Die Ford Racing-span van Neil Woolridge en Kenny Skjöldhammer is vol vertroue dat hulle tydens die Toyota 1000-Woestynren, die derde ronde van die Absa-Veldrenkampioenskap wat van 11 tot 13 Junie in Botswana plaasvind, ‘n einde aan Nissan se oorheersing kan maak ná ‘n sterk vertoning tydens die onlangse Nissan-Sugarbelt 400.
Woolridge het die Botswana-byeenkoms reeds drie keer in drie verskillende voertuie gewen en tydens twee van dié renne, in 2000 en 2001, was hy en Kenny Skjöldhammer saam in die kajuit. Die voormalige veldrenmotorfietsjaers beskik oor die vermoë om die pad te lees – ondervinding wat hulle deur die jare opgedoen het deur alleen met motorfietse te jaag en iets wat hulle goed te pas sal kom in die bedrieglike woestynagtige omstandighede.
Alhoewel die Trots Suid-Afrikaanse Nissan-span drie Hardbody-bakkies in Klas T sal inskryf, sal die jaers verander aangesien Giniel de Villiers sy arm tydens ‘n bergfietsongeluk gebreek het. Die voormalige Produksievoertuigkampioen se plek sal deur Nissan Motorsport-bestuurder Glyn Hall gevul word wat saam met Francois Jordaan sal deelneem.
Die Produksievoertuigkampioenskapvoorlopers, Hannes Grobler en Richard Leeke, mik vir hul derde agtereenvolgende oorwinning tydens ‘n byeenkoms wat nog altyd ‘n hoë tol op die voertuie geëis het terwyl Duncan Vos en Hennie ter Stege daarna sal uitsien om van hul strooimeisiegewaad ontslae te raak en ‘n debuutoorwinning te behaal.
Mike Tomsett en Brian Haviland sal die enigste privaataanspraakmakers in Klas T in die AK Sport-Mitsubishi Clubcab wees.
Die nuwe vervaardigersspeelveld, Klas D vir produksievoertuie aangedryf deur sessilinderenjins, kan in ‘n epiese stryd tussen die vervaardigersinskrywings van Ford en Toyota, asook die fabrieksgesteunde Nissan-spanne en die privaat-Land Rover-, Mitsubishi- en Isuzu-spanne ontwikkel.
Die Castrol-Toyota-aanslag sal van die huidige Klas E-kampioene, Mark Cronje en Chris Birkin en die span se nuwelinge, Paolo Piazza-Musso en Rod Hering in die viersilinder-aangedrewe Hilux 2,7i-enkelkajuitbakkies kom. Piazza-Musso en Hering het ‘n debuut-Klas D-oorwinning tydens die Nissan-Handelaars 400 behaal, maar kon nie die Nissan-Sugarbelt 400 voltooi nie terwyl Cronje en Birkin tweede in die Wes-Kaap klaargemaak het en derde in KwaZulu-Natal geëindig het.
Die Ford Racing-span se hoop sal op Manfred Schröder en Jack Peckham wees wat in die 4.0 V6 Ranger in aksie sal wees waarmee hulle sesde algeheel en tweede in Klas D tydens die Nissan-Sugarbelt 400 geëindig het. Die suikerrietboere van Kwa-Zulu-Natal sal meer krag tot hul beskikking in Botswana hê en lyk na ernstige mededingers vir ‘n klasoorwinning.
‘n Verskeidenheid van Nissan-ondersteuningsspanne het ‘n kans om hoog in die algehele resultate te eindig en ‘n Klas D-oorwinning tydens die Toyota 1000-Woestynren in te palm, maar dit is veral Alfie Cos en Ralhp Pitchford wat vyfde algeheel klaargemaak het en hul klas in die Arnold Chatz Cars-Nissan Hardbody in Kwa-Zulu-Natal gewen het, wat ‘n goeie kans staan. Cox en Pitchford is, soos Woolridge en Skjöldhammer, uiters ervare en suksesvolle veldrenmotorfietsjaers en hulle sal ook sterk op hul vermoëns om die padtoestande te lees, staatmaak.
Die Gearbox Services-Nissan-span bestaande uit drie voertuie, vaar gewoonlik goed in Botswana. Die huidige Klas D-kampioene, Hein Grobler en Gerhard Prinsloo, hoop dat hul lys van renne wat hulle tot dusver dié seisoen nie kon voltooi nie, nou einde sal kry. Die Augustin-egpaar, JP en Linda, is die enigste span wat die Nissan-Handelaars 400 kon voltooi terwyl hul spanmaats, Johan Gerber en Coetzee Labuschagne die enigste span was wat die Nissan-Sugarbelt 400 kon klaarmaak.
Sommige talentvolle privaatjaers is ‘n bedreiging vir die Ford-, Nissan- en Toyota-spanne en onder hulle is Hannes Steyn en Ockie Fourie in die Isuzu waarmee hulle in ‘n stadium tydens die Nissan-Handelaars 400 voorgeloop het voordat hulle die handdoek moes ingooi. Hulle was ook voor tydens die Nissan-Sugarbelt 400, maar klein meganiese probleempies het veroorsaak dat hulle sewende in Klas D klaargemaak het.
Henri Zermatten en Bodo Schwegler is goed geplaas in die kampioenskap en is slegs 10 punte agter Cronje en Birkin nadat hulle twee vierde plekke in die Playstation/Mastercraft-Pajero. Zermatten is bekend vir sy bestendigheid en staan ‘n goeie kans om tydens ‘n lang ren soos die Toyota 1000-Woestynren wat sy renstrategie goed pas, te wen.
Die Moffat-broers, Mark en Stuart, jaag al vir vier jaar saam in die Land Rover wat deel vorm van die drie voertuig-Bosal/N1 4×4-span. Terwyl hulle almal bestendige jaers is, het hulle nog nie ‘n klasoorwinning behaal nie, maar dit is net ‘n kwessie van tyd voor dit gebeur. Pa en seun, Cliff en Louis Weichelt, sal in die V6-Bosal/N1 4×4-Toyota Hilux wat die Toyota Land Cruiser vervang waarmee hulle in 2003 sukses behaal het, in aksie wees.
‘n Verrassende ontwikkeling kan egter veroorsaak dat sake in Klas D rondgeskommel word.
Die sesmalige Toyota 1000-Woestynrenwenner, Apie Reyneke, het besluit om sy uittrede uit veldrenne vir dié ren eers opsy te skuif en om die stuurwiel met die voormalige Klas D-kampioen, Shumie van Vuuren in die Toyota Land Cruiser waarmee hy en Carlos de Abreu Klas D laasjaar tydens dié byeenkoms gewen het, te deel. Reyneke is volstoom aan die gang om die Land Cruiser voor te berei en is stilweg vol vertroue dat hy en Van Vuuren hul Klas D-mededingers kan verras en selfs ‘n gevaar vir die Klas T-brigade kan wees tydens ‘n ren wat heelwat fisiese en sielkundige uithouvermoë asook ‘n goed-voorbereide voertuig verg.
Terwyl daar ‘n groot getal inskrywings in Klas E vir viersilinderaangedrewe voertuie tydens vorige byeenkomste was, kon slegs vier spanne punte aanteken met die voormalige Klas E-kampioene, Hugo de Bruyn en sy pa, Jaap, wat uitstekende resultate tydens die eerste twee byeenkomste van die Absa-Veldrenkampioenskap behaal het. Die Vryburg-gebaseerde besigheidsmanne het vierde algeheel en eerste in Klas E in die Wes-Kaap klaargemaak en het toe sewende algeheel geëindig en nóg ‘n klasoorwinning in KwaZulu-Natal in die ex-Mark Cronje-Castrol-Toyota Hilux 2.7i behaal.
Die man- en vrou-span, Neels en Zelda van der Walt, het tweede tydens die vorige byeenkomste klaargemaak en hul bestendige vertonings in die dieselaangedrewe Nissan Hardbody behoort goed te pas te kom om ‘n klasoorwinning in Botswana op te raap.
Die broers, Jurie en André du Plessis, beskik oor die pas om in die BB Auto-Nissan Hardbody te wen, maar meganiese probleme het hulle dié seisoen gekniehalter. Laasjaar het hulle 11de algeheel en eerste in Klas E tydens die Toyota 1000-Woestynren klaargemaak en hulle kan vanjaar weer ‘n oorwinning bymekaarmaak.
Ford Racing se ontwikkelingspan, Baphumze Rubuluza en Khulile Vakalisa se veldrendebuut het op ‘n hoë noot afgeskop toe die Pietermaritzburgse besigheidsmanne derde in die Wes-Kaap en op hul tuisfront klaargemaak het. Die Toyota 1000-Woestynren sal ‘n nuwe ervaring vir dié span wees, maar as hulle ‘n vertoning lewer soos gedurende die eerste twee renne, is hulle van ‘n podiumposisie verseker.
Die Klas E-Castrol-Toyota-spanne sal onder groot druk geplaas wees om op te maak vir die feit dat hulle nie tydens die eerste twee rondes van die kampioenskap kon klaarmaak nie. Die Durban-gebaseerde Zane Pearce en Hennie Vosloo, was sterk aanspraakmakers in die Hilux KZ-TE, maar ‘n stukkende dryfas en ewenaar het onderskeidelik veroorsaak dat hulle nie die eerste twee renne kon voltooi nie. Die nuweling, Gavin Cronje en die veteraan-navigator, Robin Houghton se debuut tydens die Nissan-Sugarbelt 400 in die Hilux 2,7i was deurtrek met klein tegniese probleme wat veroorsaak het dat hulle moes onttrek.
Die Bosal/N1 4×4-span se derde voertuig word deur man en vrou, Marius en Tracey van Vuuren (Toyota Hilux 2,7i) bestuur. Dié span jaag al vir ses jaar saam en het hul Klas D-Land Rover vir die Toyota verruil. Dit is interessant om daarop te let dat Tracey Mark en Stuart Moffat se suster is wat van die Bosal/N1 4×4-span ‘n regte familiebesigheid maak.
Die Toyota-privaatspan, Hein Moolman en Cecil Fincham (4×4 Mega World-Toyota Hilux), Thomas Rundle en Rassie Erasmus (Barden Tyre Service-Toyota Hilux) en Chris Visser en Japie Badenhorst (Tyco International-Toyota Hilux) en tydens vorige streeks- en nasionale kampioenskapsbyeenkomste getoon dat hulle goed by die res van die Klas E-brigade kan byhou as hulle hul voertuie in een stuk kan hou.
Daar is drie inskrywings in Klas F vir onbeperkte tweewielaangedrewe voertuie met die Kopanong Hotel Superteam-Chevy van André Botha en Beans Heydenrych wat uiters geskik vir die woestynomstadighede is. Twee Noordwes-Provinsiespanne, Franco Pieterse en Hennie Becker (Nissan) en Roelf en Hein van Heerden (Toyota) is egter daaraan gewoond om onder dié omstandighede te bestuur en kan ‘n ernstige bedreiging vir die Superteam-span wees.