Daar is ook ’n bykomende aanmoediging vir die Castrol-Toyota-span vir dié strawwe byeenkoms wat herinneringe van die Dak van Afrika-Tydren sal terugbring. Toyota gaan na Lesotho met ’n skrale 66 punt-voorsprong bo Nissan in die Suid-Afrikaanse Veldren-vervaardigerskampioenskap.
“Dit is ’n belangrike ren vir ons,” het Toyota se Motorsportbestuurder, Wammy Haddad, gesê. “Ons is die voorste vervaardiger in beide die veldren- en die tydrenkampioenskappe en ons sal dus op ’n groot poging van almal wat betrokke is, staatmaak.“
Daar is ook ’n bykomende aansporing vir die spanne, wat almal met Castrol-Toyota Hilux 2,7i-modelle deelneem, om hul punteposisies in die algehele en klaskampioenskappe te verbeter. Die Toyota-spanne is goed in beide kategorieë geposisioneer met Gavin Cronje en die veelvuldige Suid-Afrikaanse kampioen, Robin Houghton, wat derde op die algehele punteleer en tweede in Klas D is.
“Ons het laas jaar ’n moeilike ren beleef en sal dit eerder wil vergeet,” het die jongste Cronje-broer, wat sy veldrendebuut laas jaar gemaak het, gesê. Sedertdien het Cronje ondervinding opgedoen en selfvertroue bygekry.
“Ons mik vir ’n goeie resultaat en ek het baie sedert laas jaar geleer,” het Cronje gesê. “Ek het vertroue in myself en die voertuig en dit is goed om iemand soos Robin langs my te hê.”
“Dit gaan ’n taai ren wees, maar dit is belangrik dat ons klaarmaak en ons kampioenskapaanslag lewendig hou.”
Hul tweede algehele plek en Klas D-oorwinning tydens die Sun City 400 is nog vars in ouboet Mark en Chris Birkin se geheue en hulle is sesde in die algehele kampioenskap en het tot die vierde plek in die Klas D-kampioenskap beweeg. Dié paar het ’n top vyf-posisie in Lesotho tot hul krediet, maar sal dié keer graag beter wil doen.
“Ons het ’n goeie voertuig wat goed voorberei is en sien daarna uit om in Lesotho deel te neem,” het Cronje gesê. “Die Sun City 400-resultaat was ’n moraalinspuiting en was ’n goeie beloning vir die tegniese span se harde werk.”
“Met die veranderings wat aan die roete aangebring is, hoop ons dat dit ’n volwaardige veldrenbyeenkoms gaan wees en nie ’n 4×4-jamboree nie.”
Die voormalige tydrenjaer, Paolo Piazza-Musso en Ockie Fourie is nóg ’n Castrol-Toyota-span wat in Klas D deelneem en is 14de in die algehele kampioenskap en agtste in Klas D, maar hulle hoop om met die punteleer op te beweeg. Dié span het uit ’n betroubaarheidsoogpunt ook nie die beste van seisoene beleef nie.
“Ons moet iets aan ons kampioenskapposisie doen,” het Piazza-Musso gesê. “Ek het my eerste voorsmakie van Lesotho in die Stadium Truck in 1997 gehad en dit gaan rof wees.
“Die hoofdoel is om by die einde te kom en soveel punte as moontlik aan te teken.”
Die Klas E-voorloper, Zane Pearce, sal weer met Hennie Vosloo vir die Lesotho Sun 400 saamspan. Pearce is voor in die Klas E-jaerskampioenskap, maar Vosloo, wat die Sugarbelt 400 en Sun City 400 gemis het, het tot die vierde plek in die navigatorskampioenskap teruggeval. Pearce is sewende in die algehele kampioenskap en Vosloo 13de.
“Ek het elke ren tot dusver dié seisoen voltooi en ons hoop om op daardie rekord voort te bou,” het Pearce gesê. “Ons het laas jaar nie ’n goeie ren beleef nie en het uiteindelik sewe kilometer voor die einde gebreek.”
Pearce hoop ook om ’n nare ondervinding soos dié wat hy tydens laas jaar gehad het, te vermy. Nadat hulle vir die laaste keer gebreek het, moes hy ’n plaaslike inwoner R200 vir ’n saamrygeleentheid na die aangewese dienspunt betaal.
“Sy voertuig was ’n ou, stukkende bakkie en ek het te laat agtergekom dat dit geen remme het nie,” het Pearce gesê. “Die bestuurder was ’n joviale man, maar hy het gevoel dat hy my met sy bestuursvernuf moes beïndruk.”
“Om sonder enige remme teen steil bergpasse af te ry, was aaklig en ek was nogal bang. Ek was nog nooit in my lewe so bly om uit enige voertuig te klim nie.”
Haddad, ’n ervare mededinger, is versigtig optimisties. “Die span het heelwat ondervinding,” het hy gesê, “en hopelik doen ons nie meganiese probleme op nie.
“Die tegniese spanne het baie werk na die Sun City-byeenkoms gedoen en hulle is vol vertroue. Al wat ons in Lesotho moet doen, is om skouer aan die wiel te sit en die werk te doen.”