Die tweemalige wenner van die Nissan-Handelaars 400 se Spesiale Voertuigkategorie, Atang Makgekgenene, het sy oorwinning van die eerste ronde van die Absa-Veldrenkampioenskap aan sy pasgebore babadogter, Kaelo, opgedra.
Kaelo wat “leiding en rigting” in Setswana beteken, is op Maandag, 15 Maart om 14h57 gebore.
Haar ma, Lerato, en die 3,2 kg-Kaelo, is Vrydag, 20 Maart van die Sandton Kliniek ontslaan en volgens tradisie is die pa daarvoor verantwoordelik dat die ma en die nuweling veilig van die hospitaal by die huis kom.
Makgekgenene het by MSA se Veldrenvoertuigkommissie aansoek gedoen om die voorren vir die Nissan-Handelaars 400 laaste aan te pak sodat hy eers sy vaderlike verpligtinge kon afhandel en hy en sy seun, Mogale, het Vrydag teen laatmiddag by Darling aangekom.
Dit is interessant dat sy vrou, Lerato, óf sy seun, Mogale, óf sy dogter, Ipi, óf almal van hulle al teenwoordig was tydens elke byeenkoms waar pa Atang al tydens sy kort veldrenloopbaan gewen het.
“Om my familie saam met my tydens ‘n veldrenbyeenkoms te hê, inspireer my om beter te doen as wat ek normaalweg sou kon,” het Makgekgenene gesê. “Hulle is my inspirasie en ek kan nie wag dat Kaelo oud genoeg is om saam met my, Lerato, Mogale en Ipi na veldrenne toe te gaan nie.”
“Ipi was te besorg en het saam met haar suster tuis gebly en Mogale het saam Darling toe gekom en om sy glimlag by die einde te sien, was die beste prys vir my.”
Makgekgenene en sy navigator, Mike Stangl, het uitstekend in die Total-Jimco wat met ‘n Chevrolet Corvette LS-1-enjin toegerus is, gevaar, en het die derde vinnigste tyd tydens die voorren – net agter die twee Trots-Suid-Afrikaanse Nissan Hardbody-bakkies van Giniel de Villiers en Francois Jordaan en Duncan Vos en Hennie ter Stege – aangeteken en het Saterdag van die begin tot die einde in die Spesiale Voertuigkategorie voorgeloop.