Hannes Grobler en Francois Jordaan het hul met eerste oorwinning van die 2005 Absa-Veldrenkampioenskap weggeloop toe hulle eerste oor die Nissan-handelaars 400 se wenstreep gestorm het nadat hulle, behalwe vir die eerste 15 minute, die voorlopers tydens dié ren was.
Tweede oor die wenstreep was die wenners van die Spesialevoertuigkategorie, Terence Marsh en Michael Whitehouse in die Nashua Mobile-BAT Spec-1. Dié span klop al geruime tyd aan die wendeur en is baie in hul skik met hul debuutoorwinning.
Die KwaZulu-Natal-span, Will Battershill en Reg Sutton, het hul Klas A-debuut in Marsh se vorige Jimco gemaak en het ’n afgeronde vertoning gelewer deur van die 10de posisie tot die derde plek algeheel en tweede in die Spesialevoertuigkategorie te eindig. Die tweemalige Nissan-handelaars 400-wenner, Atang Makgekgenene en Buks Carolin (Total-Jimco) het tot die halfpadmerk op die tweede rondte voorgeloop, maar moes stop om ‘n pap band te vervang. Dit het hulle 11 minute en ‘n moontlike derde agtereenvolgende oorwinning gekos. Die huidige Spesialevoertuigkampioene moes met die vierde plek algeheel en derde in die Spesialevoertuigkategorie tevrede wees.
Nóg ’n KwaZulu-Natal-span, Manfred Schröder en Alec Harris in die Span Ford Racing Ranger V6 het die oorhand oor hul Klas D-mededingers, Mark Cronje en Chris Birkin in die Castrol-Toyota Hilux 2,7i gehad en het hul tweede agtereenvolgende Klas D-oorwinning vir die seisoen aangeteken. Die twee opposisiespanne het onderskeidelik tweede en derde in die Produksievoertuigkategorie geëindig.
Sewende algeheel en vierde in die Spesialevoertuigkategorie was Ernest Corbett en sy skoonseun, Warwick Goosen, wat ook met die Klas B-oorwinning in hul Century Property Developments-BAT weggeloop het. Hulle was in ’n renlange stryd gewikkel met die Klas B-wenners van die Nissan-Sugarbelt 400, Evan Hutchison en Trevor Ormerod (Motorite Racing-BAT), wat naby aan die einde van die ren probleme met die brandstofreëlaar ontwikkel het en die einstreep in die 20ste posisie algeheel en 10de in die Spesialevoertuigkategorie bereik het.
Gavin Cronje en Robin Houghton het 18de in die Castrol-Toyota Hilux 2,7i begin en agtste algeheel klaargemaak terwyl hulle die vierde posisie in die Produksievoertuigkategorie en die derde in Klas D tydens hul eerste besoek aan die Wes-Kaap behaal het. Hulle het vyf minute verloor deur te stop om die windskerm skoon te maak nadat die smeltdraadjie van die ruitveërmotor uitgebrand het en later het hulle nóg vyf minute verloor toe hulle in die dik sand vasgeval het en deur Chris Visser uitgesleep moes word.
Die pa en seun, Robert en Gareth Wark, het vyfde in die Superpave-Chenowth begin, maar het teruggesak en negende algeheel en vyfde in die Spesialevoertuigkategorie klaargemaak terwyl Giel Nel en Peter Newberry, wat 26ste in die LUK/Ate-Zarco Lite weggespring het, 10de algeheel en sesde in die Spesialevoertuigkategorie was.
Chris Visser en Japie Badenhorst het ’n probleemvrye ren in die Tyco Trucks-Toyota Hilux 2,7i beleef en het Klas E gerieflik voor die huidige Klas E-kampioen, Hugo de Bruyn, wat sonder sy navigator-pa, Jaap, deelgeneem het nadat dié voedselvergiftiging opgedoen het, opgeraap. De Bruyn het 15de begin, maar het tydens die eerste rondte na die 25ste posisie teruggeval nadat die kragstuur van sy Castrol-Toyota Hilux 2,7i die gees gegee het. Vinnige optrede deur die Toyota-diensspan het gesorg dat hy weer kon voortjaag en hy het sy pad tot die sesde plek in die Produksievoertuigkategorie oopgeveg.
Die Durbaniete, Zane Pearce en Hennie Vosloo, het hul Castrol-Toyota 2,7i in die sewende plek in die Produksievoertuigkategorie en derde in Klas E by die einde aangebring en is oor die eindstreep gevolg deur die Polokwane-broers, Jurie en André du Plessis in die Klas D-BB Auto-Nissan Hardbody.
Die Barmhartige Samaritane, Rudi en Pierre van Graan, het Baphumze Rubuluza en Khulile Vakalisa in die Span Ford Racing Ranger asook hul Zarco Lite-spanmaats, John Thomson en Clinton McNamara uit die rivierbed gehelp en het sewende in die Spesialevoertuigkategorie en tweede in Klas B in die Technochair-Zarco Lite geëindig.
Die egpaar, Marius en Tracey van Vuuren, in die Bosal N1 4×4-Toyota Hilux 2,7i, het 16de klaargemaak – negende in die Produksievoertuigafdeling en vierde in Klas E.
Swaziland se John Thomson en Clinton McNamara (Mormond-Zarco Lite) en die broers, Hendrik en Louis Fourie (Zarco Lite) was agtste en negende onderskeidelik in die Spesialevoertuigkategorie terwyl die broers, Mark en Stuart Moffat, 19de algeheel en 10de in die Produksievoertuigkategorie in hul betroubare Bosal N1 4×4-Land Rover geëindig het.
Evan Hutchison en Trevor Ormerod (Motorite Racing-BAT) was 20ste algeheel en 10de in die Spesialevoertuigkategorie terwyl David White in die ex-Giel Nel-Truggy die laaste deelnemer in die Spesialevoertuigafdeling was waar hy 11de klaargemaak het en die sesde plek in Klas B ingeneem het.
Die laaste drie plekke in die veld is deur Produksievoertuigspanne ingeneem. Henri Zermatten en Bodo Schwegler was 11de algeheel en sesde in Klas D in die Mastercraft/Ryobi-Mitsubishi en is gevolg deur pa en seun, Dirk Snr en Dirk Jnr van Reenen in die Klas E-Savannah-Ford Ranger en Span Ford Racing se Baphumze Rubuluza en Khulile Vakalisa in die Klas E-Ford Ranger.
Van die onttrekkings sluit die Nissan-Sugarbelt 400-wenners, Gary Bertholdt en Siegfried Rousseau in die Advansoft-BAT in. Hulle het die vinnigste tyd in die voorren opgestel en het vir die eerste 13 km voorgeloop totdat ’n regop bout links voor gebreek het en die voertuig tussen die bome ingeslinger is waartydens die onderstel groot skade opgedoen het.
Alfie Cox en Ralph Pitchford was vir die grootste gedeelte van die ren tweede in die Trots Suid-Afrikaanse Nissan Hardbody, maar was net voor die einde verplig om te onttrek as gevolg van dryfstelselprobleme.
Die wenners van die 2004-Lesotho Sun 400, John Weir-Smith en Geoff Minnitt in die Kopanong Hotel Superteam-Jimco, het 41ste weggespring en was na die eerste rondte in die 10de posisie algeheel, maar ’n elektriese kortsluiting het die bedradingstring gesmelt en hulle verplig om te onttrek.
Shameer Variawa en VZ van Zyl het ’n frustrerende eerste rondte ondervind waartydens hulle met ’n foutiewe kragstuur moes sukkel. Nadat hul Total-Porter deur ’n heining geploeg het, het drade met die remknyper en die konstantesnelheidkous links agter deurmekaar geraak en hulle het aan die einde van die eerste rondte meer as ’n uur in die kuipe spandeer sodat die nodige herstelwerk uitgevoer kon word. Ongeveer 20 km na die aanvang van die tweede rondte het die kragstuur finaal die gees gegee en hulle moes die handdoek ingooi.
Bevan Bertholdt en Nick Selamolela het met hul Itec-BAT Spec-1 in die rivierbedding vasgeval wat ’n groot verkeersknoop veroorsaak het. Nadat hulle uitgesleep is, het hulle voortgegaan, maar ’n klein rots getref wat die veringstelsel beskadig het.
Arnold du Plessis en Johan Knox het ’n goeie voorren gehad en agtste algeheel en derde in Klas D met hul BB Auto-Nissan Hardbody begin, maar hulle was verplig om na die eerste 50 km van die hoofren as gevolg van ’n stukkende ratkas toeskouers te word.
Topcar-tydskrif se besturende redakteur, Deon Schoeman en Jan Sime, was vir ’n Klas D-podiumposisie in die Topcar/Autopage/Du Pont-Hardbody oorgehaal toe hulle drie kilometer na die aanvang van die laaste 115 km-ronde deur ’n gebreekte mikkoeëlgewrig gekniehalter is.
Coetzee Labuschagne en Johan Gerber in hul Raysonics-Nissan Hardbody het agter begin nadat ’n klepseël platgeval het en ’n stukkende suier hulle verhoed het om die voorren te begin. Hulle het ’n gebruikte enjinblok in Malmesbury gekoop en tot vyfuur Saterdagoggend gewerk om die voertuig vir die ren gereed te kry. Lae oliedruk tydens die eerste rondte is deur ’n waarskuwingsklank van ’n kloppende laer gevolg en hulle is verplig om net na die aanvang van die tweede rondte tou op te gooi.
Dit was Thomas Rundle en Stavros Yiannakis se tweede ren in die nasionale kampioenskap, maar hulle het ’n frustrerende naweek beleef. Hulle het die Klas E-Barden Tyre Services-Nissan Hardbody se dryfas tydens die voorren gebreek, maar hulle het ’n nuwe een by die Topcar-Nissan-span geleen en ’n goeie lopie gehad totdat hulle die verdeler in ’n diep waterkruising 10 km voor die einde van die tweede rondte verdrink het.
Amptelike Produksievoertuigkategorie-uitslae:
1 Hannes Grobler / Francois Jordaan (Nissan) 04:33:07 2 Manfred Schröder / Alec Harris (Ford) 05:09:00 3 Mark Cronje / Chris Birkin (Toyota) 05:12:35 4 Gavin Cronje / Robin Houghton (Toyota) 05:21:38 5 Chris Visser / Japie Badenhorst (Toyota) 05:26:57 6 Hugo de Bruyn (Toyota) 05:34:05 7 Zane Pearce / Hennie Vosloo (Toyota) 05:47:13 8 Jurie du Plessis / Andre du Plessis (Nissan) 05:51:59 9 Marius v Vuuren / Tracey v Vuuren (Toyota) 06:07:40 10 Mark Moffat / Stuart Moffat (Land Rover) 06:38:14 11 Henri Zermatten / Bodo Schwegler (Mitsubishi) 06:48:25 12 Dirk van Reenen / Dirk van Reenen Jr. (Ford) 06:58:10 13 Baphumze Rubuluza / Khulile Vakalisa (Ford) 08:50:23
Amptelike Spesialevoertuigkategorie-uitslae:
1 Terence Marsh / Michael Whitehouse (BAT Spec-1) 04:48:43 2 Will Battershill / Reg Sutton (Jimco) 04:54:32 3 Atang Makgekgenene / Buks Carolin (Jimco) 04:56:16 4 Ernest Corbett / Warwick Goosen (BAT) 05:21:01 5 Robert Wark / Gareth Wark (Chenowth) 05:23:06 6 Giel Nel / Peter Newberry (Zarco Lite) 05:23:45 7 Rudi v Graan / Pierre v Graan (Zarco Lite) 05:56:31 8 John Thomson / Clinton McNamara (Zarco Lite) 06:16:19 9 Hendrik Fourie / Louis Fourie (Zarco Lite) 06:34:52 10 Evan Hutchison / Trevor Ormerod (BAT) 06:39:29 11 David White (Truggy) 06:46:38
Die Absa-Veldrenkampioenskap mik volgende vir Botswana waar die Toyota 1000-Woestynren vanaf 3 tot 5 Junie 2005 plaasvind