Anders as vorige Nissan-Sugarbelt 400-roetes waar deelnemers aan een van die gewildste rondes van die Absa Veldrenkampioenskap wat op 18 Maart ’n aanvang neem, ’n rivier 11 keer moes kruis, is vanjaar se roete dramaties verander en word geen rivierkruisings ingesluit nie.
“Snorkels sal nie meer nodig wees nie,” skerts die Hoofroetemeester, Rex Boreham. “Die roete is baie anders as vorige jare en die rivierkruisings is weggelaat terwyl die Natal Off Road Motor Club groot klem op die toeskouervriendelikheid van die byeenkoms gelê het.”
“Toeskouers sal die aksie en opwinding van die begin by die Beaumont Eston-Boereklub kan waarneem terwyl daar 18 toeskouerpunte langs die roete is voordat hulle na die einde by die klub terugkeer.”
Die Nissan-Sugarbelt 400 begin Vrydag, 18 Maart, om 12h30 met ’n 33 km-voorren wat die wegspringvolgorde vir Saterdag se hoofren sal bepaal. Die voorren sal 6 km van die klub af op die R603 begin en by die Klub eindig.
Die roete vir die hoofren, wat Saterdag, 19 Maart om 08h00 begin, sal weer uit ’n agt-figuur bestaan met die oostelike sirkelroete wat 91 km lank sal wees en die westelike gedeelte 119 km. Deelnemers in die Produksievoertuig- en Spesiale Voertuigkategorieë sal elke sirkelroete twee keer moet voltooi.
Die oostelike gedeelte sal redelik vinnig wees en uit ’n verskeidenheid van terreine tussen die suikerrietplantasies bestaan terwyl die westelike sirkelroete meer kompak sal wees en ’n interessante vermenging van terreine soos suikerrietlande, oop grasvlaktes en bosplantasies, sal insluit.
“Aangesien die byeenkoms in Maart plaasvind en nie op die tradisionele datum in April nie, is die moontlikheid van reën baie goed en dit sal die stof beslis tot ’n minimum beperk en vir beter sigbaarheid en ’n veiliger veldren sorg,” het Boreham bygevoeg.
Toeskouergidse sal Vrydag en Saterdag by die Klub beskikbaar wees.