Daar is nie ‘n meer intensiewe tweestryd as dié wat tussen die broers, Gary en Bevan Bertholdt wat albei met uiters gevorderde BAT-voertuie in die Spesiale Voertuigkategorie van die Absa-Veldrenkampioenskap deelneem, bestaan nie.
Die tweestryd het ontstaan toe die 30-jarige Gary en die 33-jarige Bevan 25 jaar gelede seepkiskarre begin ry het. Die broers het dit na die finale ronde van die Northcliff-kampioenskap gemaak en toe Bevan besef het dat hy deur Gary geklop gaan word, het hy gesorg dat hy nie die ren voltooi nie en dit het tot allerhande familieprobleme gelei.
Terwyl albei dieselfde tydverdrywe het en sosiaal saam verkeer, was dit ’n egter ’n geval van twee aanvallende mededingers op die renbaan met Bevan wat altyd die aggressiewe een is.
“Gary is ligter as ek en het altyd ’n voordeel gehad en dit was vir my altyd ’n groot frustrasie,” het Bevan gesê. “Ons het in renstelle, op veldrenmotorfietse en in motocross en, meer onlangs, in veldrenvoertuie teen mekaar meegeding.”
“Ons het albei ons deel van sukses gehad, maar Gary het die gesogte Klas A-Spesiale Voertuig-jaerskampioenskap gewen en ek wil dit self baie graag wen.”
Die broers is top-fiks en die mededinging strek tot sover as die pluimbalbaan of wanneer hulle saam die gimnasium besoek.
Pa Bodo is ’n voormalige veldrenkampioen en ondersteun Gary en Bevan se renpogings en deel sy tyd tussen hulle tydens byeenkomste.
“My pa het nog altyd ’n belangrike rol in beide ons loopbane gespeel en ons is dankbaar daarvoor,” het Gary gesê. “Die feit dat hy altyd daar is om rendispute tussen my en Bevan op te los, is ’n bykomende bonus.”
“As hy nie daar was nie, sou ek en Bevan mekaar seker al aan die kele beetgekry het,” skerts Gary.
Die Bertholdt-Stryd sal op 22 en 23 Oktober tydens die Toyota-Handelaars 400 in die Lydenburg-omgewing voortgesit word wanneer die Mafikeng 500-wenners, Gary en Siegfriend Rousseau (Advansoft-BAT) vir Bevan en Nick Selamolela (Itec-BAT) in hul stryd om die Spesiale Voertuigkategorie algeheel te wen, sal aanpak.