Soos laas jaar sal die Carnival City 400 wat op 19 en 20 November plaasvind, die naelbyteinde van die Absa-Veldrenkampioenskap wees – behalwe dat alle oë vanjaar op die Algehele Produksievoertuig-kampioenskap gerig sal wees en nié op die Spesiale Voertuigkampioenskap nie.
Atang Makgekgenene en Buks Carolin (Total-Jimco) het onderskeidelik die Spesiale Voertuig-Jaers- en Navigatorskampioenskappe tydens die onlangse Toyota-handelaars 400 in Lydenburg ingepalm terwyl die Vryburg-gebaseerde Hugo en Jaap de Bruyn hul tweede Klas E-titel in die Castrol-Toyota Hilux 2,7i bymekaargemaak het.
In die Produksievoertuigkategorie sal niks in die stryd terug gehou word nie en die huidige kampioene, Hannes Grobler en Richard Leeke in die Trots Suid-Afrikaanse Nissan Hardbody, beplan om hul tweede agtereenvolgende kampioenskap in te palm. Vir hul spanmaats, die voormalige kampioene Giniel de Villiers en Francois Jordaan, is daar egter óók ’n tweede kampioenskapstitel in sig en sonder enige spanbevele sal dié stryd beslis een wees om dop te hou.
Die buiteperd in die prentjie is die Ford Racing Ranger van die voormalige kampioene en laas jaar se Carnival City 400-wenners, Neil Woolridge en Kenny Skjöldhammer. Dit sal wys vir die Ford-span wees om die druk op die Nissan-spanne te hou met die hoop dat indien hulle sou faal – soos wat laas jaar die geval was – hulle die kampioenskap onder hul neuse kan opraap.
‘n Interessante inskrywing is die Technosport-Hongaarse span van Sandor Kis en Pieter Czegledi wat een van die Trots Suid-Afrikaanse Nissan Hardbody-bakkies vir die Carnival City 400 gehuur het. Daar kan van die Dakar-veterane verwag word om ’n goeie vertoning te lewer alhoewel hulle slegs hier is om ondervinding van die plaaslike veldrenomstandighede in die Suid-Afrikaans geboude Nissan op te doen.
Nóg ’n span wat ’n roering in die duiwehok kan veroorsaak, is Cliff Barker en Vic Campher in die MGM Motors-Land Rover, wat ideaal vir die hoë-spoed karakter van die Carnival City 400-roete is, gaan deelneem. Mike Tomsett en Brian Haviland se vordering in die onberispelike AK Stone Guards-Mitsubishi Colt, sal met belangstelling dopgehou word.
Tot en met die Toyota-handelaars 400 het dit gelyk asof die Klas D-titel aan Alfie Cox en Ralph Pitchford in die Arnold Chatz Cars-Nissan Hardbody, wat vyf agtereenvolgende klasoorwinnings ingepalm het, sou gaan, maar ’n ren vol probleme het beteken dat hulle laag op die resultate klaargemaak het en die huidige Klas E-kampioene, Mark Cronje en Chris Birkin in die Castrol-Toyota Hilux 2,7i toegelaat het om die gaping kleiner te maak. Cronje sen deursettingsvermoë en renbeheer kan wel beteken dat hy en die veteraan, Chris Birkin, met die Klas D-titel wegloop. Maar hulle kan verseker wees dat die ervare Cox, bekend vir sy dapper, deurdrukvertonings op sy KTM in die Dakar-Ren, tot die bitter einde sal baklei.
Nóg Klas D-mededingers om op die uitkyk voor te wees, is pa en seun, Cliff en Louis Weichelt in die Bosal/N1 4×4-Toyota Hilux; die broers Mark en Stuart Moffat in die Bosal/N1 4×4-Land Rover; Chris Fick en Rob Knight in die Kopanong Hotel Superteam-Land Rover en Henri Zermatten, Bodo Schwegler in die Mastercraft/Playstation-Pajero; Hein Grobler/Gerhard Prinsloo, Johan Gerber/Willie van Straaten en JP Augustin/Roelof van Heerden in die GBS Racing-Nissan Hardbody-bakkies; Paolo Piazza-Musso en Rod Hering (Castrol-Toyota Hilux 2,7i); Manfred Schröder en Jack Peckham in die Ford Racing Ranger en Arnold du Plessis en George Baker in die BB Auto-Nissan Hardbody.
Met die druk van die De Bruyns in Klas E af, kan daar van hulle verwag word om, soos hulle vroeër in die seisoen gedoen het, druk toe te pas en selfs van die Klas D-spanne uit te stof. Hulle kan egter verkies om die rol te speel om die Ford Racing-ontwikkelingspan, Baphumze Rubuluza en Khulile Vakalisa, weg te hou sodat Gavin Cronje en Robin Houghton in die Castrol-Toyota Hilux 2,7i kan wen om hulle van die tweede plek in die klaskampioenskap te verseker.
Nodeloos om te sê, maar só ‘n plan kan maklik skeefloop, want Chris Visser en Japie Badenhorst (Tyco Trucks-Toyota Hilux 2,7i); Zane Pearce en Hennie Vosloo (Castrol-Toyota Hilux KZ-TE); Hein Moolman en Cecil Fincham (4×3 Mega World-Toyota Hilux KZ-TE) en Dirk van Reenen en Drik van Heerden Jr (Ford Ranger) is almal honger vir ‘n klasoorwinning en sal nie an dié taktiek deelneem nie.
Klas F was eintlik die hele seisoen ’n stryd met net een span en André Botha en Beans Heydenrych was die enkele inskrywing in die Kopanong Hotel Superteam-Chevy. Sommige Klas F-spanne wat aan die streekskampioenskap deelneem, word egter by die Carnival City 400 verwag en kan hulle van broodnodige mededinging voorsien.
Daar is geen twyfel dat die Spesiale Voertuig-kategorie, en veral Klas A vir onbeperkte spesiale raamvoertuie, ’n oorlogsone gaan wees nie.
Die nuutgekroonde Spesiale Voertuig- en Klas A-kampioene, Makgekgenene en Carolin, kan verlig wees dat hulle nie meer onder druk is nie, want daar is ten minste nege spanne wat om die opvolgposisie én die algehele oorwinning sal veg.
Die Nissan Sugarbelt 400-wenners, Mark Corbett en Juan Möhr in die Century Property Developments-BAT, sal die seisoen met ’n oorwinning by die Carnival City 400 wil afsluit en die opvolgposisie in die kampioenskap wil wen. Gary Bertholdt en Siegfried Rousseau in die Advansoft-BAT sal graag Bertholdt en Brandon Harcus se vertoning van laas jaar wil ewenaar deur die eerste voertuig by die einde te wees. Harcus, wat vanjaar teen Bertholdt in sy nuwe enkelsitplek-BAT wil deelneem, sal dié ren graag wéér wil wen. Die wenners van die Lesotho Sun 400, John Weir-Smith en Geoff Minnitt, wat die ren in die Bergkoninkryk gemis het, is desperaat om met die Kopanong Hotel Superteam-Jimco te wen en om die tweede plek in die kampioenskap te verseker.
Clint Gibson en Mike Brown (Praesidium Financial Services-BAT) sal graag ‘n debuutoorwinning wil aanteken en ook die tweede plek in die kampioenskap inpalm. Die veterane, Henry Kirstein en Renier Jooste beskik oor die spoed in die Atlas Copco-BAT, maar ’n string veldekskursies wat hul voertuig beskadig het, het hulle poging nie goed gedoen nie. Frikkie Botha en Blackie Swart het uiteindelik die Procoat-Jimco uitgesorteer en sal graag op hul derde plek tydens die Toyota-handelaars 400 wil voortbou deur die Carnival City 400 algeheel te wen. Shameer Variawa en Nadeem Dudhia moet die potensiaal van hul radikale Oven Fresh Biscuits-Porter bewys deur ’n oorwinning voor hul tuisskare te behaal terwyl Terence Marsh en Mike Whitehouse ’n teleurstellende seisoen in die Nashua Mobile Racing-Jimco agter die rug het met klein probleempies wat hulle net by drie renne nie gekniehalter het nie.
Gebaseer op huidige vertonings, moet die Klas B-oorwinning en die kampioenskap aan die voormalige Klas B-kampioene, Marcus Taylor en Marc de Chalain in die JRE gaan, maar daar is ook ’n hele boel spanne agter hulle wat hulle sal wil keer.
Die huidige Spesiale Voertuig- en Klas B-Jaerskampioen, Giel Nel (LUK/Ate-Truggy) moet slegs voor Taylor klaarmaak om die Klas B-Jaerstitel vir die soveelste keer te wen terwyl dit van Adri Roets in die Global DAD-WPP sal afhang of hy en Deon de Kock voor Taylor en De Chalain kan klaarmaak om te verseker dat De Kock met die Navigatorstitel wegloop.
Daar is heelwat vir dié drie spanne op die spel en hulle kan strawwe mededinging van die broers, Hamish en Alastair Stubbs in die Fence Erect-Viper verwag asook van die Zarco Lites van die broers Hendrik en Louis Fourie; Glenn Classen en Steve Parker en John Thomson en Clinton McNamara; die pa en seun Bes en Etienne Bezuidenhout in die Adenco-Sandmaster; die Ultimo-inskrywings van George Barkhuizen en David White; Ernest Corbett en sy skoonseun, Warwick Goosen in die Century Property Developments-BAT en die nuwelinge Evan Hutchinson en Claudia Bevilacqua in die splinternuwe Nissan-aangedrewe BAT.
Klas S vir onbeperkte spesiale voertuie met sleeparms as voorste veringstelsels, behoort ’n interessante stryd af te gee met die kampioenskapvoorlopers, Zane Noble en Richard Hope van Botswana, wat die span is om in die kragtige Abe’s Furniture-Aceco te klop. Die veterante, Nardus Alberts en Collin Hunter (Wrapsa-Raceco) het die Lesotho Sun 400 gewen en Archie Rutherford en Evan Hutchinson (Ruthcon-Raceco) het met die louere tydens die Toyota-handelaars 400 weggeloop en kan sake vir die Gaborone-gebaseerde span moeilik maak.
‘n Tikkie internasionale mededinging, verskeie kampioenskappe wat nog beslis moet word en ’n paar persoonlike sake wat reggestel moet word, sal beteken dat die Carnival City 400 vol intriges sal wees en dus ’n paslike einde aan die Absa-Veldrenkampioenskap.
Die Carnival City 400 begin op Vrydag, 19 November om 12h00 met die voorren wat uit drie rondtes van die 6 km-stadionbaan by die kompleks sal bestaan terwyl die hoofren, wat uit drie rondtes van ’n 135 km-sirkelroete sal bestaan, op Saterdag, 20 November, om 08h00 sal afskop. Die eerste voertuig word teen 13h30 by die einde verwag.