Die huidige Klas A-jaerskampioen in die Absa-Veldrenkampioenskap, Gary Bertholdt, het sy Klas D-Advansoft-Nissan Hardbody vir ‘n Nissan V6-aangedrewe Klas A-BAT verruil waarmee hy reeds op 24 en 25 September aan die Mafikeng 500 sal deelneem.

Bertholdt en navigator, Brandon Harcus, het in 2003 beurte agter die stuur van ‘n soortgelyke BAT gemaak waarmee hulle drie van die agt byeenkomste gewen het om die Klas A-kampioenskap in te palm terwyl Harcus ook die Spesiale Voertuig-navigatorskampioenskap gewen het.

Bertholdt het besluit om aan dié seisoen aan die Produksievoertuigkampioenskap deel te neem en het sedert die tweede ronde met die Advansoft-Nissan Hardbody deelgeneem, maar hy en sy navigator, Siegfried Rosseau van Advansoft, het gevind dat dit uiters straf en baie duur is.

“Ek het besef dat ek slegs deur die fabriekspanne raakgesien gaan word as ek in die Produksievoertuigkategorie deelneem,” het Bertholdt gesê. “Ek was egter nie voorbereid vir die hoë koste daaraan verbonde om met ‘n bykans standaard Produksievoertuig deel te neem in vergelyking met ‘n doelgeboude Spesiale Voertuig soos ‘n BAT nie.”

“Ek is Nissan Motorsport baie dankbaar vir die bystand wat hulle dié seisoen aan my gegee het, maar moet erken dat my hart ‘n slag gemis het en ek nie Brandon Harcus se aanbod om weer ‘n BAT te ry, van die hand kon wys nie,” het Bertholdt bygevoeg. “Met slegs drie renne in die Absa-Veldrenkampieonskap oor is daar nie veel wat ons kan doen om die Spesiale Voertuigkampioenskap te wen nie, maar Siegfried geniet sy eerste jaar in veldrenne en saam beplan ons om die vlieg in die salf te wees in die stryd om die Klas A-titel.”

Die Advansoft-BAT word deur Achim Bergmann voorberei en sal meer as gereed wees vir die Mafikeng 500 wat Vrydag, 24 September, om 13h00 met ’n 35 km-voorren begin terwyl die hoofren Saterdag, 25 September om 08h00 sal afskop. Die eerste voertuig word teen 14h00 by die einde terugverwag.