Die Castrol-Toyota Hilux-veldrenspanne sien na uit die Mafikeng 500, die sesde ronde van die Absa-Veldrenkampioenskap vir Produksievoertuie, wat op 24 en 25 September 2004 in die Mafikeng-omgewing afspeel en dit sal vir hulle ‘n welkome verandering wees ná die laaste ren wat onlangs in die bergagtige Lesotho plaasgevind het.
En met die veldrenkampioenskap wat nou vinnig einde se kant toe staan en drie rondes afgehandel moet word, sal dié ren ‘n gulde geleentheid aan die vier Castrol-Toyota Hilux-spanne bied om punte in die algehele sowel as die verskillende klaskampioenskappe in te samel. Dié ren is gewoonlik een van die vinniger veldrenne op die kalender en behoort die bestuurstyl van die jonger rensteljaers veral goed te pas.
Laasjaar moes die huidige Klas E-kampioene, Mark Cronje/Chris Birkin (Castrol-Toyota Hilux 2,7i), redelik ver af op die wegspringrooster wegspring nadat hulle tydens die voorren verdwaal het. Cronje/Birkin het tot dusver vanjaar ‘n goeie klaarmaakrekord en is tans tweede in die Klas D-kampioenskap, net agter die ervare veldrenspan van Alfie Cox en Ralph Pitchford. Boonop neem hulle met ‘n viersilinder-Hilux in ‘n klas vir sessilindervoertuie deel en Cronje het reeds bewys dat hy by die sterker voertuie in dié uiters mededingende klas kan byhou.
Hul Klas D-spanmaats, Paolo Piazza-Musso/Rod Hering het ook hul eerste Lesotho-ren voltooi en tot die vierde posisie in dié klas opgeskuif terwyl hulle nou ook die tiende plek in die algehele kampioenskap vul. Piazza-Musso, soos die Cronje-broers, is ook ‘n ervare resteljaer en die vinniger roete behoort hom ook goed te pas. In Klas E is die Vryburgse besigheidspaar, Hugo en sy pa, Jaap de Bruyn, steeds die voorlopers alhoewel hulle, soos al die ander Klas E-deelnemers, nie die berge in Lesotho kon oorwin nie. Hulle het ‘n gerieflike voorsprong voor die res van die veld en is boonop aan die tipe terrein gewoond aangesien die Vryburg-omgewing soorgelyk aan Mafikeng in die Noordwes-Provinsie is.
Zane Pearce/Hennie Vosloo (Castrol-Hilux KZ-TE) en die nuweling, Gavin Cronje/Robin Houhgton (Castrol-Hilux 2,7i) sal graag nóg punte op die telbord wil sien nadat hulle nog net punte ná die uitmergelende Toyota 1000-Woestynren kon aanteken. Pearce/Vosloo was op ‘n stadium die klasvoorloper in Lesotho, maar het 7 km voor die einde gebreek terwyl Cronje/Houghton verder as die 5,8 km wat hulle in Lesotho bereik het, sal wil vorder.
Die Sun City 400-Klas E-wenners, Hein Moolman/Cecil Fincham (Toyota Hilux KZ-TE) is boere van die Delareyville-omgewing en is as boere ook aan dié tipe omgewing gewoond. Hulle hoop ook op ‘n goeie resultaat.