Absa-Voertuigfinansiering het vandag aangekondig dat dit voortgaan om die SA Veldrenvoertuigkampioenskap, wat in die toekoms as die Absa-Veldrenkampioenskap bekend sal staan, vir nóg ‘n jaar te ondersteun.
Dié vennootskap, uniek in Suid-Afrikaanse motorsport en wat twee jaar gelede tussen Absa-Voertuigfinansiering, Ford, Nissan en Toyota ontstaan het en verseker dat die kampioenskap finansieel ondersteun is terwyl dit besonderse televisiedekking op standaard- sowel as satelliettelevisie onderskeidelik op SABC 3 Sport en Supersport verdien het en ook professioneel bemark is, sal voortduur.
“Ons betrokkenheid by veldrenne is noukeuring geëvalueer en ons is tevrede dat ons belegging ‘n betekenisvolle groei getoon het,” het Keith McIvor, Algemene Bestuurder van Absa-Voertuigfinansiering, gesê. “Die geleentheid om met Ford, Nissan en Toyota geassosieer te word, was in die verlede vir albei partye tot voordeel en sal in 2004 voortduur.”
Die president van MSA se Veldrenvoertuigkommissie, Piet Swanepoel, het dié nuus verwelkom en dit word gesien as ‘n belangrike onderskrywing van ‘n kategorie wat gesien word as een van Suid-Afrika se vernaamste motorsportkategorieë.
“Veldrenne het van krag tot krag gegaan en ons is verheug deur Absa-Voertuigfinansiering, Ford, Nissan en Toyota se volgehoue ondersteuning,” het Swanepoel gesê. “Inskrywings vir die openingsronde, die Nissan-Handelaars 400 wat op 19 en 20 Maart in die Darling-omgewing plaasvind, is van 42 in 2003 op na meer as 50 vanjaar en dit is verseker ‘n teken dat die bemarkingspogings van ons borge en die Kommissie vrugte afwerp.”
Die bestuur van Ford, Nissan en Toyota was eenparing in hul ondersteuning vir Absa-Voertuigfinansiering se volgehoue borgskap van veldrenne en het onderneem om voort te gaan met die gesamentlike bemarkingspoging wat daarop gemik is om die sport selfs meer gewild te maak.
Die Absa-Veldrenkampioenskap sal wye publisiteit en intensiewe televisiedekking op SABC 3 Sport en Supersport in 2004 verdien.
Tien kykgleuwe is vir “Inside the Absa-Veldrenkampioenskap” verseker en dit sal ná die Formule 1-kwalifisering op SABC 3 Sport uitgesaai word met herhalings in High Octane Motorsport op Supersport. Nóg 52 minute-gleuwe wat ‘n seisoenvoorskou, ‘n seisoenverslag en hoogtepunte van die byeenkomste insluit, sal op High Octane Motorsport uitgesaai word met ‘n verskeidenheid enkelgleuwe op Supersport.
“Die Absa-Veldrenkampioenskap sal meer as 100 ure se standaard- en satelliet-televisiedekking gedurende 2004 kry wat ‘n reuse-inspuiting is vir die fabriek- en privaatspanne wat aan die kampioenskap deelneem,” het Piet Swanepoel gesê.
Die Absa-Veldrenkampioenskap begin met die Nissan-Handelaar 400 wat op 19 en 20 Maart in die Wes-Kaap plaasvind gevolg deur die:
Nissan-Sugarbelt 400 in die Pietermaritzburg-omgewing op 23 en 24 April;
Toyota 1000-Woestynren in Botswana vanaf 11 tot 13 Junie;
Sun City 400 in die Pilanesberg op 23 en 24 Julie;
Queen Motor Spares-Tarka 400 in die Queenstown-gebied op 20 en 21 Augustus;
Oven Fresh Biscuits 500 in die Mmabatho-omgewing op 24 en 25 September;
Toyota-Handelaars 400 in die Lydenburg-omgewing op 22 en 23 Oktober;
Carnival City Casino 400 in die Brakpan-gebied op 19 en 20 November.