Nie een ander SA Veldrenkampioen behalwe Bruce “Buks” Carolin kan op veelvuldige nasionale kampioenskapstitels as ‘n jaer en navigator aanspraak maak nie.
Carolin (50) het in 1983 met ‘n VW Baja Bug as ‘n navigator vir Kenny Skjöldhammer begin deelneem, maar het eers in 1989 die Spesiale Voertuig-Jaerskampioenskap in ‘n Raceco-Mazda gewen. Hy het dié sukses met twee agtereenvolgende Jaerskampioenskapoorwinnings in 1990 en 1991 opgevolg met sy vennoot, Kenny Skjöldhammer, wat die Navigatorskampioenskap ingepalm het.
In 1994 het hy die Spesiale Voertuig-Navigatorskampioenskap vir die eerste keer gewen en ses jaar later het hy dié titel wéér gewen toe hy die Cornbake Foods-Raceco met die nuweling, Shameer Variawa, gedeel het. Vanjaar het hy van die Toyota 1000-Woestynren by Atang Makgekgenene in die kajuit van die Total-Jimco aangesluit en die Motswana gehelp om drie algehele oorwinnings en die Spesiale Voertuig-Jaerskampioenskap in te palm.
“Om drie Jaers- en drie Navigatorstitels te wen, is iets wat moeilik nagedoen sal kan word,“ het Carolin gesê. “My rol as navigator het beteken dat ek vir van die jaers wat regtig talent, as mentor opgetree het en ek glo dat die bydrae wat ek kon lewer met jare se ondervinding agter die stuur van ‘n renvoertuig, hulle baie gehelp het.”
“Die kort tydjie wat ek saam met Atang in die Total-Jimco was, was insiggewend in terme van sy bestuursvermoë en die vlak van voorbereiding terwyl die spoed van die Total-Jimco ligjare voor enigiets is wat ek in 1989 bestuur het,” het Carolin bygevoeg. “Daar was tye wat ek bang was in die kajuit, maar Atang is besonder konsensieus en respekteer my instruksies om spoed te verminder of vinniger te ry volkome.“
“Jayce Singh berei die Total-Jimco ongelooflik goed voor en die feit dat ons dié seisoen nog nie ‘n enkele meganiese probleem ondervind het nie, is die bewys van sy toegewydheid en die aandag wat hy aan detail gee.”
Ten spyte daarvan dat hulle reeds die Spesiale Voertuig-Jaers- en Navigatorskampioenskappe tydens die Toyota-handelaars 400 gewen het, beplan Atang Makgekgenene en Buks Carolin om hul beste by die Carnival City 400 (19 en 20 November) te lewer en om met nóg ’n algehele oorwinning weg te stap.