Veldrengeesdriftiges wat die Carnival City Casino 400, die laaste ronde van vanjaar se SA Veldrenvoertuigkampioenskap wat deur Absa aangebied word en op 14 en 15 November plaasvind, behoorlik wil geniet en nie noodwendig op al die luukses ingestel is nie, sal só kan maak in hul eie kuierarea.
Daar sal heelwat goeie uitsigpunte vir diégene wees wat ‘n biltong-, braaivleis- en sonskyn-atmosfeer verkies en wel in ‘n bebosde area wes van die kasino-kompleks. Daar is parkering en toiletfasiliteite in dié gebied wat baie naby aan ‘n 6 km-gedeelte van die roete is en is spesiaal vir die Carnival City Casino 400 gebou.
Toegang tot dié gebied sal vanaf Louwstraat wees. Aanwysings sal reeds op die N17 by die afritte aangebring word.
Die Carnival City Casino 400 is die laaste ronde van die seisoen met ‘n paar kampioenskappe wat nog bepaal moet word.
Dié Koepelklub-byeenkoms belowe om ‘n naweek vol familiepret vir veldrengeesdriftiges te wees. ‘n Toeskouer-vriendelike roete sal toeskouers toelaat om die aksie langs die roete en binne die Carnival City Casino-komplek te volg.
Daar sal veilige parkering binne die Carnival City Casino-kompleks wees asook toilet- en verversingsfasiliteite en die gebied is vir uitsluitlike veldrengebruik. Daar sal ook bykomende pret vir die kinders wees met aktiwiteite soos renstelle, ‘n skaatsplankpark en klimmuur wat onder die toesig van volwassenes beheer sal word.
Die aksie begin op Vrydag, 14 November om 12:00 met ‘n voorren wat uit twee rondtes op die kortbaan sal bestaan en dit sal die wegspringposisies vir die hoofren wat op Saterdag, 15 November om 08:00 begin, bepaal.