Absa Voertuig- en Batefinansiering het vandag aangekondig dat dit voortgaan om die SA Veldrenvoertuigkampioenskap, wat as die Absa-Veldrenkampioenskap bekend sal staan, vir nóg ‘n jaar te ondersteun.
Dié vennootskap, wat drie jaar gelede tussen Absa Voertuig- en Batefinansiering, Ford, Nissan en Toyota ontstaan het en uniek in Suid-Afrikaanse motorsport is, sal voortduur. Dit het verseker dat die kampioenskap finansieel ondersteun is terwyl dit besonderse televisiedekking op Supersport verdien het en ook professioneel bemark is.
“Ons betrokkenheid by veldrenne is noukeuring geëvalueer en ons is tevrede dat ons belegging ‘n betekenisvolle groei getoon het,” het Sizwe Tati, Bestuurende Direkteur: Absa Voertuig- en Batefinansiering, gesê. “Die geleentheid om met Ford, Nissan en Toyota geassosieer te word, was in die verlede vir albei partye tot voordeel en sal in 2005 voortduur.”
Die president van MSA se Veldrenvoertuigkommissie, Piet Swanepoel, het dié nuus verwelkom en dit word gesien as ‘n belangrike onderskrywing van ‘n kategorie wat gesien word as een van Suid-Afrika se vernaamste motorsportkategorieë.
“Veldrenne het van krag tot krag gegaan en ons is verheug deur Absa Voertuig- en Batefinansiering, Ford, Nissan en Toyota se volgehoue ondersteuning,” het Swanepoel gesê. “80 inskrywings is ontvang vir die openingsronde, die Nissan-Sugarbelt 400 wat op 18 en 19 Maart in die Eston-omgewing plaasvind, en dit is beslis ‘n teken dat die bemarkingspogings van ons borge en die Kommissie vrugte afwerp.”
Die bestuur van Ford, Nissan en Toyota was eenparing in hul ondersteuning vir Absa Voertuig- en Batefinansiering se volgehoue borgskap van veldrenne en het onderneem om voort te gaan met die gesamentlike bemarkingspoging wat daarop gemik is om die sport selfs meer gewild te maak.
Die Absa-Veldrenkampioenskap sal wye publisiteit en intensiewe televisiedekking op Supersport in 2005 verdien. Elf 52-minuut kykgleuwe is vir ‘n seisoenvoorskou, ‘n seisoenverslag en hoogtepunte van byeenkomste verseker en dit sal voor of ná die Formule 1-uitsendings op Supersport uitgesaai word met herhalings gedurende die volgende week.
“Die Absa-Veldrenkampioenskap sal meer as 90 ure se televisiedekking gedurende 2005 kry wat ‘n reuse-inspuiting is vir die fabriek- en privaatspanne wat aan die kampioenskap deelneem,” het Piet Swanepoel gesê.