Dit is raar dat aartsmededingers ‘n alliansie vorm om as ’n span aan enige vorm van motorsport deel te neem, maar dit is presies wat GBS Racing in die Absa-Veldrenkampioenskap gedoen het.

GBS Racing is in 2003 gestig en bestaan uit die huidige Klas D-kampioene, Hein Grobler en Gerhard Prinsloo; Johan Gerber en Coetzee Labuschagne asook JP Augustin wat almal in identies-voorbereide Klas D-Nissan Hardbody-bakkies deelneem.

“Hein Grobler het met die konsep na vore gekom dat ons al ons persoonlike bydraes en borgskappe saamgooi om as ’n span eerder as individue deel te neem en sodoende maksimum-publisiteit vir ons borge bied,” het GBS Racing-woordvoerder, Johan Gerber, gesê. “Ons neem almal sedert die 90’s deel en was van die eerste dag af aartsmededingers, maar sedert die ontstaan van GBS Racing, het sterk vriendskappe tussen al die spanlede gevorm.”

“Gedurende die ren is ons almal in radioverbinding met mekaar en indien enige van ons in die moeilikheid is, sal die ander spanne bystand verleen om te verseker dat so veel as moontlik van die spanvoertuie die ren voltooi.”

Hein Grobler het in 1991 begin jaag en het die Transvaal-Veldrenkampioenskap in 1994 gewen en die Stellaland-Veldrenkampioenskap in 1996. Grobler het dié suksesse met nasionale klaskampioenskappe vanaf 1997 tot 2000 opgevolg en weer in 2003 toe hy en Gerhard Prinsloo die gesogte Klas D-kampioenskap vir die tweede agtereenvolgende keer gewen het.

Prinsloo het ’n agtergrond van ovaalbaanrenne waar hy drie agtereenvolgende streekskampioenskappe (1991 – 1993) ingepalm het en daarna in 1994 as die SA Ovaalbaankampioen gekroon is. Hy het sy veldrenloopbaan as Grobler se navigator in 2000 begin en het die Klas D-navigatorskampioenskap in 2000 en 2003 gewen.

Gerber het in 1992 aan veldrenne begin deelneem en het gou die Klas 5-kampioenskap gewen en tweede in die Produksievoertuigkampioenskap geëindig. Hy het dit opgevolg met verskeie streeksklaskampioenskappe van 1993 – 1995 en die Klas C-nasionale kampioenskap van 1996 – 1999. Gerber het derde in die 2003-Klas D-navigatorskampioenskap klaargemaak en sy spanmaat, Coetzee Labuschagne, derde in die Klas D-jaerskampioenskap.

Labuschagne het sy motorsportloopbaan reeds in 1979 begin en het die Streeks-Formule Vee-kampioenskap in 1983 gewen en die Nasionale Formule Vee-kampioenskap in 1984 voordat hy die 4x4-Uitdagingbyeenkomste probeer het en die Klas 3-kampioenskap in 1989 gewen het. Hy het in 1996 na veldrenne oorgeskuif en het verskeie suksesse behaal insluitende die 1999-Nasionale Klas C-kampioenskap terwyl hy van 2000 – 2003 derde in verskeie klaskampioenskappe geëindig het.

Die Hartswater-gebaseerde JP Augustin het sy ovaalbaanloopbaan in 1985 begin en die streekskampioenskap vir gemodifiseerde motors in 1990 gewen en die Nasionale Ovaalbaankampioenskap in 2001. In 2002 het hy veldrenne probeer en in 2003 by die GBS Racing-span aangesluit om aan die Noordelike Streekskampioenskap en die Absa-Veldrenkampioenskap deel te neem. ’n Suksesvolle seisoen in die streekskampioenskap het gesorg dat hy die tweede plek in die Noordelike Streekskampioenskap ingepalm het.

Die GBS Racing-span sal weer tydens die Toyota-Handelaars 400 wat op 22 en 23 Oktober in die Lydenburg-omgewing plaasvind, in aksie wees.