Met nog net twee renne in die Absa-Veldrenkampioenskap oor, is dit steeds nie ’n uitgemaakte saak wie die algehele Produksievoertuig- of Spesiale Voertuigkampioenskappe gaan wen nie.
Daar is vier moontlike wenners in die gesogte Produksievoertuigkampioenskap met die huidige kampioene, Hannes Grobler en Richard Leeke in die Trots Suid-Afrikaanse Nissan Hardbody wat ’n skrale agt punt-voorsprong bo hul spanmaats en voormalige kampioene, Giniel de Villiers en Francois Jordaan, het. Grobler en Leeke het drie oorwinnings agter hul name terwyl De Villiers en Jordaan twee ingesamel het.
Nóg ’n Nissan-span, Alfie Cox en Ralph Pitchford in die Arnold Chatz Cars-Nissan Hardbody, het vyf agtereenvolgende Klas D-oorwinnings behaal en 165 punte bymekaargemaak en kan heel moontlik die kampioenskap inpalm indien die fabriekspanne tydens die Toyota-Handelaars 400 in Mpumalanga of die Carnical City Casino 400 in Gauteng onderskeidelik in Oktober en November ’n voet verkeerd sit.
Die Ford Racing-span van Neil Woolridge en Kenny Skjöldhammer kon nog nie vanjaar ’n ren wen nie, maar hul bestendigheid betaal en hulle is vierde en slegs 30 punte agter die voorlopers in die algehele en Klas T-kampioenskappe.
Met die Klas T-veld wat nou net uit drie voertuie bestaan, is dit onwaarskynlik dat ’n Klas D-span vir ’n verrassing kan sorg en die titel voor enige van die groot kanonne kan wegraap. Cox en Pitchford kan nie bekostig om te ontspan nie, want die huidige Klas E-kampioene, Mark Cronje en Chris Birkin staan steeds ’n kans om ’n tweede klaskampioenskap in te palm indien die Nissan-span nie die volgende twee renne voltooi nie. Cronje en Birkin se viersilinder-Castrol-Toyota Hilux 2,7i is deur die kragtiger V6-aangedrewe Nissan- en Ford-voertuie oorheers en hulle sal op hul betroubaarheid moet staatmaak indien hulle twee agtereenvolgende kampioenskappe bymekaar sal wil maak.
Die sesde geplaasde Hugo de Bruyn en sy pa, Jaap, het reeds die Klas E-kampioenskap in hul Castrol-Toyota Hilux 2,7i gewen en met die tweede geplaasde Neels van der Walt buite aksie vir die afsienbare toekoms as gevolg van rugbeserings wat hy opgedoen het toe hy en sy vrou, Zelda, met hul Nissan Hardbody tydens die Mafikeng 500 in ’n donga beland het, sal die stryd om die tweede en derde plekke tussen twee Klas E-spanne wees.
Ford se ontwikkelingspan, Baphumze Rubuluza en Khulile Vakalisa, Hein Moolman en Cecil Fincham (4×4 Mega World-Toyota Hilux KZ-TE), die nuweling Gavin Cronje en Robin Houghton (Castrol-Toyota Hilux 2,7i) en die Du Plessis-broers, Jurie en André, (BB Auto-Nissan Hardbody) word deur 40 punte geskei en enige een kan die opvolgposisie inneem.
Die stryd vir die derde plek in Klas D sal deur die sewende geplaasde Henri Zermatten en Bodo Schwegler wat elke ren in hul getroue Mastercraft/Playstation-Pajero voltooi het, en die voormalige tydrenjaer, Paolo Piazza-Musso en Rod Hering wat 11de algeheel en vierde in die Klas D-Castrol-toyota Hilux 2,7i is.
Die Klas F-titel sal ongetwyfeld na André Botha en Beans Heydenrych in die Kopanong Hotel Superteam-Chevy gaan tensy iemand anders die klas tydens die volgende twee byeenkomste wen.
Produksievoertuigkampioenskap – Algeheel
1 Grobler / Leeke (Nissan – Klas T) 187
2 De Villiers / Jordaan (Nissan – Klas T) 179
3 Cox / Pitchford (Nissan – Klas D) – 165
4 Woolridge / Skjöldhammer (Ford – Klas T) – 157
5 Cronje / Birkin (Toyota – Klas D) – 129
6 De Bruyn / De Bruyn (Toyota – Klas E) – 119
7 Zermatten / Schwegler (Pajero – Klas D) – 115
8 Vos / Ter Stege (Nissan – Klas T) – 109
9 Vd Walt / Vd Walt (Nissan – Klas E) 72
10 Rubuluza / Vakalisa (Ford – Klas E) 72
Ten spyte daarvan dat hy ’n voorsprong van 85 punte oor sy naaste teenstanders het en die Klas A-kampioenskap reeds gewen het met twee renne nog oor, word Atang Makgekgenene (Total-Jimco) deur twee Klas A-spanne bedreig wat elk een ren dié seisoen gewen het en dalk net dinge vir hom in die algehele Spesiale Voertuigjaerskampioenskap moeilik kan maak.
Dit sal die wenner van die Nissan-Handelaars 400, die Toyota 1000-Woestynren en die Sun City 400 se prioriteit wees om die oorblywende renne klaar te maak indien hy en sy navigator, Buks Carolin hoop om die Spesiale Voertuig- én Klas A-kampioenskappe te wen.
Mark Corbett (Century Property Developments-BAT) en John Weir-Sith (Kopanong Hotel Superteam-Jimco) het elk ’n ren dié seisoen gewen en is binne bereik van die kampioenskapskroon indien enige van dié spanne die laaste twee renne wen die kampioenskapsvoorloper nie kan klaarmaak nie.
Die voormalige Klas B-kampioene, Marcus Taylor en Marc de Chalain (JRE) is tweede op die alghele kampioenskapsleer en staan ’n buitekans om die algehele kampioenskap te wen indien nie een van die top drie-deelnemers nog punte insamel nie en húlle tydens die oorblywende twee renne op die podium klaarmaak. Die negende geplaasde Adri Roets en Deon de Kock (Global DAD-WPP) wat die voorlopers in die Klas B-kampioenskap tot in die helfte van die seisoen was, en die huidige Spesiale Voertuigjaerskampioen, Giel Nel (LUK/Ate-Truggy) kan wel as die wenners verklaar word indien die voorlopers nie die laaste renne voltooi nie.
Die elfde geplaasde Mohammed (Zane) Noble en Richard Hope (Abe’s Furniture-Raceco) het die Klas S-titel in sig, maar hulle sal aan die Mpumalanga-ren in Gauteng moet deelneem indien hulle Nardus Alberts en Collin Hunter in die Wrapsa-Raceco wil wen.
Spesiale Voertuigjaerskampioenskap – Algeheel
1 Makgekgenene (Jimco – Klas A) 187
2 Taylor (JRE – Klas B) 102
3 Weir-Smith (Jimco – Klas A) 101
4 Corbett (BAT – Klas A) 100
5 Gibson (BAT – Klas A) 94
Spesiale Voertuignavigatorskampioenskap – Algeheel
1 Carolin (Jimco – Klas A) 142
2 Brown (BAT – Klas A) 94
3 Chalupsky (BAT – Klas A) 88
4 De Chalain (JRE – Klas A) 82
5 Kelsey (BAT – Klas A) 80
Die voorlaaste ronde van die Absa-Veldrenkampieonskap, die Toyota-Handelaars 400, sal in Lydenburg plaasvind met die voorren, wat die wegspringposisies vir die hoofren bepaal, geskeduleer om op Vrydag, 22 Oktober om 13h00 te begin die hoofren op Saterdag, 23 Oktober om 08h00.