Die veelvuldige Suid-Afrikaanse Veldren-Spesiale Voertuig-jaer- en navigatorkampioen, Buks Carolin, het by die groeiende geledere van die Kopanong Hotel Superteam, wat nou met vyf voertuie aan die Absa-Veldrenkampioenskap deelneem, aangesluit.
Carolin sal sy debuut vir die Superteam tydens die Nissan-Sugarbelt 400 op 23 en 24 April maak en die veldrenveteraan, Harry Roscoe sal in die navigatorstoel van die Klas S-Raceco toegerus met ‘n BMW 540 V8-enjin, wees.
Roscoe, nou 63 jaar oud, het die afgelope paar jaar sportmotors gejaag en sal ná sewe jaar weer aan veldrenne deelneem.
“Ons is verheug om Buks en Harry aan boord te neem en verwag heelwat van dié span,” het André Botha van die Kopanong Hotel Superteam gesê. “Buks het ‘n ongelooflike rekord en saam met ‘n uiters ervare jaer soos Harry wat nou in die navigatorstoel sal wees, sal hulle ‘n gedugte kombinasie wees.”
“Met Buks en Harry in die span sal daar sonder twyfel druk op die huidige Klas S-jaerskampioen, Nic Goslar en Warren Bowie in die Kopanong Hotel-Raceco wees, maar kompetisie is ‘n goeie ding en ons verwag dat vriendelike wedywering tussen die Klas S-spanmaats sal ontwikkel,” het Botha bygevoeg.
Die Nissan-Sugarbelt 400 sal ‘n voortsetting van die privaatstryd tussen Carolin en die voormalige kampioen, Richard Schilling, sien met die verloorder wat R1 000 aan die Sunfield Huis moet oorhandig. Na die eerste ren was Schilling se beursie R1 000 leër en hy en sy navigator, Ashely Thorn, sal poog om dié naweek ‘n duik in Carolin se bankbalans te maak.
“Ek is baie gelukkig om deel van die Kopanong Hotel Superteam uit te maak en net so gelukkig dat Harry wat vir my in eerste nasionale kampioenskapsren in 1986 genavigeer het, die kajuit met my deel,” het Carolin gesê. “Harry het met enkelsitplekvoertuie deelgeneem en moes tegelykertyd bestuur en navigeer en om iemand met dié unieke ondervinding langs my te hê, sal beslis voordelig wees.”
Die Kopanong Hotel Supterteam hoop op podiumposisies vir John Weir-Smith en Geoff Minnitt (Klas A-Jimco), Buks en Harry, Nic en Warren, Klas D-nuwelinge, Chris Fick en Rob Knight (Land Rover) en Botha en Beans Heydenrych (Klas F-Chevrolet).