SA VELDRENKAMPIOENSKAP… AANGEBIED DEUR ABSA CRONJE ‘N BEDREIGING VIR GROBLER IN PRODUKSIEVOERTUIGKAMPIOENSKAP Die Trots Suid-Afrikaanse Nissan-span, Hannes Grobler en Richard Leeke se voorsprong bo Mark Cronje en Chris Birkin (Castrol-Toyota Hilux 2700i) in die SA Veldrenkampieonskap vir Produksievoertuie wat deur Absa aangebied word, het heelwat gekrimp na die onlangse Queen Motor spares-Tarka 400.
Slegs sewe van die agt rondes tel vir die kampioenskap en Grobler en Leeke, wat die eerste vier byeenkomste van die seisoen gewen het en vierde in Tarkastad klaargemaak het, moet 24 punte laat vaar in vergelyking met die tien van Cronje en Birkin. Grobler en Leeke het remprobleme tydens die eerste sirkelroete ondervind en ratkasprobleme tydens die tweede rondte van die Queen Motor Spares-Tarka 400 en moes uiteindelik met die vierde plek tevrede wees.
Cronje en Birkin, een van slegs vier spanne wat elke byeenkoms tot dusver vanjaar kon voltooi, het ‘n probleemvrye ren in hul bakkie, wat amper standaard is, ondervind en het sesde algeheel en eerste in Klas E geëindig en is nou net 16 punte agter die kampioenskapvoorlopers.
Indien hulle graag die kampioenskap wil wen, kan nie een van die twee spanne bekostig om enige van die laaste drie rondes nié te voltooi nie, want daar is nog ‘n moontlike vyf spanne wat ‘n kans staan om dié titel voor hul neuse op te raap.
Kassie Coetzee en Ockie Fourie in die Castrol-Toyota Hilux KZ-TE het ‘n bestendige seisoen beleef en het ‘n oorwinning en twee tweede plekke in Klas E behaal en is net 21 punte agter die voorlopers. Ten spyte daarvan dat hul 50ste algeheel en 25ste in die Produksievoertuigkategorie begin het en boonop voorwielaandrywing teen die einde van die ren in Tarkastad verloor het, het die veteraan tyd- en veldrenjaer negende algeheel en tweede in Klas E geëindig.
Die voormalige kampioene, Giniel de Villiers van Stellenbosch, en Francois Jordaan (Trots Suid-Afrikaanse Nissan Hardbody) het van die begin tot die einde by Tarkastad voorgeloop en 35 punte by hul totaal bygevoeg en het van die sewende tot die vierde plek in die kampioenskapstryd opgeskuif. Hulle is 45 punte agter hul spanmaats, maar slegs ses punte voor die besigheidsman van Pietermaritzburg, Neil Woolridge en Kenny Skjöldhammer in die Ford Racing Ranger wat vier plekke gewen het nadat hulle tweede in Tarkastad klaargemaak het.
Die pa en seun van Harrismith, Johan en Marthinus (16) van der Merwe, wat 12de algeheel en derde in Klas D in die Chavani-Colt Rodeo tydens die Queen Motor Spares 400 geëindig het, het genoeg punte bymekaar gemaak om hul Klas D-voorloperposisie voor die besigheidsmanne van Klerksdorp, Hein Grobler en Gerhard Prinsloo (GBS Racing-Nissan Hardbody) te behou, maar het ‘n posisie in die alghele kampioenskap teruggeval as gevolg van die goeie vertoning van die Klas T-brigade.
Die Tosca-boer, Apie Reyneke en Robin Houghton se derde plek tydens die Queen Motor Spares-Tarka 400 het aan hulle 26 punte besorg en die Castrol-Toyota Land Cruiser-span is nou gelyk sewende met Manfred Schröder en Jack Peckham in die Klas E-Ford Racing Ranger.
Die KwaZulu-Natal-suikerrietborere het ‘n droewige tyd in Tarkastad beleef en is deur ‘n verskeidenheid van probleme gekniehalter. Dit sluit in ‘n pap band, ‘n verkoelingwaaier wat opgepak het, ‘n stukkende enjinhegtingspunt en ‘n gebreekte wringstaaf wat hulle gedurende die ren geruil het deur een van Zane Pearce se stukkende Hi-Q-Ford Ranger af te haal.
Scott Abraham (22) en Richard Carolin het 49ste algeheel en 24ste in die Produksievoertuigkategorie begin nadat hulle die Atlas Copco/Chicago Pneumatic-Jeep tydens die voorren van die Queen Motor Spares-Tarka 400 in ‘n donga laat vasval het. Hulle het sewende algeheel en sesde in Klas T agter al die fabrieksinskrywings klaargemaak om die negende posisie in die algehele kampioenskap te behou, maar het van die gesamentlike tweede tot die vierde plek in die Klas T-kampioenskap teruggeval.
Grobler en Prinsloo (GBS Racing-Nissan Hardbody) kon nie die Tarkastad-byeenkoms voltooi nie en het van die vierde tot die tiende plek in die algehele kampioenskap teruggesak en is nou vier punte agter die Klas D-kampioenskapvoorlopers. Hulle is ook onder druk van Deon Schoeman en Jeremy Fall wat tans derde in Klas D en slegs vier punte agter in hul Topcar-Nissan Hardbody is.
Drie spanne het die Spesiale Voertuigkampioenskap dié seisoen oorheers met Giel Nel (Luk Africa-Truggy), Gerald Mundell en Billy Bond (Prolong-BAT) en Marcus Taylor en Marc de Chalain (Rollerbak Racing-JRE) wat in ‘n titaniese stryd vir die titel gewikkel is.
Nel, die Klas B-kampioenskapleier, het die algehele kampioenskap gedurende die eerste helfte van die seisoen gelei, maar die KwaZulu-Natal gebaseerde Mundell en Bond was die voorlopers in die jaers- en navigatorskampioenskappe na die Oven Fresh Biscuits 500 met ‘n enkele punt en sewe punte onderskeidelik.
Nel het sesde algeheel en tweede in Klas B tydens die Queen Motor Spares-Tarka 400 geëindig en 26 punte ingesamel in vergelyking met die 20 van Mundell en Bond wat nou vyf punte in die algehele kampioenskap agter die besigheidsman van Germiston is.
Die KwaZulu-Natal-boer, Marcus Taylor en Marc de Chalain is die huidige Klas B-kampioene, maar kon slegs ‘n enkele oorwinning dié seisoen behaal. Hulle is derde in die algehele kampioenskap met Taylor derde in die Klas B-jaerskampioenskap en De Chalain tweede in die Klas B-navigatorskampioenskap.
Nic Goslar (O’Hagan’s/Kopanong Hotel Superteam-Raceco) het van die agtste na die vierde plek in die alghele kampioenskap opgeskuif en is die voorloper in die Klas S-jaerskampioenskap nadat hulle derde algeheel en eerste in Klas S tydens die Queen Motor Spares-Tarka 400 geëindig het. Nuweling-Goslar kan nie bekostig om te ontspan nie, want die besigheidspaar van Botswana, Mohammed Noor en Mohammed Moultsen (Superveg-Raceco) is slegs vier punte agter hom in die Klas S-kampioenskap.
Die wenners van die Nissan-Handelaars 400 se Spesiale Voertuigkategorie asook die Oven Fresh Biscuits 500, Atang Makgekgenene en Mike Stangl (Total/SAM Racing-Jimco), moes na die eerste rondte by Tarkastad onttrek. Die besigheidsman van Botswana het ‘n posisie teruggeval en is tans vyfde in die jaerskampioenskap terwyl Stangl sy derde plek ind ie navigatorskampioenskap behou het.
Die Queen Motor Spares-Tarka 400-wenners, Gary Bertholdt en Brandon Harcus (BAT) het met die kampioenskapsleer opgeskiet en is onderskeidelik sesde en vierde in die jaers- en navigatorskampioenskappe.
Die plaaslik-ontwerpte en vervaardigde BAT-voertuie het ‘n krag geword waarmee rekening gehou moet word en behalwe dat hulle Tarkastad algeheel gewen het, was hulle ook eerste in Klas B met Clint Gibson en Mike Brown in die kajuit van die Praesidium Financial Services-BAT. Die KwaZulu-Natal-geabaseerde span is sewende in die algehele jaerskampioenskap en vyfde in die algehle navigatorskampioenskap met Gibson derde en Brown tweede in Klas B.
Daar is baie op die spel vir sommige van die gevestigde name asook heelwat nuwelinge in die SA Veldrenkampioenskap wat deur Absa aangebied word, en die oorblywende drie rondes van die kompetisie beloof kookwater te wees.
Die volgende ronde van die kampioenskap is die Sun City 400 op 26 en 27 September 2003.