Apie Reyneke, sesmalige wenner van die Toyota 1000-Woestynren, sal ‘n enkele verskyning tydens vanjaar se ren, die derde ronde van die Absa-Veldrenkampioenskap wat van 11 tot 13 Junie in Botswana plaasvind, maak.

Die 47-jarige boer van Tosca sal die bestuurderstoel met Shumie van Vuuren van Botswana in die Klas D-Toyota Land Cruiser waarmee Van Vuuren die Klas D-jaerskampioenskap in 2001 gewen het en waarmee hy en Carlos de Abreu Klas D tydens laasjaar se Toyota 1000-Woestynren gewen het, deel.

“Shumie neul nou al geruime tyd dat ek saam met hom moet ry en aanvanklik het ek nie té veel van die idee gehou nie, maar sy oorredingsvermoë het al beter geword en ek het uiteindelik ingestem om my uittrede vir dié ren wat ek al ses keer gewen het, tydelik opsy te skuif,” het Reyneke gesê. “Ek is hard besig om die Land Cruiser voor te berei en sien nou eintlik uit na die ren wat nog altyd een van my gunsteling-veldrenbyeenkomste was.”

“Ek en Shumie sal die bestuurderposisie deel en om te navigeer gaan ‘n heel nuwe ervaring vir my wees. Ek hoop net dat ek dit sal kan doen,” het Reyneke bygevoeg. “Ek weet dat ons sterk mededingers in Klas D sal wees, maar die kans dat ons ‘n algehele oorwinning teen die kragtiger en meer gesofistikeerde Klas T-inskrywings sal kan aftrek, is maar skraal.”

Reyneke en Van Vuuren is ‘n formidabele kombinasie en sal ‘n bedreiging vir die res van die Klas D-spanne wees tydens dié ren waar albei van hulle deur die jare goed gevaar het en die moontlikheid van ‘n verrassingsoorwinning indien die Klas T-spanne probleme opdoen, is nie uitgesluit nie.