Meer as 80 inskrywings in die Spesiale en Produksievoertuig-kategorieë is vir die Carnival City Casino 400 (14 en 15 November) ontvang en dié ren beloof ‘n opwindende finaal van die SA Veldrenvoertuigkampioenskap wat deur Absa aangebied word en tans ‘n naelbytstryd is, te wees.
Alhoewel die Produksievoertuigkampioenskap, die Klas T- en E-jaers- en navigatorskampioenskappe reeds deur Hannes Grobler en Richard Leeke (Klas T-Trots Suid-Afrikaans Nissan Hardbody) en Mark Cronje en Chris Birkin (Klas E-Castrol-Toyota Hilux 2700i) onderskeidelik tydens die onlangse Toyota-Handelaar 400 opgeraap is, is daar steeds heelwat op die spel in ander klasse en veral in die Spesiale Voertuigkampioenskap.
Die meeste aandag sal op die Spesiale Voertuigkampioenskap gevestig wees waar vyf spanne ‘n kans staan om dié gesogte kampioenskapskroon te wen. Giel Nel (Klas B-Luk Africa-Truggy) mag dalk ‘n voorsprong van 27 punte in die Jaerskampioenskap hê, maar die moontlikheid dat hy voor drie Klas A-spanne – toevallig almal in BAT-voertuie – kan eindig, is maar skraal.
Die wenners van die Nissan-Sugarbelt 400, Gerald Mundell en Billy Bond (Prolong-BAT) asook die wenners van beide die Queen Motor Spares-Tarka 400 en die Sun City 400, Gary Bertholdt en Brandon Harcus (Adrenalise Corporate Entertainment-BAT) en die Klas A-nuwelinge, Clint Gibson en Mike Brown (Praesidium Financial Services-BAT) wat tydens die Toyota-Handelaars 400 vir die grootste gedeelte van die ren voorgeloop het om uiteindelik met 49 sekondes geklop te word toe hulle net voor die einde verkeerd gery het, kan almal by die agterdeur insluip om met die louere weg te loop.
Daar is egter ‘n paar Klas A-deelnemers wat nie meer die kampioenskap kan wen nie, maar wat die BAT-spanne se sake deurmekaar kan maak.
Die wenners van die Nissan-Handelaars 400 en die Oven Fresh Biscuits 500, Atang Makgekgenene en Mike Stangl; die Toyota 1000-wenners, John Weir-Smith en Geoff Minnitt; die Toyota-Handelaars 400-wenners, Mark Corbett en Juan Möhr (Century Property Developments-BAT) en die man- en vrou-span, Gerhard en Kobie du Plessis (Mobil-Jimco) is almal daartoe in staat om die Carnival City Casino 400 te wen en is die grootste bedreiging vir die kampioenskapmededingers.
Daar is meer as 20 inskrywings in Klas B vir Spesiale Voertuie wat met tweeliterenjins toegerus is en ook hiér is ‘n paar spanne wat reeds uit die kampioenskap is en net vir ‘n oorwinning sal jaag wat sake vir Nel asook die huidige Klas B-kampioene, Marcus Taylor en Marc de Chalain (Rollerbak Racing-JRE) wat ook ‘n kans op die algehele titel staan, moeilik kan maak.
Die buiteperde in Klas B is Hamish en Alistair Stubbs (Fence Erect-Viper), Henry Kristein en Renier Jooste (Atlas Copco-BAT), pa en seun Rob en Gareth Wark (O’Hagan’s/Kopanong Hotel Supterteam-Mighty Mag) en Andrew en Janet Fulton (Sandmaster).
Slegs drie inskrywings is in Klas S vir spesiale buisraamvoertuie met ‘n sleeparm-veringstelsel voor, ontvang en al wat die gesamentlike kampioenskapvoorloper, Nic Goslar saam met sy navigator, Warren Bowie in die O’Hagan’s/Kopanong Hotel Superteam-Raceco moet doen, is om klaar te maak om sodoende die Klas S-jaerskampioenskap in te palm.
Noudat hulle die Produksievoertuig- en Klas T-kampioenskappe gewen het, sal die druk op Grobler en Leeke minder wees, maar moenie verwag dat dié Nissan-span die wenpas wat hulle van ses oorwinning uit sewe renne verseker het, sal veslap nie.
Die ware stryd sal vir die tweede plek in Klas T wees waar slegs sewe punte Duncan Vos en Mike Griffith (Trots Suid-Afrikaanse Nissan Hardbody); die 2000-Carnival City Casino 400-wenners, Neil Woolridge en Kenny Skjöldhammer (Ford Racing Ranger); Apie Reyneke en Robin Houghton (Castrol-Toyota Land Cruiser) en Richard Carolin en ‘n navigator wat nog aangekondig sal word, in die Atlas Copco/Chicago Pneumatic-Jeep, skei.
Die drie fabrieksgesteunde spanne het elk ‘n beurt gehad om die onlangse Toyota-Handelaar 400 te lei en dit is veral die Ford- en Toyota-spanne wat desperaat is om Nissan ‘n segetog van 14 agtereenvolgende oorwinnings te breek.
Die Klas T-privaatinskrywings sluit Cliff Barker en Vic Campher (MGM Motors-Land Rover) en wat op hul tuisfront jaag, in asook Jannie Visser en Jaks le Roux in “Fred” – die Toyota Hilux waarmee Kassie Coetzee en Richard Leeke ‘n paar jaar gelede deelgeneem het; Mike Tomsett en Brian Haviland (Mitsubishi Colt) en die pa- en seun-spanne, Alfred en Tommy van Vuuren (Toyota Hilux) en Dirk en Dirk Jnr van Reenen (Dicor Engineering-Nissan Sani).
Die enigste Produksievoertuigklas wat nog nie bepaal is nie, is Klas D waar die stryd tussen Hein Grobler en Gerhard Prinsloo (GBS Racing-Nissan); die pa en seun, Johan en Marthinus van der Merwe (Chavani-Colt Rodeo) en Deon Schoeman en Jeremy Fall (Topcar/Ferodo-Nissan Hardbody) sal voortduur.
Daar was vyf verskillende Klas D-wenners dié seisoen met Alfie Cox en Hennie ter Stege (Arnold Chatz Cars-Nissan Hardbody) en die pa en seun, Cliff en Louis Weichelt (N1 4×4-Toyota Land Cruiser) wat elk twee oorwinnings behaal het terwyl Grobler/Prinsloo, die Van der Merwe’s en Shumie van Vuuren en Carlos de Abreu (Chibuku-Toyota Land Cruiser) wat elk een keer gewen het.
Cox het twee byeenkomste misgeloop as gevolg van oorsese renverpligtinge om aan die Egiptiese Rally en die UAE-Woestynuitdaging waar hy tweede algeheel met sy KTM klaargemaak het, deel te neem en met niks om in die kampioenskap te verloor nie, sal hy daarop uit wees om te wen. Dieselfde geld vir Piet Haasbroek en Freddie Scheepers (Castrol-Toyota Land Cruiser), Marius van Vuuren en Chris Mare (Alberante Autospray-Land Rover) en die broers, Mark en Stuart Moffat (McCarthy-Land Rover).
Die res van die GBS Nissan Racing-span wat uit vier spanne bestaan – Coetzee Labuschagne en Johan Gerber, man en vrou JP en Linda Augustin en MC Coetzee en Marius Liebenberg – sal hul spanmaats, Grobler en Prinsloo beskerm en sal seker maak dat hul teenstanders so ver as moontlik teruggehou word.
Klas E het net aan Mark Cronje en Chris Birkin behoort. Dié Castrol-Toyota-span het elke byeenkoms voltooi, die klas vyf keer gewen en die Klas E-kampioenskap in dié rensteljaer se debuutjaar ingepalm. Hul spanmaats, Kassie Coetzee en Ockie Fourie (Castrol-Toyota Hilux KZ-TE) en Manfred Schröder en Jack Peckham (Ford Racing Ranger) het die klas elk een keer dié seisoen gewen en behoort die grootste bedreiging vir die pasgekroonde kampioene te wees.
Ander deelnemers in Klas E sluit in Chris Visser en Japie Badenhorst in die Toyota Hilux van laasjaar se klaskampioene; die Nissan Hardbody-bakkies van die broers Jurie en André du Plessis en die man en vrou, Neels en Zelda van der Walt asook Hannes Steyn en Ferdi Seegers in die Toyota Hilux KZ-TE.
Die voorlopers in die Klas F-kampioenskap, Jaap Zeeman en Johannes Barwise (Ford Cortina) sal teen Andre Botha en Beans Heydenrych in die O’Hagan’s/Kopanong Hotel Superteam-Chevy asook Wynand Britz en Roy Clark in ‘n SVM te staan kom.
Die Carnival City Casino 400 begin op Vrydag, 14 November om 12:00 wanneer spanne aan die voorren wat uit twee rondtes van die 6 km-kortbaan by die kasino, sal deelneem. Die hoofren begin op Saterdag, 15 November om 08:00 en die eerste voertuig word teen 13:30 terug verwag.