Die Caledon 400, die sesde ronde van die SA Nasionale Veldrenkampioenskap vir Vierwielmotorfietse wat op 24 en 25 September in die Tweespruit-omgewing in die Vrystaat plaasvind, sal ‘n groot toets vir die voorlopers in dié kampioenskap wees met slegs nege punte wat die eerste vier jaers van mekaar skei terwyl die res van die deelnemers in die top tien ook aan die deur vir die algehele titel klop.
Ná ‘n MSA-Raad van Ondersoek gevolg deur ‘n Raad van Appèl aangaande ‘n ongeluk tydens die Mafikeng 400 waarby die huidige kampioenskapvoorloper, Hendrik Potgieter (Bombardier Speed Quad) sowel as Stefan Coetzee (VLS Africa-VLS 550) wat tans tweede in die kampioenskap is, en Nico Harris (Ekerold Yamaha) betrokke was, het Potgieter uiteindelik sy voorsprong van drie punte op Coetzee behou nadat beide dié jaers eers gediskwalifiseer en later weer by die Mafikeng 400-resultate ingesluit is. Die bestendige Potgieter kon nog nie ‘n ren vanjaar wen nie terwyl Coetzee volpunte na die afgelope twee byeenkomste op die VLS, toegerus met ‘n KTM 550-enjin, behaal het.
Jacques Struwig (Southern Yamaha-YFZ450) kon nog net die openingsronde van die seisoen wen terwyl hy nie punte tydens die Noodsberg 400 kon aanteken nie. Struwig is drie punte agter Coetzee in die derde plek gevolg deur Carl Wichmann wat weer in die geel kleure van Ramco/Cell C-Suzuki sal deelneem. Wichmann het die uitmergelende Kalahari 1000 gewen en al kon hy nie punte tydens twee byeenkomste daarna aanteken nie, skei net drie punte hom van Struwig. Die jaers in die vyfde, sesde en sewende posisies word deur ‘n skrale twee punte geskei met Zane Davidson (Perry Yamaha-YFZ450) wat tot in die vyfde plek opbeweeg het nadat hy sy eerste podiumposisie tydens die laaste ren ingepalm het. Dit is sy eerste seisoen in die nasionale kampioenskap. Die huidige kampioen, Shaun Gunther (Bombardier Speed Quad) is ‘n enkele punt agter Davidson, maar alhoewel hy nie ‘n goeie seisoen tot dusver beleef het nie, kan hy steeds nie buite rekenskap gelaat word wat die kampioenskap betref nie. Gunther het die Caledon 400 laasjaar gewen na ‘n renlange stryd met Struwig en met geen oorwinnings tot dusver vanjaar agter sy naam nie, hoop hy om weer met die louere in die Vrystaat weg te loop. Hy word gejaag deur Ricky da Silva (Yamaha YFZ450) van KwaZulu-Natal, wat reeds twee keer vanjaar op die podium geëindig het en wel albei kere voor sy tuisskare.
Die res van die top tien-jaers het ‘n effense gaping tussen hulle, maar niemand is buite bereik vir sy naaste teenstander nie. Charles Jonker (Bombardier Speed Bike) is vier punte agter Da Silva nadat hy nie tydens die laaste twee renne enige punte kon aanteken nie terwyl die 2004-Dakar-kampioen, Cornel de Villiers (Bombardier Speed Quad) heelwat het om op te maak indien hy die voorste jaers wil vang. De Villiers het onlangs saam met sy spanmaats, Potgieter en Gunther, aan die 12 Ure-Pont de Vaux-ren in Frankryk deelgeneem en 29ste van die 120 spanne klaargemaak.
Die voorloper in die Senior-kampioenskap, Hennie Michau (Bombardier DS650) het in vier van die vyf byeenkomste vanjaar deelgeneem en het dié mededingende kategorie reeds drie keer agtermekaar gewen. As ‘n boer in die Tuinplaas-omgewing in die Limpopo-Provinsie oefen Michau met sy Bombardier deur oral op die plaas daarmee te “boer“ terwyl hy ook ‘n baan met heelwat draaie gemaak het om fiks te bly. Hy rond tans die top tien af met sy naaste teenstander, Christo van der Merwe (Yamaha YFZ450) in die 17de posisie algeheel gevolg deur Kevern Pelser, ook op ‘n Bombardier, verder af op die algehele punteleer.
In die Senior-kampioenskap vir jaers ouer as 38 jaar, is Michau 12 punte voor Van der Merwe wat die kategorie dié seisoen reeds een keer gewen het en drie keer derde klaargemaak het terwyl Pelser sewe punte agter die Yamaha-jaer is. Clifford Bennet (Bombardier) sal alles uithaal aangesien hy net ‘n enkele punt agter Pelser is met Reinhard Tonsing (Yamaha) tien punte agter Bennet. John Thipane (Bombardier) van Lesotho is binne trefafstand van Bennet met twee punte die verskil terwyl die huidige Senior-kampioen, Denis van der Merwe (Southern Yamaha-Raptor) weer net twee punte agter die Lesotho-jaer is.
Daar is ‘n paar jaers wat nie meer die kampioenskap kan wen nie, maar wel tussen die voorste jaers kan klaarmaak of die Caledon 400 selfs kan wen – Brendan Badenhorst (ATV Powersport-Yamaha YFZ450) was die vinnigste jaer na verskeie voorrenne vanjaar, maar meganiese probleme het hom verhoed om punte tydens die laaste drie renne aan te teken. En die plaaslike jaer van Bloemfontein, Leander Pienaar (Jet Sport-Bombardier) het sy eerste podiumresultaat tydens die Mafikeng 400 vroeër vanjaar behaal terwyl Dallie Terblanche (Salley’s Yamaha YFZ450) nog altyd vinnig was, maar nog net tydens een geleentheid vanjaar punte kon aanteken. Danie Coetzer en sy spanmaat, Kiri Oberholzer (Polaris SA Racing) kan ook vir ‘n opskudding tussen die voorste jaers sorg.
‘n Groot getal inskrywings word vir die Caledon 400 in die vierwielmotorfietskategorie verwag. Die ren begin Vrydag, 24 September, met ‘n 50 km-voorren wat die wegspringvolgorde vir die hoofren sal bepaal. Die eerste vierwielmotorfietsjaer sal Saterdag, 25 September, om 08h30 op een van die figuur-agt-roete se twee rondtes wegspring. Hulle moet die roete, wat vier berge insluit, twee keer voltooi.