Die wêreldnywerheidsreus, Atlas Copco, het sy betrokkenheid in Suid-Afrikaanse motorsport, met sterk klem op die SA Veldrenvoertuigkampioenskap wat deur Absa aangebied word en waar drie voertuig nou in hul kleure deelneem, verhoog.
Atlas Copco Compressor Technique Division en sy Industrial Technique Division, ‘n wêreldleier in handelsmerke soos Chicago Pneumatic-luggereedskap, AEG-kraggereedskap en Milwaukee, is lank reeds ondersteuners van die Jeep-veldrenspan wat die afgelope paar jare suksesvol aan die kampioenskap deelneem.
In ‘n historiese skuif het die maatskappy aangekondig dat ‘n span van twee Atlas Copco-ondersteunde voertuie in die toekoms aan die Spesiale Voertuigkategorie sal deelneem met die veterane, Henry Kirstein en Renier Jooste in die eks-Clint Gibson-Klas B-BAT en Jooste se seun en skoondogter, Gé en Caroline, in ‘n Klas A-Sandmaster.
Die Atlas Copco-span het sy debuut tydens die onlangse Toyota-Handelaars 400 in die Lydenburg-omgewing gemaak. Kirstein en Jooste het ‘n goeie ren beleef, maar het sonder brandstof gaan staan terwyl die man- en vrou-span net 30 km van die ren kon voltooi voordat ‘n waterpyp gebars het.
Die Atlas Copco / Chicago Pneumatic-Jeep wat deur Scott Abraham bestuur is met Richard Carolin in die navigatorsitplek, was in ‘n seisoenlange stryd vir die tweede plek in Klas T vir onbeperkte Superbakkies wat deur fabrieksgesteunde inskrywings gedomineer word en eers tydens die Carnival City Casino 400 op 14 en 15 November bepaal sal word.
Scott Abraham is nou in Duitsland gebaseer waar hy op ‘n kontrakbasis vir die vooraanstaande New Dimension X-Raid BMW-span wat aan die FIA Wêreldbeker vir Cross Country Rallies en die Dakar deelneem, werk en het die Lydenburg-byeenkoms gemis. Sy plek is deur Stratford Voogt ingeneem en saam met Richard Carolin het hulle 16de gekwalifiseer. Hulle het aanvanklik goed in die ren gevaar, maar ‘n stukkende skroef op die agterste remknyper het veroorsaak dat die remskoen uitgeval het. Dié voorval het hulle meer as 30 minute opgehou, maar teen die einde van die tweede sirkelroete het hulle van die laaste plek tot die 20ste posisie opbeweeg, maar koppelomsitter-olieseël wat die gees gegee het, het veroorsaak dat hulle die handdoek moes ingooi.
“Ons aanvaar dat motorsport en veral veldrenne ‘n harde sport is en dat voorvalle soos wat die drie Atlas Copco-ondersteunde voertuie tydens die Toyota-Handelaars 400 oorgekom het, van tyd tot tyd gebeur,” het Robert Kritzinger, die Besigheidsbestuurder vir Draagbare Kompressors, gesê. “Die twee heldergeel Spesiale Voertuie en die Jeep, waarna liefhebbend as die ‘rooi monster’ verwys word, trek baie aandag waar hulle ookal gaan en ons is verheug om met twee professionele privaatspanne geassosieer te word.”
Die Atlas Copco-voertuie sal op die inskrywingslys van die Carnival City Casino 400 wat op 14 en 15 November plaasvind, wees en entoesiaste sal die geleentheid hê om hulle tydens die voorren wat Vrydag om 12:00 begin, in aksie te sien asook vanuit verskeie gerieflike toeskouerpunte tydens die hoofren wat Saterdag om 08:00 begin.