses sal wees.”
Die Lesotho Mountain Kingdom 400 sal in Maseru gebaseer wees en sal gesamentlik deur die Lesotho-Veldrenassossiasie en lede van MSA se Veldrenkommissie Exco en lede wat deur die Exco aangewys sal word georganiseer word terwyl die veelvuldige Dak van Afrika-wenners, Richard Schilling en Ashley Thorn wat in Lesotho gebaseer is, met die roetebeplanning betrokke is.
Die formaat van die byeenkoms sal van ander byeenkomste verskil deurdat ‘n kort kompetisiegedeelte op ‘n kunsmatige kortbaan by die renbaan waar die Dak van Afrika in die verlede geëindig het, sal plaasvind en dit sal gevolg word deur die voorren van ongeveer 35 km suid van Maseru die Vrydag.
Saterdag se hoofren sal uit twee sirkelroetes van ongeveer 180 km betaan en sal uitmergelende en uiters tegniese gedeeltes in die laerliggende gebiede insluit.
“Die roete sal beslis nie vinnig wees nie en in ware Dak van Afrika-tradisie, sal dit ‘n toets vir man en masjien wees,” het Peter Luck van die Lesotho-Veldrenassossiasie gesê. “Opwinding is reeds besig om op amptelike en publieke vlak te groei in die vooruitsig dat die Produksie- en Spesiale Voertuie na Lesotho, waar veldrenne per slot van rekening vir die eerste keer in 1967 begin het, terugkeer.”
Die Lesotho Mountain Kingdom 400 sal die vyfde ronde van die Absa-Veldrenkampioenskap vorm en ‘n groot getal inskrywings word verwag.