Beplanning vir die Toyota 1000-Woestynren, die derde ronde van die Absa-Veldrenkampioenskap wat deur die Four Wheel Drive-klub van Suidelike Afrika georganiseer word, is reeds in ‘n gevorderde stadium en volgens die renorganiseerder, Alan Gatley, wag daar ‘n paar verrassings op die deelnemers.
Dié byeenkoms, sal Vrydag, 3 Junie om 13h00 met ’n 40 km-voorren afskop en sal Saterdag om 07h30 deur ’n 480 km-gedeelte gevolg word wat by Game City in Gaborone sal begin en tot by die bestemde dienspunt by Mantshwabisi sal strek voordat dit weer by Game City sal eindig. Diegene wat dag een oorleef het, sal die ren Sondag om 07h30 weer by Game City hervat en die roete in die teenoorgestelde rigting aanpak voordat hulle teen ongeveer 14h00 by Game City sal eindig.
“Ons het ‘n paar veranderings aan die roete aangebring en dit behoort die gemiddelde spoed te verminder,“ het Alan Gatley gesê. “Die lang, reguit gedeeltes waarvoor die Toyota 1000-Woestynren bekend is, is verkorter en die langste deel is nou net 7 km lank.”
“Daar is vier rivierkruisings waarvan twee droog, sanderig en met rotse besaai is en die spanne sal uiters versigtig daar moet wees. Ten spyte daarvan dat dit nie gereën het nie, is die bosse dig en die voorste spanne sal die eerste dag die roete soms moet skoonmaak.”
Daar is ook goed na die toeskouers gekyk met 11 teerpad- en 10 grondpadkruisings wat op die roete aangedui word.
“Die Toyota 1000 is Botswana se grootste sportbyeenkoms en lok derduisende geesdriftige toeskouers,” het Gatley gesê. “Die afgelope paar jaar was ongedissiplineerdheid en blatante minagting van ander padgebruikers ’n groot probleem en dit het tot verkeersknope by toeskouerpunte gelei.”
“Ons het nou met Botswana se Kommissaris van Polisie saamgewerk en hy het ons verseker dat sy offisiere hul uiterse bes sal doen om die verkeersvloei te bevorder en weerbarstige skares in toom te hou.”