Na groeiende sukses van die plaaslik ontwerpte en vervaardigde Spesiale Voertuie wat die Absa-Veldrenkampioenskap die afgelope paar jaar oorheers het, het die Midrand-gebaseerde BAT Racing aangekondig dat dit na ander wêreldmarkte gaan uitbrei.
“Ons sukses in plaaslike veldrenne het nie internasionaal ongesiens verbygegaan nie en dit het daartoe gelei dat ons dogtermaatskappye in die Verenigde Arabiese Emirate, Europa en die VSA gestig het,” het BAT Racing se besturende direkteur, Brandon Harcus, gesê. “Ons het bewys dat ons oor die vermoë beskik om bekostigbare en duursame voertuie te ontwerp en vervaardig wat net so goed is as enigiets wat internasionaal beskikbaar is.”
Harcus het amptelik van die Absa-Veldrenkampioenskap onttrek en sal na San Diego in Californië verhuis om BAT Racing USA te vestig en sal aan twee renne, die Primm 300 en die Baja 1000 wat deel van die 2004 SCORE-Veldrenkampioenskap vorm, deelneem.
“Dit was my lewenslange ambisie om aan die Baja 1000 deel te neem en ek beplan om dié ren van Ensenada na Lap Paz in Mexico in ‘n enkelsitplek-BAT aan te pak,” het Harcus bygevoeg. “Dakar 2005 vorm ‘n prominente deel van my toekomsplanne en my doel is om die Buggy-klas volgende jaar Januarie te wen.”
BAT Racing Suid-Afrika sal voortgaan om volledige voertuie en onderdele by sy Midrand-fasiliteit te vervaardig met André van Aarde wat verantwoordelik is vir die vervaardiging en konstruksie terwyl die veteraan-veldrenjaer, Nic Harper wat met ‘n Audi V8-aangedrewe BAT deelneem, vir die verkope en bemarking verantwoordelik sal wees.
Drie voertuie wat volgens FIA-spesifikasies gebou is, is in 2003 aan Gregoire de Mevius verkoop waarvan een met Laurent Bourgnon agter die stuur, aan die 2004-Dakar sowel as aan onlangse rondes van die FIA Baja-Wêreldbeker deelgeneem het. De Mevius sal BAT Racing Europe se uitbreiding op dié kontinent lei.
BAT Racing UAE sal in Dubai gebaseer wees en sal aan die behoeftes van honderde veldrenfanatici en spoedvrate in dié streek voldoen wat hul naweke aan renne in die woestyn spandeer.
“BAT Racing-kliënte in Suid-Afrika kan verseker wees van volgehoue goeie diens en ek is vol vertroue dat Nic Harper en André van Aarde seker sal maak dat die naam van krag tot krag gaan,” het Harcus gesê. “Ek is nogal hartseer om Suid-Afrika te verlaat, maar ongelooflik opgewonde oor my toekomstige renvooruitsigde en die uitdaging om BAT Racing internasionaal te vestig.”