Met twee rondes van die Absa-Veldrenkampioenskap – die Nissan-Sugarbelt 400 en die Nissan-handelaars 400 – iets van die verlede, het sommige Produksie- en Spesialevoertuigdeelnemers reeds ’n lywige klompie punte bymekaargemaak.
In die Produksievoertuigkategorie is die Trots Suid-Afrikaanse span, Hannes Grobler en Francois Jordaan, se saak bevorder deurdat die Nissan-Sugarbelt 400-wenners, Neil Woolridge en Kenny Skjöldhammer van die Ford Racing Ranger-span, nie vir die Wes-Kaap-byeenkoms ingeskryf het nie. Die Nissan-paar het 44 punte ingesamel deur onderskeidelik tweede en eerste algeheel tydens die eerste twee byeenkomste van die kampioenskap te eindig.
Die Ford Racing-span, Manfred Schröder en Alec Harris, het onderskeidelik derde en tweede algeheel tydens die eerste twee renne geëindig en het 34 punte in die bank terwyl hulle ook die Klas D-voorlopers is waar hulle 15 punte voor Gavin Cronje en Robin Houghton in die Castrol-Toyota Hilux 2,7i is.
Woolridge en Skjöldhammer is met 25 punte derde algeheel en kan verder op die punteleer terugsak aangesien hulle besluit het om hul aandag daarop toe te spits om die nuwe Span Ford Racing Ranger vir die Superproduksieklas klaar te bou. Dié voertuig kan moontlik sy debuut tydens die Sun City 400 maak.
Hugo en Jaap de Bruyn (Castrol-Toyota Hilux 2,7i) is vierde algeheel en eerste in Klas E en is slegs een punt voor Gavin Cronje en Robin Houghton en drie punte voor Zane Pearce en Hennie Vosloo in die Klas E-Castrol-Toyota Hilux 2,7i op die algehele punteleer.
Die 2004-Klas D-naaswenners, Mark Cronje en Chris Birkin (Castrol-Toyota Hilux 2,7i) kon nie die Nissan-Sugarbelt 400 voltooi nie, maar was derde algeheel en tweede in Klas D in die Wes-Kaap en hulle deel die sewende posisie met Henri Zermatten en Bodo Schwegler in die Mastercraft Ryobi-Mitsubishi. Die Mitsubishi-span is derde in Klas D terwyl die Toyota-paar sesde is.
Die Bosal N1 4×4-spanmaats, Cliff en Louis Weichelt en Mark en Stuart Moffat, deel die negende posisie. Die Weichelts het ’n hoëspoedongeluk tydens die Nissan-handelaars 400 oorleef en net skrape en kneusplekke oorgehou, maar die Toyota Hilux V6 is afgeskryf. Die Moffats en die Weichelts is onderskeidelik vierde en vyfde in Klas D.
Algehele Produksievoertuig-kampioenskappunte:
1. Hannes Grobler / Francois Jordaan (Nissan) 44
2. Manfred Schröder / Alec Harris (Ford) 34
3. Neil Woolridge / Kenny Skjöldhammer (Ford) 25
4. Hugo de Bruyn / Jaap de Bruyn (Toyota) 21
5. Gavin Cronje / Robin Houghton (Toyota) 20
6. Zane Pearce / Hennie Vosloo (Toyota) 18
7. Mark Cronje / Chris Birkin (Toyota) 15
7. Henri Zermatten / Bodo Schwegler (Mitsubishi) 15
9. Cliff Weichelt / Louis Weichelt (Toyota) 12
9. Mark Moffat / Stuart Moffat (Land Rover) 12
In die Spesialevoertuigkategorie het Terence Marsh en Michael Whitehouse, wat hul eerste oorwinning tydens die Nissan-handelaars 400 in die nuwe Nashua Mobile-BAT Spec-1 behaal het, met 35 punte tot bo-aan die kampioenskapsleer opgeskuif. Hulle is die enigste Klas A-span wat albei renne tot dusver kon voltooi.
Gary Bertholdt en Siegfried Rousseau is tweede algeheel en in Klas A nadat hulle die Nissan-handelaars 400 in KwaZulu-Natal in Maart gewen het. Hulle het egter hul kanse verbrou toe hulle die iBurst Advansoft-BAT tydens die Darling-ren beskadig het en hulle moet met 25 punte tevrede wees.
Die besigheidsman van Lesotho, John Moore, en Graham Maclachlan is derde algeheel in die Connix Internet-Chenowth. Hulle was tweede algeheel in KwaZulu-Natal, maar het nie vir die Nissan-handelaars 400 ingeskryf nie en is 16 punte agter die voorlopers.
Will Battershil en Reg Sutton van KwaZulu-Natal het hul Klas A-debuut in die ex-Terence Marsh-Jimco gemaak en sommer dadelik tweede tydens die Nissan-handelaars 400 klaargemaak na ’n uitstekende ren. Hulle deel die derde posisie met Moore en Maclachlan en kan ’n bedreiging vir die res van die Klas A-brigade wees soos die kampioenskap vorder.
Die Klas B-voorlopers, Evan Hutchison en Trevor Ormerod het 17 punte ingesamel en is vyfde algeheel in die Motorite Racing-BAT met die broers, Rudi en Pierre van Graan (Technochair-Zarco Lite) ’n enkele punt agter hulle.
Die huidige Spesialevoertuigkampioene, Atang Makgekgenene en Buks Carolin (Total-Jimco) het vir die grootste gedeelte van die Nissan-handelaars 400 voorgeloop, maar ’n pap band het hulle kosbare tyd gekos en hulle moes met die derde algehele posisie en 15 punte tevrede wees. Hulle deel die sewende plek met Clint Gibson en Marcelle Trethewey in die Gibson Plant Hire-BAT.
David White (Truggy) is een van drie Spesialevoertuigspanne wat albei renne kon voltooi en is negende in die kampioenskap en derde in Klas B terwyl daar ’n gelykopstryd tussen Bevan Bertholdt en Nick Selamolela in die iBurst BAT Spec-1 en die Nissan-handelaars 400 se Klas B-wenners, Ernest Corbett en Warwick Goosen in die Century Property Developments-BAT, om die tiende plek heers.
Algehele Spesialevoertuig-kampioenskappunte:
1. Terence Marsh / Michael Whitehouse (BAT Spec-1) 35
2. Gary Bertholdt / Siegfried Rousseau (BAT) 25
3. John Moore / Graham Maclachlan (Chenowth) 19
3. Will Battershill / Reg Sutton (Jimco) 19
5. Evan Hutchison / Trevor Ormerod (BAT) 17
6. Rudi v Graan / Pierre v Graan (Zarco Lite) 16
7. Clint Gibson / Marcelle Trethewey (BAT) 15
7. Atang Makgekgenene / Buks Carolin (Jimco) 15
9. David White (Truggy) 13
10. Bevan Bertholdt / Nick Selamolela (BAT Spec-1) 12
10. Ernest Corbett / Warwick Goosen (BAT) 12
Die volgende ronde van die Absa-Veldrenkampioenskap, die Toyota 1000-Woestynren, vind van 3 tot 5 Junie in Botswana plaas.