Die bekendstelling van die nuwe Superproduksieklas in die Absa-Veldrenkampioenskap, wat vir die 25ste Toyota 1000-Woestynren geskeduleer was wat van 3 tot 5 Junie plaasvind, is uitgestel as gevolg van ‘n tekort aan uiters noodsaaklike onderdele waarsonder die voertuie nie voltooi kan word nie.
Ten spyte van die feit dat Nissan Motorsport reeds ’n prototipe gebou het en dit getoets het, word hulle tesame met Ford en Toyota deur dié tekort gekniehalter.
MSA se Veldrenvoertuigkommissie het, met die goedkeuring van die drie vervaardigers, besluit dat die Superproduksieklas eers bekend gestel sal word sodra elke vervaardiger ten minste een voertuig gereed het.
“Die nuwe klas sal, net soos Klas S2000 in tydrenne, nuwe standaarde vir veldrenne wêreldwyd stel,” het die President van MSA se Veldrenvoertuigkommissie, Piet Swanepoel, gesê. “Daar is geen punt daarin om die inleiding van ’n klas wat ek glo die maatstaf vir toekomstige internasionale kompetisie gaan stel, aan te jaag nie.”
“Nissan het toestemming gekry om voort te gaan om met hul Klas T-voertuie in Klas F deel te neem totdat al die vervaardigers gereed is om hul Superproduksievoertuie bekend te stel.”
Die Superproduksieklas is uniek in verskeie opsigte waarvan die mees merkbare opsig die algehele toewyding van die deelnemende vervaardigers is om saam te werk om sodoende te verseker dat dit ’n sukses is.
Die nuwe voertuie deel gemeenskaplike onderdele soos ratkaste, oordraratkaste, ewenaars, voorste pilare, remskywe, remknypers, dryfaste en konstantesnelheidkoppelings en baie hiervan word van individuele vervaardigers verkry. Elke vervaardiger het egter algehele vryheid om, binne die reëls, sy eie onderstel te ontwerp en te vervaardig en om ’n enjin van sy eie produkreeks wat nie groter as 4,5 liter is nie, te pas.
Nissan Motorsport is bevoordeel deurdat hy reeds sy prototipe-voertuig kon toets en dit het ’n paar verrassende resultate opgelewer.
“Die Nissan-Superproduksievoertuig se hantering en verrigting is goed en dit is amper so opwindend soos die huidige Klas F-voertuie,” het Nissan se Motorsportbestuurder, Glyn Hall, gesê. “Boonop lyk en klink dit so goed soos die Hardbody-bakkies waarmee ons die afgelope drie jaar deelneem en ek glo dat Ford en Toyota se voertuie net so goed soos ons eie sal wees.”
“Net soos Neil Woolridge van die Ford Racing-span en Wammy Haddad van Toyota Motorsport, kan ek ook nie wag vir die dag wanneer ons almal met ten minste twee Superproduksievoertuie aan die Absa-Veldrenkampioenskap deelneem nie, want dit sal ’n gesig wees om te aanskou.”
Die amptelike bekendstellingsdatum vir die nuwe Superproduksieklas sal binnekort aangekondig word.