Die Ford Racing Ranger- en Castrol-Toyota-veldrenspanne is oorgehaal om die Trots Suid-Afrikaanse Nissan-span tydens die Sun City 400, die sesde ronde van die SA Veldrenkampioenskap wat deur Absa aangebied word en op 26 en 27 September in die Pilanesberg-omgewing plaasvind, in die skadu te stel.
Die Trots Suid-Afrikaanse Nissan-spanne het ‘n rekord van 12 agtereenvolgende oorwinnings behaal waarvan Hannes Grobler en Richard Leeke vir agt verantwoordelik was en ‘n nuwe rekord daargestel wat nie maklik binne die volgende paar gebreek sal kan word nie. Nadat hulle vir agt renne nie kon wen nie, het die voormalige kampioene, Giniel de Villiers en Francois Jordaan, tydens die Queen Motor Spares-Tarka 400 van die begin tot die einde voorgeloop.
Neil Woolridge en Kenny Skjöldhammer het laas in 2001 sjampanje gehad toe hulle die Ford Racing Ranger eerste oor die wenstreep by die Carnival City Casino 400 gebring het terwyl Apie Reyneke en Robin Houghton (Castrol-Toyota Land Cruiser) die openingsronde van die 2002-seisoen, die Barberspan 500, gewen het.
“Die Ford Racing Ranger se ongeluk laasjaar tydens die Carnival City Casino 400 was ‘n groot terugslag vir ons,” het Neil Woolridge gesê. “Boonop het ons deur ‘n ontwikkelingsfase met die nuwe 3,4 liter V6-Ford-enjin gegaan, maar ons is tevrede dat ons nou weet hoe sake staan en dat die voertuig in staat is om die Nissans te klop.”
“Die Sun City 400-terrein pas die Ford Racing Ranger-span en ons is vol selfvertroue dat, indien daar nie enige onvoorsiene probleme opduik nie, ons die Nissan-oorheersing kan breek,” het Woolridge bygevoeg.
Die Castrol-Toyota-span is sedert die Tarka 400 hard aan die werk met veranderinge aan die Castrol-Toyota Land Cruiser en die veringstelsel was veral die fokuspunt.
“Apie en Robin het bewys dat hulle nog oor die vermoëns beskik wat gesorg het dat hull vyf kampioenskappe in vyf jaar kon inpalm en nou moet ons verseker dat die hantering van die Castrol-Toyota Land Cruiser die werk kan doen,” het Toyota se Motorsportbestuurder, Wammy Haddad, gesê. “Die Land Cruiser is dalk nie so vinnig soos die Ford en die Nissans nie, maar ons is oortuig dat dit oor die krag beskik om by al die nuwelinge te hou.”
Die gemoedere by Nissan Motorsport is, soos altyd, positief met Nissan Motorsport se Bestuurder, Glyn Hall, vol selfvertroue.
“Volgens die rekords is ons die span om te wen en het ons ‘n uitstekende span jaers met Hannes Grobler, Giniel de Villiers en die Klas T-nuweling, Duncan Vos, wat tot nóg ‘n oorwinning in staat is,” het Hall gesê. “Ons verwelkom die uitdaging van Ford en Toyota, maar voel dat hulle sake vir die tweede beste posisie sal moet uitspook, want ons beplan om die Sun City 400 te wen.”
Met die fabriekspanne wat vir die topposisies veg, het die tweewielaangedrewe Klas T-Atlas Copco/Chicago Pneumatic-Jeep van Scott Abraham, wat vir die laaste keer in die “rooi monster” sal jaag voordat hy in Duitsland begin werk, en Richard Carolin, reeds ‘n effense nadeel wat gewig betref, en kan hulle maar net op ‘n podiumposisie hoop indien een van die groot kanonne probleme optel.
Die stryd in Klas D vir sessilinder-produksievoertuie en in Klas E vir viersilindervoertuie, beide met beperkte modifikasies, is net so intens soos die Klas T-stryd, maar dit is die Klas E-brigade wat keer op keer beter as die Klas D-spanne vertoon het.
In ‘n interessante verruiling van rolle is Toyota en Ford die oorheersende spslers in Klas E met Nissan wat net moet byhou.
Mark Cronje, wat sy veldrendebuut dié jaar gemaak het, en Chris Birkin, het die klas in hul Castrol-Toyota Hilux 2700i oorheers en behalwe dat hulle by drie geleenthede met die Klas E-oorwinnings weggeloop het, het hulle twee keer derde algeheel klaargemaak. Cronje en Brikin is tweede in die Produksievoertuigkampioenskap en bied die grootste bedreiding vir die kampioenskapsvoorlopers, Hannes Grobler en Richard Leeke (Trots Suid-Afrikaanse Nissan Hardbody).
Die veteraan, Kassie Coetzee en Ockie Fourie, het hul Castrol-Toyota Hilux KZ-TE uitgesorteer en het ‘n klasoorwinning tydens die Oven Fresh Biscuits 500 behaal. Coetzee is goed met die Sun City 400 vertroud en het die produksievoertuigkategorie al verskeie kere in die verlede met die turbo-Castrol-Toyota Hilux, ook bekend as “Fred”, gewen.
Die enigste ander span wat Klas E dié seisoen kon wen, is die voormalige kampioene, Manfred Schröder en Jack Peckham van KwaZulu-Natal. Hulle het baie probleme dié seisoen in die Ford Racing Ranger ondervind met brandstofprobleme wat hulle by twee geleenthede gekniehalter het. Hul ondersteuning sal van die nuweling, Zane Pearce, kom wat, soos Cronje, ‘n baanrenagtergrond het, en navigator Hennie Vosloo in die Hi Q-Ford Ranger. Pearce het goed by veldrenne aangepas en kan heel moontlik ‘n verrassende oorwinning tydens die Sun City 400 behaal.
‘n Verskeidenheid Toyota-privaatspanne het deur die seisoen goed gevaar met Hannes Steyn en Ferdi Seegers en Chris Visser en Japie Badenhorst wat onderskeidelik derde en vierde in Klas E tydens die Queen Motor Spares-Tarka 400 klaargemaak het.
Jurie en André du Plessis (BB Auto-Nissan Hardbody) en Neels en Zelda van der Walt (Nissan Hardbody) het goeie mededinging dié seisoen gebied, maar kon tot dusver nie ‘n oorwinning behaal nie. Die Du Plessis-broers het tweede in Klas E tydens die Toyota 1000-Woestynren geëindig en die Van der Walt-egpaar was tweede tydens die Oven Fresh Biscuits 500.
Daar was vier verskillende wenners tydens vyf renne in Klas D met Alfie Cox en Hennie ter Stege in die Arnold Chatz Cars-Nissan Hardbody wat twee keer met die louere weggeloop het. Cox sal die Sun City 400 mis as gevolg van verpligtinge om aan die Egiptiese Snelren op ‘n KTM deel te neem.
Die pa en seun, Johan en Marthinus van der Merwe (Chavani-Colt Rodeo) van Harrismith het dié klas tydens die seisoen se openingsronde, die Nissan-Handelaar 400, gewen, maar het die podium by die volgende drie renne gemis. ‘n Derde plek tydens die Tarka 400 het hul hoop op die kampioenskap lewendig gehou alhoewel hulle slegs vier punte voor Hein Grobler en Gerhard Prinsloo (GBS Racing-Nissan) is.
Die GBS Racing-span het vier Nissan Hardbody-bakkies in die SA Veldrenkampioenskap wat deur Absa aangebied word, deel en tussen hulle het hulle reeds drie keer tweede klaargemaak en het hulle ook twee keer derde plekke behaal. Die span het veringstelselprobleme ondervind en ‘n klasoorwinning is lankal op die boeke vir die voormalige Klas D-kampioene, Hein Grobler/Gerhard Prinsloo wat die onlangse Super Rock 200 gewen het, asook vir MC Coetzee/Marius Liebenberg, die man- en vrou-span JP en Linda Augustin en vir Coetzee Labuschagne/Johan Gerber.
Toyota het twee Klas D-oorwinnings behaal – Shumie van Vuuren en Carlos de Abreau (Chibuku-Toyota Land Cruiser) het eenmalig deelgeneem en die Toyota 1000 gewen terwyl die pa- en seun-span, Cliff en Louis Weichelt (N1 4×4-Land Cruiser) die Queen Motor Spares-Tarka 400 gewen het.
Die voormalige kampioene, Piet Haasbroek en Freddie Scheepers, het Klas D vroeër jare oorheers, maar het ‘n seisoen beleef wat hulle eerder sal wil vergeet. Die ouerige Castrol-Toyota Land Cruiser het heelwat aandryf- en veringstelselprobleme ondervind en die Tosca-boere se beste resultaat was ‘n derde plek in Klas D tydens die Toyota 1000.
Die buiteperd in die Klas D-stryd, is Topcar se besturende redakteur, Deon Schoeman wat sy veldrendebuut vanjaar in die Topcar Racing-Nissan Hardbody gemaak het. Schoeman en nóg ‘n joernalis, Jeremy Fall, het ‘n welverdiende tweede plek tydens die Tarka 400 behaal en dit sal nie lank wees voordat hul bestendigheid vir ‘n klasoorwinning sorg nie.
Klas F vir tweewielaangedrewe, onbeperkte Superbakkies, het net enkele inskrywings vanjaar getrek. André botha en Beans Heydenrych (O’Hagan’s/Kopanong Hotel Superteam-Chev) kon nie die eerste drie byeenkomste voltooi nie, maar het deurgedruk om ‘n klasoorwinning en ‘n 27ste plek algeheel tydens die Tarka 400 te behaal.
Maak nie saak hoe die stryd vir die algehele en klaskampioenskappe daarna uitsien nie – die Sun City 400 sal motorsportentoesiaste laat smeek vir meer.
Die Sun City 400 begin op Vrydag, 26 September, om 13:00 met ‘n 40 km-voorren. Die hoofren, wat uit drie sirkelroetes van 130 km elk sal bestaan, begin om 08:00 op Saterdag, 27 September en die eerste voertuig word om 13:00 by die Sun City Sportkomplek terug verwag.