Mark Cronje en Chris Birkin van Castrol-Toyota het vir ‘n teleurstellende Nissan-Sugarbelt 400, die openingsronde van die Absa-Veldrenkampioenskap wat hulle laas maand nie kon voltooi nie, opgemaak deur derde algeheel in die Produksievoertuigkategorie en tweede in Klas D tydens dié naweek se Nissan-handelaars 400 in die Wes-Kaap te eindig.
Die voormalige Klas E-kampioene en met een punt die naaswenners tydens laas jaar se Klas D-kampioenskap, het ‘n skoon lopie in die Castrol-Toyota Hilux 2,7i ondervind, maar kon nie met die spoed van die V6-aangedrewe Span Ford Racing Ranger van Manfred Schröder en Alec Harris, wat tweede algeheel klaargemaak het en Klas D vir die tweede agtereenvolgende keer gewen het, meeding nie.
“Dit was frustrerend, want ek het Schröder in die taai gedeeltes gevang, maar wanneer dit by die lang, oop seksies en die dik sand kom, speel die wringkrag van die kragtiger vierliter-Ford ‘n groot rol en verloor ek al die voordeel wat ek opgemaak het,” het Cronje gesê. “Ek kan nie wag vir die bekendstelling van die nuwe Superproduksieklas waar al die voertuie oor dieselfde spesifikasies beskik en die bestuurder se vermoëns die verskil maak en nie net die voertuig se verrigting nie.”
Sy broer, Gavin, en die veelvuldige navigatorskampioen, Robin Houghton, het 18de in die Klas D-Castrol-Toyota Hilux 2,7i begin en hul pad tot by die 15de posisie aan die einde van die eerste rondte opgewerk terwyl hulle aan die einde van die tweede rondte 11de was en uiteindelik 8ste algeheel, vierde in die Produksievoertuigkategorie en derde in Klas D by die einde aangekom het.
“Dit was my eerste besoek aan die Wes-Kaap en dit was nogal rof,” het Gavin Cronje gesê. “Ek het die vinnige gedeeltes regtig baie geniet. Dit is seker omdat ek ‘n baanrenagtergrond het, maar die dik sand het rof met my arms en skouers gewerk.”
“Die ruitveërs het gestaak en ons moes gereeld stop om die windskerm skoon te maak wat ons ten minste vyf minute gekos het. En om dit alles te kroon, het ons die Hilux in die dik sand laat vasval en Chris Visser het ons uitgesleep. Dit het ons nóg vyf minute gekos.”
Die privaatspan, Chris Visser en Japie Badenhorst, het ‘n foutlose vertoning in die Tyco Trucks-Toyota Hilux 2,7i gelewer en vyfde in die Produksievoertuigkategorie klaargemaak terwyl hulle Klas E voor die huidige Klas E-kampioen, Hugo de Bruyn, opgeraap het. De Bruyn is geforseer om alleen deel te neem nadat sy pa, Jaap, voedselvergiftiging opgedoen het. De Bruyn het 15de weggetrek, tot die 25ste plek na die eerste rondte teruggeval het toe die kragstuur die gees gegee het, sy pad weer tot die 18de posisie aan die einde van die tweede rondte oopgeveg en uiteindelik 12de algeheel klaargemaak – sesde in die Produksievoertuigkategorie en tweede in Klas E.
Die Durbaniete, Zane Pearce en Hennie Vosloo, het nóg ‘n bestendige vertoning in die Castrol-Toyota Hilux 2,7i gelewer toe hulle sewende in die Produksievoertuigkategorie en derde in Klas E geëindig het.
Die egpaar, Marius en Tracey van Vuuren, is vertraag toe hulle vir die ambulans en familie van hul Bosal N1 4×4-spanmaats, die pa- en seun-span Cliff en Louis Weichelt, gewag het nadat hul Klas D-Toyota Hilux V6 teen ‘n hoë spoed met ‘n boom gebots het. Gelukkig het dié span nie ernstige beserings opgedoen nie – Weichelt Snr moes enkele steke aan sy been ontvang. Die Van Vuurens het negende in die Produksievoertuigkategorie klaargemaak en was vierde in Klas D in hul Toyota Hilux 2,7i.
Die Nissan-handelaars 400 se Klas D-wenner laas jaar, Paolo Piazza-Musso en Ockie Fourie, het 19de in die Klas D-Castrol-Toyota Hilux 2,7i begin en tot die 15de posisie by die 145 km-merk opbeweeg toe die ratkas die gees gegee het en hulle verplig was om te onttrek.
“Ek is tevrede met die span se vertoning in die Wes-Kaap veral omrede ons ses van die top tien-posisies in die Produksievoertuigkategorie opgeraap het,” het Toyota se Motorsportbestuurder, Wammy Haddad, gesê. “Al wat Mark nodig gehad het om Schröder onder meer druk te plaas, was meer wringkrag.”