Die Dak van Afrika-Tydren wat in 1965 vir die eerste keer in Lesotho plaasgevind het, het veldrenne in Suidelike Afrika belangrik laat word.

Motorvoertuie het laas in die jaar 2000 aan die Dak, soos dit algemeen bekend staan, deelgeneem en vanjaar keer die vierwielgemeenskap weer terug vir die Lesotho Sun 400, die vyfde ronde van die Absa-Veldrenkampioenskap wat op 20 Augustus begin.

Baie van die top-deelnemers in die Produksie- en Spesiale Voertuigkategorieë insluitende Richard Schilling, Hannes Grobler, Cliff Barker, Mike Reddin, Henri Zermatten, Richard Leeke, Neil Woolridge, Kenny Skjöldhammer, Alfie Cox en Ralph Pitchford het in die verlede suksesvol aan die Dak van Afrika-ren, ‘n byeenkoms wat oor drie dae en ‘n afstand van 1 000 km plaasvind en ‘n Tussen die Huise-gedeelte insluit wat in die strate van Maseru gebeur, deelgeneem.

Vandag is Maseru ‘n bedrywige, moderne stad en as gevolg van voortdurende ontwikkeling kan net motorfietse en vierwielmotorfietse aan die tradisionele Tussen die Huise-rengedeelte deelneem.

Tydens die Lesotho Sun 400 sal die deelnemers ‘n spesiale sneltrajek van 4 km by die Maseru-renbaan, of die Pope’s Stadium soos daar in die algemeen na verwys word, voltooi wat op Vrydag, 20 Augustus om 12h00 begin voordat hulle na Roma beweeg vir ‘n 40 km-voorren. Saterdag se hoofren sal uit twee sirkelroetes van 170 km bestaan wat in die laaglande suidoos van Maseru sal plaasvind en die eerste voertuig sal om 07h00 by Matsieng vertrek.

Die eerste Dak van Afrika-tydren in 1965 het in Johannesburg begin. Die spanne het dan na Butha Buthe beweeg waar hulle Lesotho binnegegaan het, oor die Motengpas na Oxbow gery het en verder verby die diamantdelwery by Letseng Le Terai en aan na Tlokoeng. Hulle het by die Mokhotlong-Sanipaspad aangesluit en is met Sanipas af om uiteindelik in Durban klaar te maak. Die legendariese Jan Hettema het die inwydingsbyeenkoms in ‘n standaard-Volvo gewen.

In 1969 het Eddie Keizan die Dak van Afrika in ‘n Land Rover gewen en dit is eers 25 jaar later dat ‘n Land Rover dit weer gewen het. Dié keer was dit Cliff Barker en Mike Reddin wat nou hul uittrede opsy geskuif het om aan die Lesotho Sun 400 in ‘n BMW M3-aangedrewe Land Rover Defender 110 deel te neem.

Arthur Harcus, pa van Brandon Harcus, die meesterbrein agter die plaaslik-ontwerpte en geboude BAT-voertuie, het in 1978 sesde algeheel in ‘n Ventura klaargemaak en die Dak van Afrika die volgende jaar gewen in 1980 tweede geëindig.

Nóg ‘n veldrenlegende, Franz Czepek, wat vyf Spesiale Voertuigkampioenskappe in agt jaar gewen het, het sy eerste Dak in 1977 gewen en dit 20 jaar later, eers in 1997 weer herhaal – dié keer saam met sy seun, Frans Jr.

Ford Racing se Neil Woolridge en Kenny Skjöldhammer, albei voormalige veldrenmotorfietskampioene, is die enigste twee Suid-Afrikaners wat die Dak op twee en met vier wiele gewen het. Woolridge het die byeenkoms met ‘n Kawasaki in 1984 gewen en in ‘n Mitsubishi Pajero in 1999. Skjöldhammer het met ’n KTM in 1976 gewen, was tweede in 1978 en 1979 en vierde in 1982. Robin Yates en Skjöldhammer het die Spesiale Voertuigkategorie in 1989 in ‘n Durex-Raceco gewen.

Hannes Grobler en sy navigator, Piet Swanepoel, het die Dak in 1986 en 1988 in ‘n Nissan Safari gewen terwyl Grobler se huidige navigator, Richard Leeke die algehele oorwinning in 1993 met Kassie Coetzee in die bestuurdersitplek van ‘n Toyota Hilux gedeel het.

Richard Schilling wat met die Plastotech-Raceco gaan deelneem, was al drie keer agtermekaar die algehele wenner van die Dak van Afrika. In 1990 was dit hy en Fred Levesque in ‘n Chenowth; in 1991 saam met navigator, Rob Wark in ‘n Raceco en in 1992 saam met navigator Ashley Thorn in ‘n Raceco. In 1999 was Thorn die navigator in ‘n kontroversiële driemanspan wat Stanley Illman en Frans Stangl as bestuurders van die wen-Raceco ingesluit het.

Mark Corbett en Juan Möhr het in 2000 gewen en dit was die laaste jaar dat die motorvoertuie aan die Dak van Afrika-ren deelgeneem het.

Die Lesotho Sun 400 het ‘n spesiale betekenis vir die Klas D-kampioenskapsvoorloper, Alfie Cox, alhoewel enige resultaat nie by sy lys van Dak van Afrika-suksesse getel sal kan word nie. Cox het die Dak nege keer met ‘n motorfiets gewen en sy eerste algehele oorwinning in 1988 aangeteken. Hy het sy wenlopie tot in 1991 volgehou en ook in 1993, 1994, 1995, 1997 en 2001 gewen.