Die 2004-Castrol Toyota-veldrenspan van vier voertuie in die Suid-Afrikaanse Veldrenkampioenskap sluit twee gewese renstel-wêreldkampioene in en het ’n jeugdige samestelling noudat die veteraanjaers Apie Reyneke en Kassie Coetzee uitgetree het. Die eerste veldren in die reeks, die Nissan 400, word die naweek van 19 en 20 Maart in die Darling-omgewing in die Wes-Kaap gehou.
Die uiters ervare Reyneke en Coetzee was vir jare sinoniem met Toyota en veldrenne, maar die gewese renstel-wêreldkampioene, die Cronjé-broers Mark en Gavin, het hope jaerstalent – al het hulle maar min ren-ondervinding weg van bane af… Om die waarheid te sê, die jonger Cronjé-broer, Gavin, maak sy buiging in veldrenne vanjaar, terwyl Mark sy tweede seisoen betree ná ’n sensasionele debuutseisoen verlede jaar waarin hy die Klas E-jaerskampioenskap gewen en as naaswenner uit die stryd in die algehele produksievoertuig-kampioenskap getree het.
Toyota Motorsport sal vanjaar ook fokus op hernieude pogings in die produksievoertuig-kampioenskap met inskrywings in Klasse D en E ná die groot sukses wat Mark Cronjé in die 2003-Klas E-Castrol Toyota Hilux 2700i gehaal het.
Mark het die Rotax Max-renstel-wêreldkampioenskap in Suid-Afrika aan die begin van 2003 gewen, en Gavin, wat nou ook lid van die Toyota-fabriekspan is, het dié wêreldkampioenskap in 2001 in Puerto Rico gewen.
“Om in renstelle te jaag, is waarskynlik die beste manier om by motorsport soos renne betrokke te raak – en dit help om ’n mens gefokus te hou,” het Mark Cronjé gesê, wat ’n groot natuurlike talent en dissipline aan die dag gelê het om die algehele kampioenskap net ’n kortkop agter ’n Klas T-superbakkie in die 2003-reeks te eindig. Hy het sy talent ook verder verskerp deur in Desember ’n sneeu- en ys-kursus by ’n bestuurskool in Noorweë by te woon. Toyota se jongste tydrenvonds, Charl Wilken, wat ook verlede jaar van baanrenne na grondpad-renne oorgeskakel het en vir die Castrol Toyota Motorsport-fabriekspan in ’n Klas N3-Toyota RunX aan die SA Tydrenkampioenskap deelneem, het Cronjé na die winter-bestuurskool vergesel.
Toyota se afwesigheid in Klas T vanjaar in dié duur afdeling vir sogenaamde superbakkies met hul doelgeboude Dakar-tipe masjinerie, het die span in staat gestel om weer op voertuie te fokus wat meer verteenwoordigend is van die Toyota-bakkies wat regoor Suid-Afrika – op die pad en in die veld – gesien kan word.
Mark Cronjé jaag vanjaar in ’n splinternuwe en effens opgekikkerde 2700i Hilux 4×4. Hoewel die voertuig soortgelyk is aan die Hilux waarmee hy verlede jaar in Klas E gejaag het, is hy nou in dieselfde klas as motors met kragtige sessilinder-enjins van meer as drie liter. Mark Mark sê die viersilinder-2,7-liter-Hilux het oorgenoeg woema om by die voorjaers te bly – en hulle te klop.
Hy het die verlede jaar male sonder tal bewys toe hy en sy navigator, Chris Birkin, in die meeste van die reeks se agt byeenkomste ver voor die hele Klas D-renveld oor die wenstreep is. Hulle was ook een van net ’n handjie vol spanne wat al agt byeenkomste in 2003 voltooi het.
Gavin Cronjé sal munt slaan uit die ervaring van die veelvuldige navigatorskampioen Robin Houghton, wat verlede jaar in die warm sitplek langs Apie Reyneke in hul Klas T-Castrol Land Cruiser gesit het. Gavin en Robin jaag in ’n nuwe Klas E-Castrol Hilux 2700i soortgelyk aan die bakkie waarin Mark verlede jaar sy klas gewen het.
Al twee dié nuwe Hilux-bakkies is deur Toyota se eie tegnici by Toyota Motorsport se werkswinkel in Sandton ontwerp en gebou.
Mark Cronjé se pogings in Klas D sal gesteun word deur dié van nog ’n ervare rensteljaer, Paolo Piazza-Musso, wat ook hope ondervinding in ’n verskeidenheid tydren- en veldren-voertuie agter sy naam kan skryf. Rod Hering sal langs Piazza-Musso inskuif.
Gavin Cronjé word in Klas E gesteun deur die KwaZulu-Natalse veldrenpaar Zane Pearce en Hennie Vosloo in ’n drieliter-Hilux turbo diesel nadat hulle verlede jaar in ’n Ford Ranger turbo-diesel in dieselfde klas gejaag het.
’n Aantal private jaers sal ook vanjaar in Toyota-veldrenvoertuie te sien wees.
Die gewese Klas E-kampioene Hugo de Bruyn en sy pa, Jaap, jaag in Mark Cronjé se 2003-kampioenskapsbakkie, die Klas E-Hilux 2700i 4×4, terwyl Chris Visser en Japie Badenhorst die vorige De Bruyn-Hilux gekoop en vir die 2004-seisoen voorberei het.
Die bekende veldrenjaers Cliff en Louis Weichelt sal ook in ’n Klas D-Hilux jaag, maar hul voertuig word aangedryf deur ’n Australiese V6-enjin van 3,4 liter. Dié soort voertuig word wel toegelaat omdat die reëls bepaal dat enige volume-vervaardigde produksievoertuig wat in enige land ter wêreld gebou word, plaaslik mag jaag – solank verkoopsvolumes groot genoeg is.
Die veldren-egpaar Marius en Tracey van Vuuren sal nou hul Land Rover-uitrustings wat hulle tot verlede jaar gedra het, vir Toyota-motorsportdrag verruil en jaag in ’n nuwe Klas E-Hilux 2700i wat geborg word deur N1 4×4 en Bosal.
Die gewese Kassie Coetzee-Hilux KZ-TE turbo-diesel is deur die private jaers Hein Moolman en Cecil Fincham oorgeneem.