<>PDie 31-jarige Bary Bertholdt, jonger broer van Bevan, beskik oor die wil om in enige vorm van sport waaraan hy deelneem, te wen.
Hy het vir ’n paar jaar aan enduro-motorfietsrenne deelgeneem en daarna vir drie jaar met renstelle voordat hy die kajuit van ’n veldrenvoertuig met sy pa, Bodo, wat in die vroeë 1970’s begin deelneem het, gedeel het.
Anders as sy broer, Bevan, wat meer soos pa Bodo is, is Gary altyd koel, kalm en beheersd soos sy ma en moes hy vir jare tweede viool vir Bevan speel wanneer dit by mededingende sport kom.
“As seuns het ons met seepkiskarre gejaag en Bevan het altyd gewen,” het Gary gesê. “Ons het ook liga-muurbal gespeel en hy het my altyd geklop, maar dit het alles teen die einde van my enduro-motorfietsloopbaan verander en ek het hom opdraande begin gee.”
“Ek beskou Bevan as die beste Spesialevoertuigbestuurder in die Absa-Veldrenkampioenskap en is die bangste vir hóm tydens ’n ren, maar hy moet alles nog bymekaar kry en hy moet die iBurst-BAT eerstens eers by die einde kry.”
Gary is puntenerig oor voertuigvoorbereiding en het groot agtig vir die insette wat hy van die veelvuldige SA Veldren-spesialevoertuigkampioen, Franz Czepek Sr, ontvang.
“Ek is geheel en al daarop gefokus om te wen en dink nie eers aan die moontlikheid om ’n ren te verloor nie,” het Gary bygevoeg. “Ek kan dit hanteer om in ’n geveg tot die einde te verloor, maar ek kan die idee om te verloor as gevolg van meganiese foute, nie verdra nie.”
“Die Toyota 1000 was ’n voorbeeld van waar ek geweet het dat ek die opposisie kon klop totdat ’n laer-veringstelselarm linksvoor die gees gegee het en dit was vir my moeilik om te aanvaar.”
Gary het in 2004 met die beginner, Siegfried Rousseau, saamgespan en hulle het aanvanklik met die Advansoft-Nissan Hardbody in Klas D deelgeneem voordat hulle tydens die tweede helfte van die seisoen na die BAT oorgeskakel het. Hulle was ’n goeie kombinasie in die kajuit en het hul eerste algehele oorwinning met vanjaar se Nissan-Sugarbelt 400 ingepalm.
“Siegfried kom uit ’n mededingende seilplankry-agtergrond waar goeie voorbereiding, aandag aan detail en vernuf uiters belangrik is om sukses te behaal,” het Gary gesê. “Hy het hierdie waardes na veldrenne oorgedra en om hom saam met my in die kajuit te hê, is ’n groot hupstoot vir my selfvertoue.”
Om aan die Dakar deel te neem, is sekerlik elke veldrenner se ambisie en dit is ook Gary en Siegfried se mikpunt.
“Ons het twee ambisies wat veldrenne betref,” het Gary gesê. “Die een is om vir ’n topklas fabriekspan in die Produksievoertuigafdeling deel te neem en die ander is om binne die volgende drie jaar aan die Dakar deel te neem.”
“Die Dakar het vir dekades aan die oorsese spanne behoort totdat die plaaslik-geboude Nissans hulle aangevat het en hul bestes geklop het. In Suid-Afrika beskik ons oor die tegniese kundigheid en die bestuurders met ’n wil om te wen wat internasionale sukses kan behaal.”
Die iBurst-span het twee BAT-spesialevoertuie vir die Sun City 400, wat op 1 en 2 Julie plaasvind, ingeskryf. Gary Bertholdt en Siegfried Rousseau sal in die 3,5 liter-Nissan-aangedrewe BAT in aksie wees terwyl Bevan Bertholdt en Nick Selamolela met die Chevy LS1 V8-aangedrewe BAT Spec-1 sal deelneem.