Een van Suid-Afrika se veldrenlegendes, Cliff Barker, sal sy aftrede tydelik opsy skuif om aan die Lesotho Sun 400, die vyfde ronde van die Absa-Veldrenkampioenskap wat op 20 en 21 Augustus plaasvind, deel te neem.
Barker sal saam met die voormalige nasionale kampioen, Mike Reddin wat nou in Francistown, Botswana gevestig is, hul visier op ‘n oorwinning gestel het – 10 jaar nadat hulle die Dak van Afrika in ‘n Land Rover Defender 110 gewen het.
Hul oorwinning in 1994 was Land Rover se tweede sukses in dié byeenkoms nadat Eddie Keizan die ren vir die eerste keen in 1969 in ‘n Defender Reeks 2 gewen het.
Barker en Reddin het ‘n ongekende klaarmaakrekord vir die Dak gehad – hulle het vyf renne van die ses wat hulle begin het, klaargemaak en ‘n algehele oorwinning in 1994 behaal.
In 1996 het Reddin en sy navigator, Wyatt Joseph, die veldrenwêreld aan die gons gehad deur die klas vir 4×4-viersilindervoertuie in hul dieselaangedrewe Land Rover te domineer, maar hul tweede algehele posisie en ‘n klasoorwinning is van hulle weerhou aangesien hulle glo van die roete afgedwaal het.
Barker, wat nie dié seisoen deelgeneem het nie as gevolg van besigheidsverpligtinge, was nog altyd ‘n taai deelnemer om te wen. Sy BMW M3-aangedrewe Land Rover Defender 110 mag dalk nie oor die spoed van die Nissan Hardbody-bakkies of die Ford Ranger beskik nie, maar Barker het baie veldrenondervinding en kan dalk net ‘n oorwinning aftrek.
Die Lesotho Sun 400 begin op Vrydag, 20 Augustus, met ‘n 4 km-Spesiale Trajek by die Maseru-Renbaan, of die Pope’s Stadium soos dit algemeen bekend staan, en word gevolg deur ‘n 40 km-voorren wat by Roma begin en eindig. Saterdag se hoofren sal uit twee sirkelroetes van 200 km in die suidoostelike laaglande van Maseru bestaan en die eerste voertuig sal om 08h00 wegspring.