Nadat die Witrivier-omgewing in Mpumalanga deur veldbrande geteister is, is dié gebied taboe verklaar vir enige motorsportaktiwiteite en dit het veroorsaak dat die Toyota-Handelaars 400, die voorlaaste ronde van die SA Veldrenkampioenskap wat deur Absa aangebied word, nou verskuif sal moet word.
Die organiseerders van dié byeenkoms, die SA Motorsportklub (SAM), wat ook die jaarlikse Sasol-Tydren in dié omgewing organiseer, is Vrydag ingelig dat plantasie-eienaars dag en nag werk om hout te red en dat herbebossing van die brandbeskadigde omgewing aan die gang is.
“Laas jaar se Toyota-Handelaars 400 wat vir Augustus geskeduleer was, is na die Pilanesberg-omgewing verskuif as gevolg van die droogte en moontlike brandgevaar in Mpumalanga en om dié redes is vanjaar se byeenkoms vir 24 en 25 Oktober geskeduleer,” het die President van MSA se Veldrenkommissie vir Voertuie, Piet Swanepoel gesê. “Om dié byeenkoms vanjaar wéér te verskuif, is ‘n groot slag vir SAM wat reeds ‘n uitdagende roete uitgesit het, maar ons moet die wense van die plantasie-eienaars respekteer.”
“Die Witrivier-, Sabie- en Graskop-gebiede is uitgesoekte tyd- en veldrenstreke en dit is in ons eie belang om in dié moeilike tyd met die bosbou-eienaars saam te werk,” het Swanepoel bygevoeg. “Hopelik kan ons ‘n veldrenbyeenkoms in dié omgewing laat plaasvind sodra die plantasies weer gerehabiliteer is.”
Die Toyota-Handelaars 400 sal steeds in Mpumalanga, wat ‘n belangrike mark is, plaasvind en sal nou in die Lydenburg-omgewing gebaseer wees.
“Ons is teleurgesteld dat die byeenkoms nie meer in die Witrivier-omgewing sal plaasvind nie, maar is tevrede met die besluit om dit by Lydenburg te hou,” het Toyota se Vise-president vir bemarkingskommunikasie, Francois Loubser, gesê. “Ons het ‘n sterk handelaarsnetwerk in Mpumalanga waar die Land Cruiser- en Hilux-modelle ons beste verkopers is en ons sien dié byeenkoms as ‘n ideale geleentheid om handelaarswaarde en bewuswording van dié handelsmerke in ‘n uiters belangrike mark te bevorder.”
“Deur die Toyota-Handelaars 400 in die Lydenburg-omgewing te baseer, beteken dat dit vir toeskouers van Gauteng en van die groter dorpe in Mpumalanga, insluitende Sabie, Witrivier, Nelspruit, Belfast, Groblersdal, Middelburg en Witbank makliker is om dit by te woon,” het Loubser bygevoeg.
Finale besonderhede in verband met die hoofkantoor van die Toyota-Handelaars 400 en die roete sal binnekort bekend gemaak word.