Die Absa-Veldrenkampioenskap se volgende byeenkoms is in die Wes-Kaap waar die spanne die CPMCC-georganiseerde Nissan-Handelaars 400 op 22 en 23 April sal takel.
Dié byeenkoms, wat homself al as een van die taaistes op die veldrenkalender bewys het, vind in die Darling-omgewing plaas en die terrein sluit bergagtige gedeeltes in sowel as uitputtende sandpaadjies en hoëspoeddele deur koringlande.
Daar was laas jaar heelwat meer inskrywings in vergeleke met die eerste ren en CPMCC se voorsitter, Bill Bright, verwag selfs meer inskrywings vir vanjaar se byeenkoms.
Daar word verwag dat die weerstoestande in April heelwat natter as die vorige jare sal wees toe die byeenkoms in Maart plaasgevind het en dit behoort die stof te verminder en ’n laer gemiddelde spoed tot gevolg te hê terwyl die spanne mekaar veiliger kan verbygaan.
Die Nissan-Handelaars 400 sal om 13h00 op Vrydag, 22 April, met ’n 42 km-voorren begin terwyl die hoofren, wat uit ’n roete van 115 km bestaan wat drie keer herhaal word, op Saterdag, 23 April, om 08h00 sal begin.
Die CPMCC het veral aandag daaraan geskenk om die roete so toeskouer-vriendelik as moontlik te maak en entoesiaste sal agt geleenthede tydens elke rondte gebied word om die skouspelagtige Produksie- en Spesiale Voertuie in aksie te sien.