Die Castrol-Toyota-veldrenspan het beslis nie enige geluk aan hulle kant gehad tydens die Nissan-Sugarbelt 400, die openingsronde van die Absa-Veldrenkampioenskap wat die afgelope naweek in KwaZulu-Natal plaasgevind het, nie.
Die span was vol vertoue voor die byeenkoms en daar is heelwat van sy drie Klas D-spanne verwag – Mark Cronje en Chris Birkin, Gavin Cronje en Robin Houghton en Paolo Piazza-Musso en Ockie Fourie – asook van die enigste Klas E-inskrywing van Zane Pearce en Peter Chadwick, maar ’n reeks probleme het tydens die 31 km-voorren begin.
Mark Cronje en Chris Birkin was vol vertroue dat hulle die beste in Klas D gekwalifiseer het, maar ’n pap band 8 km voor die einde van die voorren, het hulle van dié posisie onttroon en hulle moes met die tiende plek en tweede in Klas D, agter Manfred Schröder en Alec Harris in die Ford Ranger, tevrede wees.
Om sake te vererger moes Gavin Cronje en Robin Houghton 18 km nadat hulle die voorren aangepak het, stop om die verkoeler se waaier weer aan die gang te kry en dit het hulle tot die 65ste plek op die wegspringrooster laat terugval. Soos laas jaar, toe hulle in die 75ste plek weggespring het, sou hulle die amper onmoontlike taak in die gesig moes staar om stadiger voertuie in stowwerige toestande verby te gaan.
Paolo Piazza-Musso en Ockie Fourie, wat voorheen vir Kassie Coetzee genavigeer het, het nie ’n goeie ren beleef nie. ’n Versnellerkabel het 15 km nadat hulle die voorren getakel het, gebreek en later het die dryfas regs voor afgeskuif, maar hulle het besluit om tot by die einde voort te hink om straftye wat hulle sou kry omrede hulle nie die voorren kon voltooi nie, vry te spring. Soos hul spanmaats, Cronje en Houghton, sou hulle ook veilig van die 55ste posisie moes opbeweeg om ’n klasoorwinning aan te teken en stof sou hul grootste hindernis wees.
Zane Pearce en Peter Chadwick het ’n probleemvrye voorren in die Castrol-Toyota Hilux 2,7i beleef en 30ste algeheel en vierde in Klas E gekwalifiseer.
Die dag van die ren het aangebreek en twee sirkelroetes van 210 km het op die spanne gewag. Dit het misleidende rowwe suikerrietplantasies, woude en oop landerye ingesluit wat nog altyd beteken het dat min spanne die einde van dié ren haal.
Teen die einde van die 91 km-Oostelike Sirkelroete, het Cronje en Birkin tot binne ’n reikafstand van 58 sekondes van Schröder en Harris opgeskuif en was hulle tweede in Klas D terwyl Pearce en Chadwick 19de algeheel en derde in Klas E was. Piazza-Musso en Fourie het 22 plekke in hul Castrol-Toyota Hilux 2,7i opgemaak. Cronje en Houghton het ’n goeie ren beleef en ten spyte van ’n pap band wat hulle opgedoen het ná ‘n onderonsie met ’n Klas B-voertuig, het hulle 33 plekke gewen en was hulle 7de in Klas D.
Die 119 km-Westelike Sirkelroete was die Castrol-Toyota-spanne nie genadig nie.
Ongeveer 100 km in die roete het Cronje en Houghton ’n hoogtetjie getref wat die balans van die voertuig versteur het en hulle het ’n boom getref wat die stuur van die Hilux beskadig het. Hulle het tot by die aangewese dienspunt gery waar hul tegnici koorsagtig gewerk het om die skade te herstel en hulle kon die ren hervat sonder om hul tweede plek in Klas D agter die Ford te verloor. Ongelukkig het die stuur-vry arm 95 km voor die einde van die ren die gees gegee en dié span verplig om toeskouers te word. Ná 50 km op die Westelike Sirkelroete was Piazza-Musso en Fourie verplig om te onttrek nadat die vonkproppunte tussen die enjin en die veringstelselstut deurgeskaaf het.
Monteringsboute op die voorste ewenaar van Cronje en Houghton se Castrol-Toyota Hilux 2,7i het 70 km voor die einde van die Westelike Sirkelroete afgeskuif en hul tegnici kon dit nie by die dienspunt herstel nie. Die paar het só voortgejaag en ’n uitstekende agtste plek algeheel in die Produksievoertuigkategorie en vierde in Klas D aangeteken.
Zane Pearce en Peter Chadwick het ’n skoon lopie in die Klas E-Castrol-Toyota Hilux 2,7i beleef met Pearce se enigste opmerking dat hy daaraan gewoond moes raak om met ’n petrolaangedrewe voertuig te jaag nadat hy vir twee jaar met ’n dieselvoertuig deelgeneem het. Dié span was sewende algeheel in die Produksievoertuigkategorie en tweede in Klas E.
Privaatspanne wat goeie werk vir Toyota gedoen het, was pa en seun, Cliff en Louis Weichelt, wat vierde algeheel klaargemaak het en met hul Bosal N1 4×4-Toyota Hilux V6 tweede in Klas D was asook die huidige Klas E-kampioene, Hugo de Bruyn en sy pa, Jaap, wat vyfde algeheel geëindig het en Klas E gewen het.