Die Ford Racing-renspan is gretig om die mense van Lesotho te wys wat dit beteken vir voertuie om "Ford-taai" gebou te wees wanneer hulle in die Lesotho Sun 400-veldren aan drie klasse in die afdeling vir produksievoertuie gaan deelneem. Dié byeenkoms is die vyfde ronde van die 2004-Absa-veldrenkampioenskap, wat dié naweek (20 en 21 Augustus) in die bergkoninkryk plaasvind.

Die Lesotho Sun 400-veldren, wat beskou word as die top-byeenkoms op die Suid-Afrikaanse veldren-kalender, is vir die Ford Racing-spanne 'n byeenkoms waarin hulle daarop uit sal wees om goed te vaar en nie hul ondersteuners teleur te stel nie. "Ons het twee baie ervare en een nuwelingspan wat in drie gevorderde Ford Ranger-bakkies deelneem, en ons verwag dat dit tot puik mededinging sal lei," het Neil Woolridge, die span se topjaer en spanbestuurder, gesê.

Woolridge en sy navigator, Kenny Skjoldhammer, jaag in Klas T en het nog nie weer sedert die Dak van Afrika-veldren in 2001 toe die laaste Suid-Afrikaanse kampioenskapsveldrenbyeenkoms daar gehou is, in Lesotho gejaag nie. Hulle verwag egter 'n fantastiese ren. "Dit is 'n pragtige land en die weer is dié tyd van die jaar ideaal," het Woolridge gesê. "Die Ford Ranger loop soos klokslag en ek het geen rede om te verwag dat ons met enigiets anders as net die beste vorendag sal kom nie."

Die ren sal na verwagting strawwe, klipperige terrein met hoëspoed-lopies tussen-in kombineer wat die Ford Ranger behoorlik sal beproef. "Die Ranger vaar gewis beter in die knapper, strawwer gedeeltes, maar ek glo vas dat die voertuig die hoëspoed-seksies met relatiewe gemak sal kan hanteer," het Woolridge gesê.

Manfred Schröder en Jack Peckham, wat in die Klas D-Ranger met sy vierliter-V6-enjin jaag, beskou die toestande in Lesotho as uitgeknip vir die vierliter-Ranger - en die voertuig se BF Goodrich-bande sal na verwagting die wêreld se verskil maak. "Dié bande kan enigiets wat in hul pad kom, met gemak hanteer," het Schröder gesê. "Hul verrigting was nog regdeur die 2004-kampioenskap uitstaande en vul die veldryvermoë van die ultra-sterk Ranger aan."

Die ontwikkelingsjaers in die span, Baphumze (Bappie) Rubuluza en Kulile Vakalisa, beplan om dinge in die Lesotho Sun 400-veldren ná hul uitdagende lopie in die onlangse Sun City 400-veldren kalmer aan te pak. Hulle jaag in 'n Ford Ranger 2,5TD in die mededingende Klas E vir bykans standaard viersilinder-voertuie.

"Die Sun City 400-veldren was die eerste ren wat ons nie suksesvol voltooi het nie," het Vakalisa gesê. "Hoewel ons die volle renafstand voltooi het, was ons ongelukkig te laat by die eindpunt vir die voorafbepaalde afsnytyd. Dit was baie ongelukkig, maar nou-ja... Ons hoor dat die Lesotho-ren baie taai is, dus gaan ons nie enigiemand jaag nie, maar net daarop fokus om die eindstreep oor te steek."

Daar is min twyfel dat die ontwikkelingspan met hul verskeie suksesvolle renne agter die rug nie gou weer hul voete sal vind en die motorsportwêreld sal oorrompel nie.

Die span wil graag die borge vir hul ruimskootse steun bedank. Die Klas T-Ranger word geborg deur BF Goodrich-bande, Time Freight en Joey's (duikkloppers en verfwerk). Die Klas D-Ranger word geborg deur BF Goodrich, Time Freight, Joey's, Barloworld Pietermaritzburg en Husqvarna Forest and Garden (kettingsae). Die ontwikkelingspan word geborg deur Pirelli, Time Freight en Joey's.

"Dit is maatskappye soos dié wat gehelp het om veldrenne te maak wat dit is. Ons sou nie sonder hul voortgesette steun daartoe in staat gewees het om die groot suksesse wat ons in die 2004-seisoen tot dusver bereik het, te bewerkstellig nie," het Woolridge gesê.