SA VELDRENKAMPIOENSKAP… AANGEBIED DEUR ABSA
Die Toyota-Handelaars 400, die voorlaaste ronde van die SA Veldrenkampioenskap wat deur Absa aangebied word, sal op 24 en 25 Oktober in die Lydenburg-gewing plaasvind en het inskrywings van verskeie bekende name in die beide die Produksie- as die Spesiale Voertuigkategorieë getrek.
Dit sal die eerste keer wees dat ‘n nasionale veldrenkampioenskapbyeenkoms in Mpumalanga plaasvind en spanne kan ‘n uitdagende roete in die omgewing van die Kwena-kom, ongeveer 60 km buite Lydenburg, verwag.
Alle oë sal op die naelbytstryd in die Produksievoertuigkategorie gerig wees waar fabriekspanne van Ford, Nissan en Toyota in Klas E en Klas T teen mekaar meeding.
Nissan het die kampioenskap oorheers met Hannes Grobler en Richard Leeke wat vyf van die ses byeenkomste gewen het en Giniel de Villiers en Francois Jordaan – hulle sal nié aan dié ren deelneem nie – wat een byeenkoms in hul Klas T-Trots Suid-Afrikaanse Nissan Hardbody-bakkie gewen het. De Villiers en Jordaan sal in die Nissan Hardbody-span aan die UAE Woestynuitdaging in Dubai deelneem.
Grobler en Leeke het ‘n ongelooflike seisoen beleef en sal die gunstelinge wees om die Toyota-Handelaars 400 algeheel te wen. Hul spanmaats, Duncan Vos en Mike Griffiths, het egter hul kragtiger Klas T-Nissan begin verstaan nadat hulle aan die begin van die seisoen van Klas D opgeskuif het en het bewys dat hulle ook vir die voorloperposisie kan baklei.
Die voormalige Produksievoertuigkampioene, Neil Woolridge en Kenny Skjöldhammer (Ford Racing Ranger) het ‘n paar meganiese probleme ondervind en kon nog nie dié seisoen ‘n ren wen nie. Hulle het na ‘n groot bedreiding vir die Sun City 400-wenners, Grobler en Leeke, gelyk toe hulle tot so naby as 90 sekondes aan dié span gekom het, maar die kragstuur het toe die gees gegee en hulle moes as gevolg van ‘n stukkende battery die handdoek ingooi. Woolridge is vol vertroue dat die voertuig net so vinnig soos die Nissans is en dat hy kan wen – ás hulle nie probleme ondervind nie.
Apie Reyneke en Robin Houghton se Castrol-Toyota land Cruiser se hantering is uiteindelik uitgesorteer en die span het tydens die onlangse Sun City 400 óók bewys dat hulle vinnig genoeg is om die alles-oorheersende Nissans aan te vat. ‘n Stukkende ratkas – die tweede van die seisoen – het hulle tydens die laaste byeenkoms van ‘n podiumposisie beroof.
Daar sal ‘n ander jaer in die privaatingeskrewe Klas T-Atlas Copco/Chicago Pneumatic-Jeep wees. Scott Abraham is nou in Duitsland en sy plek langs sy navigator, Richard Carolin, sal tydens die Toyota-Handelaars 400 deur die veteraan, Stratford Voogt, ingeneem word. Voogt het baie ondervinding en het die Jeep ‘n paar jaar gelede al met jaers soos Sarel van der Merwe, Paolo Piazza-Musso en Arthur Abraham gedeel.
Die pas en betroubaarheid van die Klas E-spanne het ‘n ieder en elk vanjaar verras en die nuweling, Mark Cronje en Chris Birkin (Castrol-Toyoa Hilux 2700i) is ernstige aanspraakmakers op die algehele kampioenskapstitel nadat hulle reeds na drie renne die derde plek algeheel bekleë het en Klas E al vier keer gewen het.
Hul spanmaats, Kassie Coetzee en Ockie Fourie (Castrol-Toyota Hilux KZ-TE) het bestendige resultate gelewer wat ‘n klasoorwinning tydens die Oven Fresh Biscuits 500 insluit en daar kan op hulle gereken word om onder die voorste spanne te eindig.
Dit sal egter nie so maklik vir die Castrol-Toyota-spanne wees nie, want Manfred Schröder en Jack Peckham (Ford Racing Ranger), die man- en vrou-span, Neels en Zelda van der Walt (Nissan Hardbody) en die broers, Jurie en André du Plessis (BB Auto-Nissan Hardbody) het al bewys dat hulle ook die pas van die Toyotas kan handhaaf.
Inskrywings in die kragtiger Klas D dié seisoen was teleurstellend. Rekords het bewys dat Klas D-voertuie wat met sessilinder-enjins toegerus is, sonder uitsondering op die podium geëindig het, maar kon dié seisoen nie by die pas van die tweeliter-Klas E-voertuie hou nie.
Die mededinging in die Klas D was egter steeds straf met die vier GBS Nissan Racing-spanne wat die pas aangee. Die voormalige kampioene, Hein Grobler en Gerhard Prinsloo het die klas tydens die Sun City 400 gewen en is ondersteun deur Coetzee Labuschagne en Johan Gerber wat derde klaargemaak het. Hul spanmaats, MC Coetzee en Marius Liebenberg, is vinnig genoeg, maar nie bestendig nie en het sake oordoen toe hulle tydens die Sun City 400 gerol het terwyl JP en Linda Augustin deur klein meganiese probleempies gepla word.
Die nuwelinge, Arnold du Plessis en George Baker (Produkta-Nissan Hardbody) het goed aangepas en tweede in die klas tydens die Sun City 400 klaargemaak. Deon Schoeman en Jeremy Fall (Topcar Racing-Nissan Hardbody) is ook ‘n bedreiging en so ook die Queen Motor Spares-Tarka 400-wenners, Cliff en Louis Weichelt in die N1 4×4-Toyota Land Cruiser.
Die voormalige Klas D-kampioene, Piet Haasbroek en Freddie Scheepers, was tydens elke ren op een of ander stadium voor in die klas, maar veringstelselprobleme asook probleme met die dryfstelsel van die Castrol-Toyota Land Cruiser het veroorsaak dat hulle slegs drie van die ses renne tot dusver kon voltooi.
Die Toyota-Handelaars 400 begin op Vrydag, 24 Oktober om 13:00 met ‘n voorren van 36 km wat die wegspringvolgorde vir Saterdag se hoofren sal bepaal. Die voorren begin en eindig by die Badfontein Boeresaal by die Kwena Dam.
Die simboliese begin van die hoofren sal op Saterdag, 25 Oktober om 07:30 van Lydenburg Toyota op die hoek van Voortrekkerstraat en Langestraat wees en die spanne sal dan na die Lydenburg-lughawe beweeg waar die ren om 08:00 behoorlik sal begin. Die spanne sal in die rigting van die Kwena-kom beweeg vir ‘n 120 km-gedeelte wat hulle slegs een keer sal jaag waarna hulle ‘n 120 km-sirkelroete twee keer moet voltooi voordat hulle by die Badfontein Boeresaal sal eindig.
Die eerste span word teen 13:30 by die einde verwag.