Toyota Motorsport het geen druk op die span vir die Carnival City Casino 400, laaste ronde van die 2003 SA Veldrenkampioenskap, vir enige van die klaskampioenskappe waaraan hulle deelneem nie.
Mark Cronjé en Chris Birkin het hul Klas E-kampioenskapstitel in die onlangse Toyota Handelaars-Mpumalanga 400-veldren met hul 5e Klas E-oorwinning van die seisoen beklink, wat hulle toelaat om op ’n ongehoorde maar baie moontlike algehele oorwinning te fokus.
Hannes Grobler en Richard Leeke (Nissan Hardbody) het die algehele 2003-kampioenskap stil-stil beklink toe hulle die vorige byeenkoms, die Toyota Handelaars-Mpumalanga 400, gewen het, maar dit beteken nie dat die Toyota-spanne vir die laaste byeenkoms agteroor gaan sit sonder om voluit vir ’n plekkie in die kollig te mik nie.
Cronjé en Birkin het regdeur die seisoen, behalwe in die Mafikeng-byeenkoms, onder die voorste drie of vier jaers geëindig en is daarop uit om weer hul beste te lewer, selfs al sluit dit ’n algehele oorwinning in.
“Ons besef dit is nie baie waarskynlik nie, maar as enigiets met die Nissan-ouens gebeur, sal ons daar wees om te red wat te redde is,” het ’n opgewonde Cronjé gesê nadat hy sy eerste klaskampioenskap in sy heel eerste veldren-seisoen gewen het.
Toyota se hoop op ’n algehele oorwinning en om Grobler/Leeke te dwing om foute te maak, rus weer vierkantig op die skouers van Apie Reyneke en Robin Houghton in hul Castrol-Land Cruiser 4,5 EFi. Hulle het vanjaar meer as hul regverdige hoeveelheid van ongeluk gehad, maar dit was meestal weens rentoestande eerder as deur tegniese probleme of foute van die bestuurder of navigator.
“Ons het niks om te verloor nie, dus gaan ons voluit vir ’n oorwinning,” het Reyneke gesê ná sy teleurstelling toe hy in die onlangse Toyota Handelaars-Mpumalanga 400 voor was, maar uiteindelik met ’n 3e posisie algeheel tevrede moes wees.
“Ons het ’n relatiewe goeie wegspring in die vierde posisie agter die Nissans van Grobler/Leeke en hul spanmaats Duncan Vos en Mike Griffith gehad met Neil Woolridge en Kenny Skjöldhammer net voor ons in hul Ford Ranger V6. Maar die stof – veral in die eerste van die byeenkoms se drie rondtes van 120 km elk – was ’n groot probleem,” het Houghton gesê nadat hy ’n onverwagse navigasie-voordeel bewerkstellig het toe die drie motors voor hulle verkeerd gery het.
“Ek het gesien hulle het ’n afdraai misgery en Apie aangesê om te draai waar die ander verkeerd gery het. Dit kos baie selfvertroue, en soms kry ’n mens dit reg,” het Houghton gesê.
Hul voordeel het hulle aan die einde van die eerste rondte los voor die res by die kuipe laat verbyskiet, maar ’n pap wiel kort daarna het die Nissans en die Ford weer by hulle laat verbykom.
“Daarna het ons weer tot derde opgeskuif toe die Ford aan die einde van die tweede rondte uitgeval het terwyl hulle voor was, en ons het tot die einde daar gebly.
“Nou is dit alles of niks – ons het niks om te verloor nie. Ons gaan uithaal so wat ons kan vir wat ons eerste en enigste algehele oorwinning vir die 2003-seisoen kan wees,” het Houghton gesê.
Reyneke sal sy punt moet bewys nadat hy ’n paar van die jaers in die ander helfte van die veldren-kampioenskap – dié in die afdeling vir buisraammotors – se gevoelens geskommel het.
“Die dae van die buisraammotors is getel,” het hy ná die Mpumalanga-byeenkoms voorspel waar produksievoertuie die buisraammotors wat gewoonlik baie beter in sulke toestande vaar, geheel en al ore aangesit het.
Puntestand in die algehele produksievoertuigkampioenskap:
1. Hannes Grobler/Richard Leeke (Nissan Hardbody; 2003-Klas T- en algehele produksievoertuig-kampioene) 234 punte
2. Mark Cronjé/Chris Birkin (Castrol Toyota Hilux; 2003-Klas E-kampioene) 199 punte
3. Kassie Coetzee/Ockie Fourie (Castrol Toyota Hilux; 2003-naaswenners Klas E) 157 punte