Goeie voorsiening sal vir toeskouers wat die Sun City 400, die sesde ronde van die SA Veldrenkampioenskap wat deur Absa aangebied word en op 26 en 27 September plaasvind, gaan bywoon, gemaak word.
Die byeenkoms-organiseerders, Off Road SA, het ‘n kompakte 130 km-roete wat tog uiters veeleisend gaan wees, in die Pilanesberg-omgewing uitgelê en deelnemers sal dié sirkelrondte drie keer moet voltooi.
Toeskouers sal heelwat geleentheid gebied word om die aksie van agt gunstige posisies wat duidelik oral op die roete geïdentifiseer is, te beleef en die verste wat hulle van die Sun City Sportkompleks, die begin- en eindpunt, hoef te ry indien hulle na die verste toeskouerpunt wil gaan, is 25 km.
“Ons het uit ons pad gegaan om die beste uitsigpunte naby aan Sun City aan die toekouers te voorsien,” het die ren-organiseerder, Adri Roets, gesê. “Twee van die toeskouerpunte is op ‘n grondpad van ‘n goeie gehalte terwyl die ander punte op teerpaaie geleë is.”
“Nóg ‘n voorbeeld van hóé kompak die Sun City 400-roete is, is die feit dat enigiemand wat die voorlopers wil volg, net 48 km vanaf Sun City en weer terug hoef te ry,” het Roets bygevoeg. “Al wat ons vra, is dat toeskouers en diensspanne uiters versigtig vir voetgangers en diere sal wees, veral wanneer hulle deur klein dorpies moet ry, en ook as hulle op die grondpad ry. Dit is net 15 km lank, maar ons verwag dat dit baie stowwerig gaan wees.”
Die aksie, wat na verwagtig vinnig en verwoed gaan wees, begin op Vrydag, 26 September om 13:00 met ‘n 40 km-voorren wat die wegspringposisies vir die hoofren sal bepaal. Die hoofren begin op Saterdag, 27 September om 08:00 en die eerste voertuig word ongeveer 13:00 terugverwag.