Die Suid-Afrikaanse Veldrenkampioenskap vir Spesiale Voertuie wat deur Absa aangebied word, het ‘n oorlogsterrein geword waar die plaaslik-ontwerpte en vervaardigde BAT-voertuie met die magtige ingevoerde Amerikaanse Jimco’s en Chenowths kragte meet.
Die strydveld tussen die mededingende spanne sal Sun City 400 (26 en 27 September 2003) wees en niemand kan seker wees wie die wenner na ‘n taai 390 km-ren in die Pilanesberg-omgewing gaan wees nie.
Sewe BAT-spanne het in Klas A en Klas B ingeskryf met die tweemalige FIA Wêreld-Groep N-Tydrenkampioen en voorste jaer in die New Dimension X-Raid BMW-span wat hul debuut tydens die 2003-Dakar gemaak het, die Belg Gregoire de Mevius, wat sy eerste verskyning in SA sal maak wanneer hy die Audi V8-aangedrewe Adrenalise Corporate Entertainment-BAT sal bestuur.
Behalwe vir De Mevius en Andrew “VZ” van Zyl, is daar nog vier BAT-voertuie in Klas A wat die Nissan-Sugarbelt 400-wenners, Gerald Mundell/Billy Bond (Prolong-BAT) insluit asook Danie Marais/Andrew Utterson (Intelegence Telecoms-BAT): die voormalige Spesiale Voertuig-kampioen, Mark Corbett/Jason Bruwer (Century Property Developments-BAT) en die Queen Motor Spares-Tarka 400-wenners, Gary Bertholdt en Brandon Harcus.
Die gedugte BAT-groep kan strawwe mededinging van die Nissan-Handelaar 400- en Oven Fresh Biscuits 500-wenners, Atang Makgekgenene en Mike Stangl in die Total/SAM Racing-Jimco verwag asook van die Toyota 1000-wenners, John Weir-Smith en Geoff Minnitt (O’Hagan’s/Kopanong Hotel Superteam-Jimco); die man- en vrou-span, Gerhard en Kobie du Plessis (Liebherr-Jimco); John Moore en Fred Werner (Shell/Connix-Chenowth) en die Nashua Mobile Racing-span.
Die twee Nashua Mobile Racing-spanne het deur ‘n ontwikkelingsfase gegaan ter voorbereiding vir hul aanslag op die 2004-kampioenskap en het so hittete die Nissan-Sugarbelt 400 gewen toe Greg Daus en Archie Rutherford (Chenowth) net agter Mundell en Bond klaargemaak het. Terence Marsh en Trevor Ahier (Jimco) was derde algeheel tydens die Tarka 400 en die span is vol vertroue dat hulle ‘n goeie resultaat sal behaal.
Die Klas S-kampioenskapmededingers, Frikkie Botha en Melvill Priest het Greg Harvey se Jimco waarmee hy die 2002-kampioenskap gewen het, aangeskaf en sal hul Klas A-debuut tydens die Sun City 400 maak.
Dit lyk asof Klas B ook ‘n BAT-speelgrond geword het met die KwaZulu-Natal-span, Clint Gibson en Mike Brown (Praesidium Financial Services-BAT) wat beide die laaste twee byeenkomste gewen het.
Hulle kan strawwe mededinging van die Spesiale Voertuig- en Klas B-kampioenskapsvoorloper, Giel Nel (LUK Africa-Truggy), Francois Smit (Franic) en Marcus Taylor en Marc de Chalain (Rollerbak Racing-JRE) verwag – elkeen het reeds ‘n klasoorwinning dié seisoen agter hul name.
Hoe dit ook al sy, al die oë sal op die nuwe plaaslik-ontwerpte en geboude Zarco Lite van Hendrik Fourie en John Thomson gerig wees wat vir die eerste keer tydens die Sun City 400 sal deelneem. Die Zarco Lite word deur ‘n VW-enjin aangetref en 99% van dié voertuig is van plaaslike oorsprong.
Gareth Wark het ‘n moeilike tyd in die O’Hagan’s/Kopanong Hotel Superteam-Mighty Mag beleef – hy het dié klas verskeie kere gelei voordat ‘n stuurverwante probleem hom gedwing het om die handdoek in te gooi. Sodra die Superteam een van die stuurprobleme opgelos het, het ‘n ander weer sy kop uitgesteek en moes daar ‘n oplossing voor gesoek word.
Die Klas S-getalle het verminder met Botha en Priest se skuif na Klas A en dit sal nou aan die voorloper in dié klas, Nic Goslar en sy nuwe navigator, Warren Bowe (O’Hagan’s/Kopanong Hotel Superteam-Raceco) oorgelaat word om sake met die besigheidsmanne van Botswana, Mohammed Noor en Mohammed Moultsen in die Supa Veg-Raceco uit te spook.
Die Sun City 400 begin om 13:00 op Vrydag, 26 September, met ‘n 40 km-voorren. Die hoofren, wat uit ‘n sirkelroete van 130 km bestaan wat spanne drie keer moet voltooi, begin om 08:00 op Saterdag, 27 September en die eerste voertuig word om 13:00 by die eindpunt by die Sun City Sportkompleks verwag.