Die 2004-Absa-veldrenseisoen is amper iets van die verlede en daar is nog net twee renne op die kalender oor. En alhoewel daar effens druk op die amptelike Castrol-Toyota Hilux-veldrenspanne is van wie verwag word om resultate te lewer, stel hulle gewoonlik nie teleur nie.
Die twee amptelike Castrol-Toyota Hilux-fabrieksveldrenspanne bestaande uit die voormalige Rotax Max-Wêreldkampioene en baanrenbroers, Mark en Gavin Cronje, wat onderskeidelik saam met die veteraan-navigators, Chris Birkin en Robin Houghton deelneem, het vanjaar al bewys dat hulle ook hul man in veldrenne kan staan.
Mark Cronje en Chris Birkin in hul Klas D-Hilux 2,7i, een van die min viersilindervoertuie wat in dié klas teen sessilindervoertuie deelneem, het ’n bestendige seisoen tot dusver beleef en het vier tweede plekke in Klas D ingepalm. Dit plaas hulle in ’n stewige tweede posisie in dié uiters mededingende klaskampioenskap.
Dit is Cronje se tweede veldrenseisoen en tydens die Toyota 1000-Woestynren is hy deur die veelvuldige veldrenmotorfietskampioen en Dakar-veteraan, Alfie Cox, gekomplimenteer wat gesê het dat hy een van die taaiste deelnemers is teen wie hy al ooit meegeding het.
Alhoewel Mark ’n stil persoonlikheid het, is hy uiters mededingend en neem hy sy renloopbaan baie ernstig op en sy voorbereiding vir ’n byeenkoms is baie belangrik. ’n Besige daaglikse roetine maak dit vir hom moeilik om ’n voorgeskrewe dieet te volg, maar hy probeer om ’n gesonde lewenstyl te volg.
Dit sluit gereelde besoeke aan die gimnasium in en ’n fiets wat hy onlangs aangekoop het, help hom om ’n sekere fiksheidsvlak te behou. Sy liefde vir sy renstel-renloopbaan help hom ook om fiks te bly en om sy reaksies en konsentrasievlakke te verskerp.
Die dag voor hy aan ’n veldrenbyeenkoms deelneem, maak Mark seker dat hy die regte voedselsoorte inneem om hom deur ’n strawwe dag te sien waartydens hy en Birkin soms vir 400 km nie eers uit hul voertuig klim nie.
Cronje sorg dat hy nie dehidreer nie en eet pasta en hoender die vorige aand en semels en piesangs vir ontbyt om hom te help om sy beste in die Castrol-Toyota Hilux 2,7i te lewer.
Sy jonger broer, Gavin, geniet sy debuut-veldrenseisoen saam met die ervare en veelvuldige navigatorkampioen, Robin Houghton, in ’n soortgelyke Klas E-Hilux 2700i. Gavin het goed by die verandering van baan- na veldrenne aangepas en alhoewel hy ’n paar aanvangsprobleme ondervind het, doen hy waardevolle ondervinding met elke ren op.
Soos sy broer, Mark, besoek Gavin die gimnasium ten minste drie keer per week waar hy ’n kardiovaskulêre program volg. Wanneer hy nie aan veldrenne deelneem nie, bring hy tyd in die sitplek van sy renstel deur.
Sy bedrywige skedule laat hom darem toe om sommige “verbode” kossoorte soos sjokolade en peuselhappies in te neem, maar hy verkies kalamari en koningklipvis.
Beide Gavin en Mark het onlangs die eiedomsmark betree en geniet dit om die bietjie van die vrye tyd tot hul beskikking saam met hul meisies en vriende tuis deur te bring.
Die twee spanne, saam met hul spanmaats, Paolo Piazza-Musso/Rod Hering (Klas D-Hilux 2,7i) en Zane Pearce/Hennie Vosloo (Klas E-Hilux KZ-TE) sal tydens die Toyota-Handelaars 400 wat op 22 en 23 Oktober in die Lydenburg-omgewing plaasvind, in aksie wees.