Die Castrol-Toyota-Veldrenspan is vol vertoue nadat drie van hul vier Hilux 2,7i-bakkies hoog op die resultate tydens die 25ste Toyota 1000-Woestynren in Botswana geëindig het en het hul visiere vir die komende Sun City 400 selfs hoër ingestel.
Gavin Cronje en Robin Houghton (Castrol-Toyota Hilux 2,7i) het hul gehawende, maar meganies gesonde voertuig in die derde posisie huis toe gebring na ’n renlange stryd met die Klas D-wenners, Henri Zermatten en Bodo Schwegler in die Pajero. Hulle het die tweede plek met ’n skrale 6,3 sekondes gemis ná taai ren van 1 000 km. Dié paar kon nie laas jaar die Sun City 400 voltooi nie en ’n goeie resultaat is belangrik om hul tweede posisie in die Absa-Veldrenkampioenskap én die Klas D-kampioenskap te behou.
“Ek is steeds in die wolke ná die Toyota 1000-resultate,” het Gavin Cronje vol selfvertoue gesê. “Ek het nie die Sun City 400 voltooi nie en sal dus alles in my vermoë doen om nóg ’n podiumposisie én ons kampioenskapposisie te verseker sonder om die Hilux te beskadig.”
“Ek weet dat ek ’n reputasie as die span se botstoetsjaer ontwikkel het en daar word in die werkswinkels gegrap dat indien ’n onderdeel een ren op my Hilux kan deurstaan, dit vir altyd op die ander voertuie sal hou.”
Paolo Piazza-Musso en Ockie Fourie het hul eerste ren van die 2005 Absa-Veldrenkampioenskap voltooi en dit was ’n resultaat wat onthou sal word. Die voormalige tydrenjaer se Castrol-Toyota Hilux 2,7i het koppelaarprobleme tydens die voorren opgedoen wat beteken het dat hy Renseksie 1 uit die 58ste posisie aangepak het. Hy moes versigtig met ’n siek ratkas deur die dag werk en het Renseksie 1 in die 13de plek voltooi en na ’n probleemvrye Renseksie 2, was hy en Fourie sesde algeheel en vierde in Klas D. Tydens laas jaar se Sun City 400 het Piazza-Musso 11de algeheel en vierde in Klas D klaargemaak en hy is vol vertroue dat hulle vanjaar heelwat hoër op die resultate kan eindig.
“Ons was die enigste Castrol-Toyota-span wat laas jaar die Sun City 400 kon voltooi en ons hoop om ons 11de posisie te verbeter deur dié keer op die podium te eindig,” het Piazza-Musso gesê. “Baie van die Pilanesberg-terrein is dieselfde as wat in tydrenne gebruik word en ek sal in my element wees.”
Die grootste transformasie in die Castrol-Toyota-span, is Zane Pearce en Hennie Voslooi in die Klas E-Castrol-Toyota Hilux 2,7i. In 2004 kon hulle net een ren voltooi, maar dié seisoen het hulle elke ren voltooi en is hulle nou die Klas E-kampioenskapvoorlopers nadat hulle die klas tydens die Toyota 1000 gewen het. Hulle was tweede in KwaZulu-Natal en derde in die Wes-Kaap en is die enigste Klas E-span wat elke ren tot dusver vanjaar kon voltooi.
“Ek het vanjaar ’n nuwe blaadjie omgeslaan en het besluit dat dit alles daaroor gaan om die Hilux te spaar en ’n 100%-klaarmaakrekord in die Klas E-kampioenskap te behaal,” het Pearce gesê. “Ek het werklik by die petrolaangedrewe Hilux aangepas en dit is ’n plesier om te bestuur.”
Mark Cronje en Chris Birkin het nie die beste seisoen tot dusver in die Klas D-Castrol-Toyota Hilux 2,7i beleef nie en kon nog net een ren voltooi. Die paar het vir 75% van die Toyota 1000 om die algehele voortou meegeding voordat die ratkas die gees gegee het. Hulle het derde in die Produksievoertuigkategorie gekwalifiseer en was by Renseksie 1 se sentrale dienspunt 6 min 30 sek agter die uiteindelike wenner, Alfie Cox, in die kragtige Klas F (voorheen Klas T). Hulle het Renseksie 2 13 min 47 sek agter die huidige Klas D-jaerskampioen aangepak.
“Ons is natuurlik baie teleurgesteld oor die Toyota 1000, omdat ons bewys het dat ons oor die pas en die voertuig beskik om die res van die Klas D-veld en selfs die groot kanonne in Klas F die stryd aan te sê,” het Mark Cronje gesê. “Die Toyota-tegnici het uitstekende werk gedoen om die voertuig vir die Sun City 400 gereed te kry en ons sien uit na ’n podiumresultaat.”
Toyota loop voor in die Absa-Veldrenvervaardigerskampioenskap en is 95 punte voor Ford en 99 punte voor Nissan.