Vir die sport en vir kommersiële redes is daar druk op die Castrol-Toyota-span wat in die Produksievoertuigkategorie deelneem. Die byeenkoms is die sesde ronde van die Absa-Suid-Afrikaanse Veldrenkampioenskap en sal ’n nuwe terrein in die reeks ontgin.
“Met die kampioenskap wat in die finale pylvak is, is dit belangrik dat ons waardevolle punte in beide Klas D en E insamel,” het Toyota se motorsportbestuurder, Wammy Haddad, gesê. “Maar ons gaan ook na ’n streek wat ’n regte ‘bakkieland’ is en vanuit ’n reklame-oogpunt is dit belangrik dat ons goed doen.”
“Die feit dat die byeenkoms ’n nuwe veldrenterrein betree, verleen daaraan ’n onbekende sy en dit gaan ’n interessante naweek wees.”
Na die beproewings van ’n taai Lesotho Sun 400, het die Castrol-Toyota-spanne kans gehad om te herstel. Die Toyota Hilux 2,7i-spanne het swaargekry in Lesotho en die tegniese spanne het hard gewerk om die voertuie te herbou.
“Niemand weet regtig wat om van die ren te verwag nie,” het die veelvuldige SA-veldren- en tydrenkampioen, Robin Houghton, gesê. Die uiters ervare Houghton en die jong Gavin Cronje is tans vierde in die Klas D-kampioenskap en sesde wat die algehele Produksievoertuigkampioenskap betref.
“My tydrenondervinding in dié gebied dui daarop dat daar baie dik sand gaan wees,” het Houghton gesê. “Dit pla Gavin nie, maar ons moet ’n paar regmerkies ná ons groot ongeluk in Lesotho bymekaarmaak.
“Iets wat in ons guns tel, is dat ons na ’n onbekende terrein beweeg en dit maak die speelveld gelyk. Gavin moes in die verlede teen meer ervare jaers meeding wat in die meeste gevalle die roete en die terrein soos die palm van hul hand geken het.”
Cronje se ouer broer, Mark, wat saam met die veteraan, Chris Birkin, deelneem, sal na ’n resultaat streef wat hul kanse op die Klas D-kampioenskap ’n hupstoot sal gee. Cronje en Birkin, voormalige Klas E-kampioene, was derde algeheel en die klaswenners in Lesotho en is nou gesamentlik tweede in die klaskampioenskap en vierde in die reeks algeheel.
“Hopelik is die ren redelik vinnig,” het Cronje gesê. “Die voertuig is goed en die tegniese span het goeie werk gedoen.
“Dit is net ’n kwessie om dit bymekaar te hou en die einde te haal. Die Koepel-klub is daarvoor bekend dat hulle goeie byeenkomste reël en ons sien uit na ’n ren wat ’n interessante uitdaging behoort te wees.”
Paolo Piazza-Musso en Ockie Fourie, die derde Castrol-Toyota-span in Klas D hoop dat hul geluk in Polokwane sal draai. Die span het tot dusver ’n teleurstellende seisoen beleef en ’n string meganiese probleme het hul vooruitgang in die kampioenskap belemmer.
“Ons geluk moet een of ander tyd draai en hopelik is dίt die ren waar alles in plek gaan val,“ het Piazza-Musso gesê. ”Ek het al in die omgewing aan tydrenne deelgeneem en dit behoort ’n vinnige byeenkoms te wees wat ons sal pas.
“Die voertuig is goed en indien ons ’n skoon lopie kan hê, kan ons ’n goeie resultaat aanteken.“
Die Klas E-voorloper, Zane Pearce, sal met sy 100 persent-klaarmaakrekord dié seisoen wil voortgaan en die Nataller, wat ook aan baanrenne deelneem, sal ’n vinnige ren verwelkom.
“Ná die Lesotho Sun 400 sal ’n vinnige ren ’n welkome verandering wees,” het Pearce gesê. “Om aan ’n onbekende ren deel te neem, maak dit meer interessant, maar die hoofdoel is ’n goeie klompie kampioenskapspunte.”